Brand by Skeleton-ravyn grootliks in bedwang  

Skeleton-ravyn, Tafelberg, SANParke, brand

Brandbestryders besig om die vlamme te blus. (Foto: Brandon Louw / Volunteer Wildfire Services / Facebook)

Die verwoestende brand wat oor die naweek by die Skeleton-ravyn op Tafelberg uitgebreek het, is teen Donderdag grootliks in bedwang gebring.

JP Louw, woordvoerder van SANParke, het bevestig die verwoestende brand is danksy ligte reën en misweer gekortwiek.

Staproetes langs Constantia-nek, Nuweland, sowel as Agtertafel tussen Kampsbaai, Houtbaai en Oranjekloof, is reeds heropen.

Die staproetes by die Skeleton-ravyn, asook dié tussen Fernwood en die Cecilia-bos, bly gesluit.

Geïsoleerde brandpunte, bome wat plek-plek omval en rotsstortings bly steeds ʼn bekommernis, sê Louw.

Sowat 220 ha veld van die Tafelberg Nasionale Park het afgebrand nadat daar Saterdag ʼn brand by die Skeleton-ravyn uitgebreek het. Die brand is deur weerlig veroorsaak.

Teen Donderdag is bergwindtoestande ervaar in die noordelike dele van die park. Louw het stappers gevra om waaksaam te wees en na veiligheid te beweeg sodra hulle enige rook ruik.

Altesame 40 brandbestryders van NCC Environmental Services, Volunteer Wildfire Services (VWS) en Working on Fire is in verskeie gebiede langs die brandlyn ontplooi en is besig met die laaste opruimingswerk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Danie ·

As dit so aangaan sit die berg se brandstigters binnekort sonder werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.