Burgemeester wag angstig op uitslae oor ‘vergiftiging’

Die waarnemende burgemeester van eThkekwini, Fawzia Peer. (Foto: ANA)

Die waarnemende burgemeester van die eThekwini-munisipaliteit het Maandag gesê sy wag steeds angstig op die uitslae van laboratoriumtoetse wat moet bepaal of daar paraffien was in ʼn bottel water waarvan sy verlede week gedrink het.

Fawzia Peer het gesê sy verwag die toetse later vandag, maar Durban se waarnemende kommunikasiehoof, Mandla Nsele, het gesê die uitslae gaan nie dan al gereed wees nie.

“Ek voel aansienlik beter as die afgelope drie dae. Ek het inflammasie in my hele mond gehad. Ek kon niks eet nie,” het Peer gesê. “Maar die Almagtige is groot en ek voel nou beter danksy al die medikasie en jel wat ek vir my mond moes gebruik.”

Peer het gesê die voorval is nie by die polisie aangemeld nie, omdat “ek eers vir seker” wil weet of ʼn middel wél by die water gevoeg is. Die burgemeester het gesê sy het ook nie haar veiligheidsmaatreëls verskerp nie. “Ek sal volgende keer van beter moet weet en nie sommer water uit enige bottel drink nie. Ek sal voortaan my eie gebottelde water moet koop,” het sy gesê.

Peer is Donderdag tydens ʼn raadsvergadering na ʼn hospitaal in Durban gehaas nadat sy glo besmette water gedrink het. Sy het Vrydag weer teruggekeer werk toe.

Speaker William Mapena het raadslede aangesê om nie die water te drink nie, omdat dit lyk of daar paraffien bygevoeg is.

Peer neem waar in die plek van burgemeester Zandile Gumede. Die ANC het Gumede 30 dae lank met verlof gestuur nadat sy betrek is by bewerings van bedrog van nagenoeg R208 miljoen. Die aanklagte hou verband met ʼn vasteafval-tender wat in 2016 toegestaan is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

lewies ·

Ons wag saam met jou vir die uitslae van hierdie snaakse voorval. Hoop hulle het meer bottels water getoets. Ons wag in spanning.

humor ·

As daar paraffien in was, sou sy dit mos onmiddellik proe. Iemand wat n ander wil vergiftig sal tog seker maak dat n smaaklose middel gebruik word.

Heksie ·

parafien sou sy kon ruik en dadelik proe. Maar ons wag saam met haar vir die uitslae.
Interessante gesprek gehad oor die naweek met iemand wat weet van hoe mense opsetlik vergiftig word om van hul ontslae te raak … ons dink dis nie ‘n realiteit nie, maar tog is dit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.