Boere verloor glo miljoene oor vrotsigheid by Jhb-mark

Argieffoto (Foto: DEZALB, Pixabay)

Gautengse boere wat hul produkte by die Johannesburg-varsproduktemark verkoop, verloor miljoene rand omdat die mark glo nie genoeg koelkamers het nie en dit ook nie behoorlik funksioneer nie.

Boonop is die piesang-rypmaakkamers ook nie ten volle funksioneel nie en handelaars moet nou noodgedwonge – en teen ʼn reusekoste – hul eie rypmaakkamers aanskaf.

Bronwynn Engelbrecht, die DA se woordvoerder oor landbou en landelike ontwikkeling in Gauteng, sê dié skokontdekking is tydens ʼn onlangse oorsigbesoek aan die mark gedoen.

“Dit het ook aan die lig gekom dat die mark vir twee weke in November verlede jaar sonder krag was en dat dit sedertdien byna ʼn daaglikse gebeurtenis geword het. Dit veroorsaak groot verliese, veral vir die boere.

“Die mark vergoed boere en handelaars wel vir hul verliese, maar net vir verliese aan voedsel wat in die koelkamers gestoor is. Geen vergoeding word uitbetaal vir enige ander verliese aan groente of vrugte weens ventilasie- en lugversorgingseenhede wat nie werk nie,” sê Engelbrecht.

Vuil etileenhouers wat gebruik word om piesangs ryp te maak (Foto: Verskaf)

Een handelaar het ʼn skadevergoedingseis van R6 miljoen teen die Johannesburgse metroraad ingedien. Of hy ooit ʼn sent daarvan gaan sien, is onbekend.

“Die DA stel voor dat die Johannesburg-metro en die Gautengse departement van landbou en landelike ontwikkeling dringend ingryp om te verseker dat die bestuur van die Johannesburg-varsproduktemark voldoende toegerus is met hulpbronne en dat koelkamers gereeld in stand gehou word.

ʼn Gebreekte deur van ʼn rypmaakkamer (Foto: Verskaf)

“Verder is daar ʼn behoefte om ʼn tegnologiese ruimte te skep vir vars produkte om vinnig en met gemak bemark en verwerk te word,” sê Engelbrecht.

Sy sê die DA sal skriftelike vrae in die Gautengse Provinsiale Wetgewer (GPL) aan Mbali Hlophe, LUR vir landbou en landelike ontwikkeling, en Tasneem Motara, LUR vir ekonomiese ontwikkeling, voorlê om te bepaal watter maatreëls ingestel is om te verseker dat die mark behoorlik funksioneer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hendrik ·

Dit is onmoontlik om jou voor te stel in watter haglike toestand die land binne n week sal wees as die blanke hom onmiddellik volledig sal onttrek.

Andre ·

…daar is geen politieke voordéel vir die A en C nie, dus ignoreer hulle net die probleem.

Jannie ·

Genade, is die spul dan nou heeltemal onkapabel om enigiets in stand te hou of voort te bou????
Een van die dae is ons net nog ‘n verlepte Zimbabwe

Henker ·

Wats fout met die foto. Die 4 mure staan nog, daar is nog darem 1 lig wat werk. En nog 1 deur wat op sy skarniere hang. Nie nodig vir maintenance nie. Die struktuur is nog nie heeltemal uitgedien nie. Dan eers sal ons begin goed vervang/regmaak wat effdup is- tong in die kies.

Gaitsigubib ·

Willem alles kan mos maar verval dan voer mens mos net in? Dis hoe jy voel oor die hoender bedryf, so wat is nou hier anders? Wanneer die rand dan val, soos wat binnekort die geval gaan wees, dan kan jy verduidelik met wat se geldeenheid die 35% werklose mense kos moet invoer, jy verstaan mos die bedryf?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.