Borgtog vir sewe Chinese aangekla van mensehandel

(Foto: Unsplash)

Borgtog is ná ʼn maande lange hofstryd toegestaan aan sewe Chinese burgers wat in November al in hegtenis geneem en van mensehandel en die oortreding van die Suid-Afrikaanse arbeidswetgewing aangekla is.

Landdros Basimane Molwana het in die borgtoguitspraak gesê almal, Suid-Afrikaners en buitelanders, is gelyk voor die reg en dat die beskuldigdes die reg het om in die uitgerekte borgtogaansoek hul saak te stel.

Molwana was ook nie beïndruk dat die beskuldigdes maande ná hul inhegtenisneming steeds nie ʼn klagstaat ontvang het nie.

Kevin Tsao, Chen Hui, Qin Li, Jiaqing Zhou, Ma Biao, Dai Junying en Zhang Zhilian het in November vir die eerste keer aansoek om borgtog gedoen. Die aansoek is in Maart van die hand gewys en in Mei het die landdros bevind daar is gronde vir die verdediging om ʼn tweede aansoek in te dien, het die departement van arbeid Woensdag gesê.

Molwana het bevind hoewel Covid-19 nie nuwe feite is nie, is die afsonderingstydperk wel nuwe gronde om vir borgtog aansoek te doen.

Tsao is vrygelaat op borgtog van R70 000 en mag sy huis net op Maandae, Woensdae en Vrydae verlaat. Hy het ʼn hangende saak teen hom in die Alexandra-landdroshof.

Hui is vrygelaat op borgtog van R50 000 en het reeds ʼn vorige veroordeling.

Die ander beskuldigdes is op borgtog van R30 000 elk vrygelaat.

Die sewe is verlede jaar in Johannesburg in hegtenis geneem vir hul vermeende betrokkenheid by ʼn onwettige onderneming genaamd Beautiful City Pty Ltd wat uit City Deep in Johannesburg bedryf is.

Die vier mans en drie vroue is op 12 November in ʼn gesamentlike operasie tussen die departement van landbou, die polisie, die Valke en die departement van binnelandse sake aangekeer ná ʼn wenk dat hulle onwettige immigrante na Suid-Afrika laat smokkel en hulle hier dwing om te werk.

Altesaam 91 Malawiese burgers, onder wie 37 kinders, is tydens die optrede in die fabriek aangetref. Die Malawiërs is glo in vraghouers na Suid-Afrika gesmokkel deur ʼn middelman wat steeds op vrye voet is.

Volgens die departement het die fabriek die katoenbinnekant van duvets van herwinde klere vervaardig.

“Na bewering het die maatskappy se bedrywighede agter geslote staalhekke plaasgevind en toegangsbeheer is streng afgedwing. Werkers is glo ook blootgestel aan afgryslike werksomstandighede terwyl daar nie aan beroepsveiligheid- en gesondheidstandaarde voldoen is nie,” het die arbeidsdepartement gesê.

Volgens die staat kan aanklagte teen die beskuldigdes insluit mensehandel, oortredings van immigrasiewetgewing, skuldbinding [wanneer ʼn persoon se dienste verkoop word as sekuriteit vir die terugbetaling van skuld of ʼn ander verpligting], ontvoering en die rig van ʼn vuurwapen.

Die staat gaan na verwagting appelleer teen die uitspraak.

Die beskuldigdes moet weer op 7 Augustus in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Suzette ·

My vraag is net hoekom kry hulle borgtog? Hulle gaan net tussen neus en ore verdwyn.

Barbara ·

Hoe in die lewe kry sulke misdadegers borg. Hul ontvoer en verkoop ons SA kinders. ???????????????

Johann ·

Wat? So DIS hoe vêr die ANC se verhouding met die Chinese gaan? Onmenslike gewetenlose gedrag wat beloon word met onaantasbaarheid? SIEK! Waar is Ramaposa en sy gewetens toespraak oor vroue en kinder mishandeling?????????

Kokerboom ·

As Afrika se leiers se oë net wil oopgaan tov Chinese. Ongelukkig praat geld harder as die reg

Realis Thailand ·

Ek weet nie of mense net eenvoudig dom is of geen kennis van die wet het
Om aangehou te word is om jou teenwoordigheid in die hof te verseker
Jy word nie aangehou om jou te straf nie. Borgtog het dieselfde doel
Dit straf word bepaal die voorsittende beampte na die beskuldigdes skuldig bevind word .
Waarom die mense aanhou as hulle waarborge kan verskaf.
As ek die berig reg lees het hulle Malawiers ingesmokkel wat ook die malawiers skuldig gemaak het aan n oortreding
Is hulle aangehou of op borgtog vrygelaat.
Daar word nerens van “ons kinders” geskryf nie

Realis Thailand

Jack ·

Ons land sit met onhanteerbare probleme en dan laat ons nog skelms van ander lande toe om hul kriminele bedrywe hier te vestig en uit te bou. Hierdie is slegs die oortjies van die seekoei. Te veel omkopery aan die gang en kriminele sal altyd hier floreer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.