Boer doodgeskiet toe hy rowers agternasit

(Argieffoto: Anja van der Merwe)

ʼn Boer van Noordwes is Vrydagaand doodgeskiet nadat lede van die plaaslike buurtwag gemobiliseer is ná ʼn rooftog op ʼn plaas in die omgewing.

Die buurtwag is ontbied nadat ʼn groep van omtrent vyf mans gisteraand ʼn plaaswerker op ʼn plaas buite Zeerust van sy besittings beroof het. “Inligting oor die voorval is op die plaaslike WhatsApp-groep gedeel en lede van die buurtwag is na die betrokke plaas om hulp aan te bied,” sê Sarel Pretorius, Agri-Noordwes se voorsitter van veiligheid en ook ʼn lid van die gemeenskap.

Een van die boere wat sy hulp aangebied het, was Pieter van der Westhuizen, ʼn oudpolisieman tussen 60 en 70 jaar oud.

“Op pad na die plaas, op die Rietvalleipad, het ʼn verdagte bakkie van voor af verby die motor gery waarin Van der Westhuizen en nog ʼn lid van die buurtwag gery het. Hulle het omgedraai en die bakkie agternagesit om te sien waarheen hy ry. Die bakkie het gestop en ons ouens het agter die bakkie stilgehou,” vertel Pretorius.

Pretorius is nie seker wat presies toe gebeur het nie, maar een van die verdagtes het ʼn skoot afgevuur en Van der Westhuizen in die been getref. Die skietery het ná 22:00 plaasgevind.

Van der Westhuizen kon terugskiet en het een van die rowers gewond en nog een doodgeskiet. “Hy is na die hospitaal in Zeerust gevat en dokters het alles moontlik gedoen, maar ons het hom verloor.”

Volgens Pretorius is die boer wat saam met Van der Westhuizen in die motor was, erg getraumatiseer en ontvang hy tans berading by AfriForum se trauma-eenheid. “Ons ly almal maar aan skok, maar ons het verwag dit gaan een of ander tyd gebeur. Hier is dit nie ʼn kwessie van ‘of’ jy aangeval gaan word nie, maar ‘wanneer’.”

Die polisie in Noordwes het die voorval bevestig en gesê twee sake van moord word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.