Boewe slaan toe terwyl vrou bid

(Foto: Dall-E)

Vyf verdagtes wat Maandag op ʼn huis in Stanwest in Standerton toegeslaan en later dieselfde dag ʼn Nissan Tiida gekaap het, het kort daarna met die hulp van die polisie, veiligheidsmaatskappye en ander inwoners van die buurt hul rieme styfgeloop.

Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, sê die verdagtes het glo ‘n geruime tyd by die huis gewag voor hulle omstreeks 09:45 toegeslaan het.

“ʼn Bejaarde vrou was in dié tyd in haar huis besig om te bid toe sy die huiswerker skielik hoor skree en een van die verdagtes in haar erf deur die venster gewaar het.

“Sy het haarself en ander familielede daarna in een van die kamers toegesluit en die polisie gebel,” sê Mohlala.

Volgens Mohlala het die verdagtes ʼn skootrekenaar gesteel voordat hulle van die toneel gevlug het.

“Een van die inwoners in die buurt is ook van die voorval in kennis gestel. Sy het daarop gereageer en op die verdagtes afgekom. Hulle het glo ʼn vuurwapen op haar gerig en haar van haar voertuig, ’n Nissan Tiida, beroof.”

Volgens Shandre van der Heever, ‘n inwoner van Standerton en die dogter van die vrou wie se motor gekaap is, het die boewe ook drie skote afgevuur.

“Genadiglik was nie een raak nie, maar hulle het my ma uit die kar geruk en haar met ‘n vuurwapen oor haar kop geslaan voordat hulle in die motor weggejaag het.”

“Een van die inwoners – wat ook op die voorval reageer het – het na bewering ʼn kort ruk daarna een van die boewe raakgery.

Van der Heever sê die boef het egter nie beserings van die stamp opgedoen nie, maar is deur woedende gemeenskapslede daarna geskop, geslaan en selfs gebyt.

“Die polisie het hom eerste vasgetrek, waarna die ander vier boewe kort daarna in hegtenis geneem is.”

Volgens Mohlala het die samewerking tussen lede van die Standerton-polisie, veiligheidsmaatskappye en inwoners tot die vinnige inhegtenisneming van vyf verdagtes gelei. Hulle is tussen 31 en 45 jaar oud.

“Die polisie het tydens die inhegtenisneming op ʼn vuurwapen en ammunisie sowel as die motor wat in die roof gebruik is, beslag gelê.

“Die gekaapte voertuig is ook teruggevind,” sê Mohlala.

Die vuurwapen waarop beslag gelê is, sal ballistiese toetse ondergaan om te bepaal of dit in ander misdade gebruik is.

Volgens Mohlala kan bykomende aanklagte teen die verdagtes gevoeg word namate die ondersoek vorder.

“ʼn Klag van roekelose bestuur kan ook teen die verdagtes aanhangig gemaak word terwyl die ondersoek voortduur.”

Die vyf verdagtes sal na verwagting Woensdag op aanklag van motorkaping, die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie en gewapende roof in die Standerton-landdroshof verskyn.

Lt.genl. Semakaleng Manamela, provinsiale polisiehoof, het die inhegtenisnemings verwelkom en die samewerking met die gemeenskap en private sektor geloof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hendrik ·

Dit wil voorkom of die president se vrygespreektes en malema se gesang ernstige gevolge het.

Koos 100 ·

Borg van R500 gaan seker toegestaan word deur die hof, en dan verdwyn hulle net weer in die massas.

Karoo ·

En die duisende wat nog vry gelaat gaan word van die oorbevolkte tronke gaan binnekort op straat wees. Roben Eiland kan gerus weer inwerking kom, die toeriste is almal al moeg “gekyk” na ons verlede…. dis eerder die “hede” wat hulle nou ontstel.

Bolandse Nooi ·

“Samewerking tussen lede van die Standerton-polisie, veiligheidsmaatskappye en inwoners tot die vinnige inhegtenisneming van vyf verdagtes gelei”. Dit word duidelik dat die afwenteling van die polisiediens en spoorweë na provinsiale vlak uiters noodsaaklik is, want selde lees mens dat die SAPD sélf misdadigers aan kon keer; alte-dikwels is daar privaat veiligheidsmaatskappye en inwoners van ‘n buurt/dorp/stad eers betrokke voor resultate verkry word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.