Bravo, Bokke!

Willie le Roux se drie was die finale spyker in die All Blacks se doodskis. Foto: Phill Magakoe/AFP.

Gee maar vir Nelspruit nog ’n Springbok-toets. Want as die Suid-Afrikaners aanhou om só in die Laeveld te speel, kan die Mbombela-stadion binnekort in ’n sterk plaaslike rugbyfort ontpop.

Op ’n aand waarop die skare ongetwyfeld ’n bykomende speler was, het die Springbokke die All Blacks met 26 – 10 in Nelspruit geklop.

Sodoende het Siya Kolisi se spelers die eerste Springbok-groep in amper agt jaar geword om die Kiwi’s in Suid-Afrika te troef.

’n Mens kan waarskynlik ’n lang verslag oor die wedstryd neerpen, maar in ’n neutedop het die Springbokke doodeenvoudig net beter verdedig, beter geskop en beter geskrum as die besoekers.

Goeiste – en hierdie is vir ons almal wat dink die Bokke speel net stampkar-skop-rugby – hulle was selfs beter op die aanval gewees!

Nou as die Springbokke as ’n span goeie dinge aangevang het, dan was Malcolm Marx beslis die beste speler op die veld.

Malcolm Marx het sy 50ste toets met ’n briljante vertoning gevier. Foto: Odd Andersen/AFP.

Die sterk haker het sy 50ste toets vir Suid-Afrika met ’n uithalervertoning gevier: Hy het hoegenaamd nie vir die All Blacks teruggestaan nie en Ian Foster-hulle gaan seker vanaand nagmerries oor dié Springbok-voorspeler kry.

Dan het Handré Pollard gereeld die Kiwi’s gestraf waar dit die seerste maak – op die telbord. Beauden Barrett het dalk die bal meer kere gedra en meer duikslae uitgevoer, maar die Suid-Afrikaanse losskakel het een van sy beste wedstryde nóg op die internasionale verhoog gespeel.

Soos reeds genoem het die All Blacks in die skrums geknor en Frans Malherbe-hulle verdien ’n klop op die skouer.

Hulle mag dalk ’n bietjie minder beweeglik as hul Nieu-Seelandse teenstanders wees, maar die strafskoppe wat hulle wen en die druk wat hulle toepas is eintlik net soveel werd as ’n Dane Coles-drie.

Dit is ’n trotse aand vir Suid-Afrikaanse rugby en die vreugdevure mag hoog in Nelspruit brand. Want in Auckland, Christchurch en Dunedin heers daar tans ’n baie somber atmosfeer.

  • Puntemakers

Springbokke: Drieë: Kurt-Lee Arendse en Willie le Roux. Doelskoppe: Handré Pollard (2). Strafskoppe: Pollard (3). Skepskop: Pollard.

All Blacks: Drie: Shannon Frizell. Doelskop: Richie Mo’unga. Strafskop: Beauden Barrett.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Niklaas ·

Ai wat ‘n fastastiese wedstryd was dit nie ? En meeste van ons was in die geheim , skrikkerig vir die eens magtige Allblacks. Maar die Bokke se planmakery , verdediging soos tiere en die drif om te wen , het my so aangenaam verras. Ons het minimum foute begaan. Dit was ‘n stryd wat ek lank gaan onthou. Bokke, maak weer so komende Saterdag !!

Republikein in die Wes Kaap ·

Van hierdie Bokke se breins is al so geklits hulle kan nie eers onthou wat het Saterdag gebeur nie.

Witbaard ·

Dis wat gebeur as jy die bal uitgee, eerder as om weg te skop.

Nationalist ·

Kom ons wees eerlik, die All Blacks is op hulle kniee. Grootste kompetisie nou is Australia (wat so 2 jaar terug was waar die All Blacks nou is).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.