Twee boere en vier plaaswerkers wat tereg staan op aanklag van moord se aansoek om borgtog is Maandag in die Vryburg-landdroshof in Noordwes toegestaan.
Frederik Scholtz jr. (26), Christo Scholtz (24), en vier plaaswerkers, Daniel Thameng (21), Moholo Katlego (29), Thamene Abel Phogisho (29) en Modisaotsile Links (26) is Maandag op borgtog van R1 000 elk vrygelaat.
Kol. Adéle Myburgh, woordvoerder van die polisie, het dié inligting Maandag aan Maroela Media bevestig.
Dié ses word saam met Frederik Scholtz, die pa van Frederik jr. en Christo, aangekla van die moord op die 56-jarige Ben Molwele. Scholtz sr. (59), wat aan emfiseem ly, is reeds tydens ’n vorige verskyning op waarskuwing vrygelaat weens sy swak gesondheid.
Die sewe word aangekla in verband met ʼn voorval waartydens Molwele verdwyn het ná hy glo ontvoer is, het Myburgh vroeër gesê.
Molwele se familie het hom op 17 Januarie vanjaar by die Stella-polisiestasie as vermis aangemeld.
“Volgens die inligting wat ontvang is, het plaaswerkers Molwele en twee ander persone agternagesit ná hulle in ʼn stoorkamer op ʼn plaas betrap is. Na bewering is die boere ontbied toe Molwele gevang is. Daar word ook beweer dat Molwele aangerand, in ʼn voertuig gelaai en langs die N18 afgelaai is,” het Myburgh voorheen aan Maroela Media gesê.
Molwele se liggaam is Sondag 10 Februarie omstreeks 10:00 langs die N18, ongeveer 20 km buite Stella, gevind ná ʼn grootskaalse soektog deur verskeie polisie-eenhede. “Beamptes het die beskuldigdes in hegtenis geneem kort ná Molwele se liggaam gevind is.”
Die beskuldigdes sal weer op 15 Mei in die hof verskyn.
Volgens nuus 24 het die staat nie juis n saak nie
Wie kan onthou van die saak waar in boer beskuldig is van moord, waar die sogenaamde vermoorde se liggaam nooit gekry is nie, Weet iemand wat het toe hiervan geword het?
.