Brandstofbeperkings in Botswana te midde van groot tekorte

Motoriste wag in lang toue om brandstof in Botswana in te gooi. (Foto: Wellence Mujuru/Twitter)

Botswana se president, Mokgweetsi Masisi, het Donderdag streng maatreëls ingestel om die verkoop van brandstof te beheer ná weke van groot tekorte.

Masisi het aangekondig dat motoriste net brandstof van sowat R360 (250 pula) op ʼn slag mag koop en dat die koop van brandstof in houers net op Donderdae toegelaat gaan word. “Die gebruik van tenks sal nie toegelaat word nie,” het hy gesê.

Busse, taxi’s en nooddiensvoertuie word uitgesluit van dié beperking.

Masisi het gesê tekorte in Botswana word veroorsaak deur die aanvraag in Suid-Afrika. Nadat Suid-Afrika sy afsonderingsregulasies verslap het, was daar skielik ʼn groot vraag na petrol en diesel. Suid-Afrika het voorkeur gegee aan plaaslike aanvraag en uitvoere beperk.

Die vragmotorstaking in Suid-Afrika en die onderhoudswerk aan twee raffinaderye het ook die verskaffing van goedere en dienste aan Botswana geraak.

Motoriste in Botswana mag net ‘n sekere hoeveelheid branstof op ‘n slag koop. (Skermgreep)

Masisi het gesê sy regering voer samesprekings met Suid-Afrika oor die kwessie. Die ander opsies is om brandstof spoorlangs te vervoer. Die spoorlyn tussen Krugersdorp en Mahikeng is egter gesluit en treine moet dus deur Kimberley reis.

Botswana voer 90% van sy brandstof van Suid-Afrika af in en die res uit Mosambiek en Namibië. Weens probleme by raffinaderye en die groot vraag na brandstof het talle Suid-Afrikaners self die afgelope paar weke gesukkel om brandstof in die hande te kry.

Botswana se presidensiële taakspan oor Covid-19 het onlangs ontken dat toetse wat by die grenspos vir die virussiekte gedoen word die oorsaak van die brandstoftekort in die land is. Dr. Kereng Masupu, koördineerder van die taakspan, het gesê die probleme word veroorsaak deur klaringsagente, nie toetse vir Covid-19 nie.

Masupu het gesê toetse wat by grensposte gedoen word, is ʼn belangrike ingrypingsmaatreël en het reeds sowat 80% van Covid-19-gevalle in Botswana geïdentifiseer.

“Die gevalle sou andersins ongesiens die land binnegekom het,” het hy gesê.

Ten spyte van die regering se versekering dat die situasie binnekort na normaal gaan terugkeer, is dit steeds ʼn opdraande stryd om brandstof in die hoofstad Gaborone te kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Cherokee ·

Maak nie sin dat voertuie in toue staan voor die pompe weens brandstof tekort. Dit behoort dit selfs vinniger te maak want minder brandstof word gegooi.

Grens ·

Nou gooi jy by een vulstasie P250, en ry na die ander een en gooi weer daar, dit maak die rye nog langer.

JohanR ·

Soe dit is hoe dit werk? Daar sal weer volop petrol en diesel wees, sodra julle die AfriForum saak teen Bridgette Motsepe-Radebe laat vaar oor geldwassery!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.