Buitelander vas wat leeubeendere na Viëtnam wil vlieg

Die tas met beendere wat die passasier op die vlug wou neem. (Foto: SA Polisie)

ʼn Buitelander wat met ʼn tas vol leeubeendere op ʼn vlug na Viëtnam wou vertrek, is by die OR Tambo-lughawe aangekeer nadat veiligheidswagte onraad oor die inhoud van sy bagasie vermoed het.

Die wagte het lede van die Valke se eenheid vir ekonomies beskermde hulpbronne ontbied nadat hulle hom Vrydag voorgekeer het. Hy sou via Katar na Viëtnam vlieg, sê kapt. Bonnie Nxumalo, woordvoerder van die Valke.

“Die bagasie is oopgemaak en die leeubeendere ontdek.”

Nxumalo sê die polisie het ook beslag gelê op buitelandse geld, ʼn selfoon en twee paspoorte. Die aanvanklike ondersoek het gewys die beendere is afkomstig van die karkasse van vyf leeus.

Die verdagte word aangekla van oortredings van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur en Biodiversiteit (Nemba).

Die soektog na nog betrokkenes duur voort.

Die man sal Maandag in die Kempton Park-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.