Die Burgerlugvaartowerheid (BLO) het Working on Fire (WoF), die staatsgefinansierde bos- en veldbrandbestrydingseenheid, se lugvaardigheidsertifikaat opgeskort.
Phindiwe Gwebu, woordvoerder van BLO, het Donderdag in ʼn verklaring bevestig dat die sertifikate vir die Bosbrandvereniging (FFA), wat nasionaal die WoF-program bedryf, Dinsdag opgeskort is, aangesien die maatskappy “versuim het om te voldoen aan die betrokke wetlike vereistes”.
Naranda Leeuwner, woordvoerder vir FFA, het Donderdag gesê die maatskappy het met BLO-beamptes vergader in ʼn poging om sy vliegtuie so gou as moontlik weer in die lug te kry. Sy het die vergadering as “baie produktief” beskryf en gesê die maatskappy is vol vertroue dat hy binne die volgende week weer sal kan vlieg.
Gwebu het gesê die opskorting volg na ʼn aantal voorvalle wat die BLO oorgehaal het om ondersoek in te stel of veiligheid op enige manier deur die operateur en instandhoudingsorganisasie in gedrang gebring word. “Daar was verskeie bevindings uit die waarneming wat, volgens die BLO, baie ernstig van aard is,” het sy gesê. Sy het bygevoeg daar kan appèl aangeteken word teen die opskorting van die lisensies.
Willem Hendrik “Bees” Marais is in Maart dood toe die helikopter, wat hy vir WoF gevlieg het, tydens brandbestrydingsaksies aan die Kaapse Skiereiland neergestort het.
Volgens Gwebu is vier ongelukke by die BLO aangemeld sedert die begin van die jaar. Twee van die ongelukke was noodlottig, waaronder die een ongeluk waartydens Marais gesterf het. “Die BLO was besorg oor die aantal ongelukke waarby FFA betrokke is, en ʼn veiligheidsoudit is gedoen,” het sy bygevoeg. Die opskorting van die lisensies het gespruit uit die veiligheidsoudit.
Die vliegtuie word op ʼn kritieke tyd onttrek, terwyl droogte beleef word in plekke soos die noorde van KwaZulu-Natal.
Ek sien die staat het met WoF begin in 2003.
Waar het dinge skeefgeloop ?
Daar moes eers ‘n aantal ongelukke plaasvind voor daar ingegryp word. Is dit weer beplanning en in hierdie geval ONDERHOUD wat nie gedoen is ? ‘n Ding wat vlieg gaan staan nie sommer net maar VAL aarde toe.
Ek het nie geweet n helikopter word bestuur nie.
Dagsê Pleb
Dankie dat jy ons daarop gewys het, dit was inderdaad ‘n oorsig.
Ons het die berig gewysig.
Groetnis
Suné
nms Maroela Media
Ek wonder of die amptenaar van BLO al ooit gevlieg het. Die vlieëniers van FFA vlieg onder baie gevaarlike toestande en hulle is daarvan bewus. Iemand moet die werk doen. Baie van die brande is kwaadwillig gestig. Daar is selde of nooit berigte van suksesvolle vervolgings van brandstigters.