Burgemeester, munisipale bestuurder sterf dae uitmekaar

Phumlile Mthiyane, burgemeester van die Ugu-distriksmunisipaliteit in KwaZulu-Natal. (Foto: Facebook)

Die Ugu-distriksmunisipaliteit in KwaZulu-Natal het binne dae sy burgemeester én munisipale bestuurder aan die dood afgestaan.

Burgemeester Phumlile Mthiyane is Maandag in die vroeë oggendure by haar huis in Uvongo ná ’n kort siekte oorlede.

Mthiyane se dood volg maar twee dae ná die dood van dr. Elliot Michael Ntombela, munisipale bestuurder van die Ugu-distriksmunisipaliteit.

Ntombela is Saterdagoggend in ’n hospitaal dood. Hy was in daardie stadium reeds drie weke lank opgeneem.

“Dit lyk of ’n donker wolk oor ons munisipaliteit geval het,” het France Zama, woordvoerder van die munisipaliteit, Maandag gesê.

Die KwaZulu-Natalse premier, Nomusa Dube-Ncube, het op haar beurt gesê “’n ongewone en baie pynlike tragedie” het die Ugu-distriksmunisipaliteit getref.

Dr. Elliot Michael Ntombela, munisipale bestuurder van die Ugu-distriksmunisipaliteit. (Foto: Facebook)

“Donderweer het twee keer op dieselfde plek geslaan en ons almal in trane gelaat wat tyd sal neem om droog te word. Ons provinsie is armer.”

Die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake in KwaZulu-Natal, Sihle Zikalala, het in reaksie op Mthiyane se dood gesê sy departement is “verpletter en in ongeloof gelaat”.

“Ons het ’n sagte reus in die sfeer van plaaslike regering verloor wat die taak opgeneem het om die watervoorsiening vir gemeenskappe binne die distrik te stabiliseer. Ons het binne ’n baie kort tydperk ná haar aanstelling as burgemeester vordering gesien met sleutelprojekte wat bedoel is om watervoorsiening te verbeter.

“Dit getuig van haar vermoë om mense bymekaar te bring in die strewe na ’n gemeenskaplike doel. Ons betreur die verlies van ’n brugbouer, vredemaker en passievolle aktivis wat die belange van die mense van Ugu eerste gestel het.

“Ons betuig ons meegevoel met die Mthiyane-familie, al die personeel van die Ugu-distrik en die familie van munisipaliteite daaronder,” het Zikalala gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JohanEtz ·

Hoe werk julle nuuswenke?
Kry diegene erkenning daarvoor?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.