Bosa ʼn ‘tuiste vir ontnugterde kiesers’ – Maimane

Die algemene verkiesing in 2024 is eintlik ʼn referendum oor die toekoms van die land. Dit is nie ʼn kompetisie tussen groot en klein nie, maar tussen oud en nuut.

Só sê Mmusi Maimane, leier van Build One South Africa (Bosa), wat vandeesweek lede van die Kaapstad-persklub toegespreek het.

Volgens Maimane, wat vanjaar al aan ʼn vierde verkiesing deelneem, het elke verkiesing ʼn tema en hy is opgewonde oor vanjaar se verkiesing.

“2011 was die toilet-verkiesing. Elke politieke party het iewers in die land ʼn stukkende toilet gesoek wat hulle kon regmaak. 2016 was natuurlik die Zuma-verkiesing en 2019 die post-Zuma/Cyril-verkiesing.” Tydens vanjaar se verkiesing, meen hy, gaan werkskepping die voortou neem. Die EFF het dan ook verlede naweek sommer 4 miljoen nuwe werksgeleenthede beloof, indien dié party aan bewind kom.

Maimane het in 2019 as parlementêre leier van die DA bedank en ook die party verlaat. In September 2022 het hy Bosa bekendgestel en sy voornemens om aan die nasionale verkiesing deel te neem, aangekondig.

Maimane sê ʼn opname wat hy laat doen het, wys sy party het reeds goeie vordering gemaak in Gauteng, die Oos-Kaap en Limpopo en verwag ongeveer 1,2 miljoen stemme tydens die nasionale verkiesing.

Maimane sê sy party bied ʼn tuiste vir ontnugterde kiesers wat nie meer ʼn heenkome het by die partye wat voorheen op die stembrief verskyn het nie.

Hy erken wel die grootste stryd wat hy voor die verkiesing sal moet voer, is handelsmerk-herkenning vir Bosa.

Volgens hom is Suid-Afrika se middelgroep van kiesers op soek na verandering. “Ons het ʼn gematigde visie; ons soek nie ʼn revolusie nie. Ontnugterde kiesers moet ʼn tuiste kry.

“Daar is ʼn middelgroep van Suid-Afrikaners wat na ʼn politieke tuiste op soek is – wat nie al die pad wil wegbeweeg van die ANC om by die Veelpartyhandves aan te sluit nie. Ons wil hierdie tipe kiesers betrek.”

Demokrasie wêreldwyd in gevaar

Maimane meen demokrasie is wêreldwyd in gedrang.

“As mens wêreldwyd 1 000 parlementslede bymekaarbring, sal 31% sosialiste wees en 38% sal diktatorskappe aanhang.”

Hy sê dit is duidelik dat ultra-polarisasie in ander lande plaasvind – sentristies-links of sentristies-regs – en daarom is gematigde politiek in Suid-Afrika baie goeie nuus.

Hy benadruk vir hom is dit nie ʼn stryd tussen swart en wit nie, maar swart en wit saam – om een voorspoedige land saam te bou, vandaar sy party se naam.

Maimane meen dit is juis ʼn goed funksionerende demokrasie wat die ANC nou op sy knieë dwing.

“Die ANC kla dat ‘faktore saamgesweer het teen hulle’. Nee, as jy nie jou werk doen en behoorlik regeer nie, dan het mense die reg om jou uit te stem. Dit is nie agteruitgang van bevryding nie, dit is juis die bevordering van demokrasie.”

Koalisies is die antwoord

Die onderskeie leiers van die sewe partye wat deel vorm van die Veelpartyhandves. (Foto: DA)

Vir Maimane is “verandering en ʼn koalisie wat werk” die beste uitkoms waarvoor hy kan hoop vir vanjaar se verkiesing.

Hy sê Bosa is opgewonde om in koalisie met ander partye saam te werk en meen dit is die oplossing vir die land se regering. “Kaapstad moes self eers deur ʼn koalisie van sewe partye bestuur word voor ons uiteindelik gekom het waar ons vandag staan.”

Alhoewel Bosa nie in hierdie stadium betrokke is by die Veelpartyhandves (DA, IVP, VF Plus, ActionSA, UIM, SNP en Isanco) nie, is hy reeds in gesprek met ander partye vir moontlike samewerking. Hy is nie gekant teen samewerking met die Veelpartyhandves nie, maar samesprekings hieroor moet eers ná die verkiesing plaasvind, sê hy.

“As mens voor die verkiesing reeds by die Veelpartyhandves aansluit, kan kiesers dalk dink ‘ʼn stem vir hulle is ʼn stem vir ʼn spesifieke party’.”

Hy sê hy verskil wel filosofies van die DA.

Oor ʼn koalisie tussen die ANC en EFF is hy ook nie juis bekommerd nie.

“Mense buite die ANC wil graag vrees aanwakker met gerugte oor ʼn moontlike koalisie tussen die EFF en die ANC. Daar is egter mense binne die EFF wat nie saam met die ANC wil werk nie en mense binne die ANC wat nie met die EFF wil saamwerk nie. ʼn Koalisie tussen dié twee partye is ʼn resep vir ʼn ramp.”

Planne wat verandering kan bring

Mmusi Maimane glo sy party is ‘n tuiste vir ontnugterde kiesers. (Foto: Facebook/ Mmusi Maimane)

Maimane meen Bosa het planne wat verandering kan bring en volgens hom is daar ʼn hele paar kwessies wat onmiddellik deur ʼn nuwe regering getakel moet word. Dit sluit in werkloosheid, gebrekkige infrastruktuur soos die kragnetwerk, en misdaad. Hy is, nes sy vorige party, ʼn groot voorstander daarvan dat polisiemagte na provinsiale regerings afgewentel word. “ʼn Burgerlike diens moet weer ingestel word; en moorde moet geprioritiseer word sodat gemeenskappe weer veilig kan voel.”

Hy meen ook die onafhanklikheid van die Reserwebank is ononderhandelbaar ten einde ʼn makro-ekonomiese klimaat te skep en dat die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel veel te wense oorlaat.

“Sowat agt uit 10 tienjariges kan nie met begrip lees nie. Die belangrike koers waarna ons moet kyk, is dat slegs 41% van matrieks toelating kry vir tersiêre opvoeding.”

Wat buitelandse beleid betref, sê hy “die ANC-regering maak gereeld vriende met mense wat nie menseregte ondersteun nie”.

Hy sê ook sleutel-aanstellings moet binne die eerste 100 dae ná die verkiesing gemaak word.

“Ons moet die institusionele kapasiteit herstel – dit is die enigste manier hoe verandering gaan gebeur. Ons moet verby bevrydingspolitiek beweeg. Die mees bekwame regering gaan die een wees met etiese leierskap.”

Maimane stel self voor dat ʼn beampte van etiek in die president se kantoor aangestel word. “Hierdie persoon kan byvoorbeeld briek aandraai wanneer die regering miljoene wil spandeer om ʼn vliegtuig te huur om kennisse en families na partytjies te vlieg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.