Boorwerk vir gas en olie hervat naby George

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Pixabay)

Die oliereus Total sal teen einde Februarie boorwerk vir olie en gas hervat in die Brulpadda-kom in die see naby George nadat dit ’n ruk lank weens verskeie uitdagings stilgestaan het.

Die blye nuus is by ʼn mediakonferensie in Kaapstad aangekondig deur die minister van minerale en energie, Gwede Mantashe.

Tydens sy eerste staatsrede twee jaar gelede het pres. Cyril Ramaphosa gesê dat die vonds by die Brulpadda-kom die hele ekonomie van Suid-Afrika kan verander, en die hervatting van die boorwerk is dus ’n stap vorentoe.

Tydens die mediakonferensie het Mantashe ook ’n wye verskeidenheid ander aankondigings gedoen.

Oor stellings dat mynboubelasting verhoog kan word om in die te stigte soewereine welvaartfonds inbetaal te word, het hy gesê sy departement se mening is dat genoeg mynbou-opbrengste reeds by die staat se sentrale hulpbronnefonds inbetaal word.

Sy departement sal dus eerder by die tesourie aanbeveel dat sulke opbrengste oorgeplaas word na die soewereine welvaartfonds, en dat mynboubelasting nie verhoog word nie. Die finale besluit hieroor berus egter by die tesourie.

Volgens Mantashe sal die nuwe Wetsontwerp op die Petroleumbedryf geen omstredenheid bevat nie, want alles daarin is met die petroleumbedryf opgeklaar.

Regulasies vir munisipaliteite om elektrisiteit regstreeks van onafhanklike voorsieners (dus nie Eskom nie) te bekom, is amper voltooi. Mantashe meen dus sowel die huidige hofaksie van die Stad Kaapstad teen sy departement as die private-ledewetsontwerp bekend as die Wetsontwerp op Goedkoper Elektrisiteit wat deur die DA-LP Natasha Mazzone ingedien is, is onnodig.

Mantashe het bewerings dat die regering nie bykomende elektrisiteit wil aanvaar wat deur private voorsieners aan hulle aangebied word nie, as leuens verwerp.

“Ek hoor en lees oral oor hierdie aanbiedinge, maar ek sien niks nie en sien is glo. Ek stel dit reguit: Geen aanbod is deur my departement ontvang nie. Die bewerings is oëverblindery,” het Mantashe gesê.

Hy voer aan PetroSA hoef nie te sluit as Mossgas eersdaags uitgeput is nie, maar kan uitgebrei word om die land omvattender te dien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Strandloper ·

So blyTotal doen dit en nie die staat nie…imagine duisende hose pipes herlei land toe na al wat pandok is….

Johan Venter ·

As ek reg het, is die yslike fonds in die Brulpadda-kom tot ‘n paddavissie afgeskaal. Die manne moet nou net nie gaan stilsit en alle verwagtinge op hierdie uitslag plaas nie. Dan het ekonome die afgelope week ook al gesê hierdie wonderwerk van ‘n ‘soewereine’ welfaartsfonds (mooi naam wat lekker op die tong val op pad na die pot goud aan die anderkant van die reënboog) is nie haalbaar nie, net weer ‘n Cyril vergesig wat hulle nou wind probeer gee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.