Burgemeester wil dispuut verklaar oor vrotsige spoordiens

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, doen ʼn beroep op pres. Cyril Ramaphosa om dringend ʼn gesamentlike werkkomitee oor spoorafwenteling op die been te bring en sê ʼn tussenregeringsdispuut sal teen die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) verklaar word indien hy versuim om teen 31 Augustus te reageer.

Dit kom nadat daar geen reaksie op die stad se versoek vir ʼn gesamentlike komitee was nie – meer as twee maande ná dit versoek is.

Volgens Hill-Lewis is ʼn diensvlakooreenkoms met Prasa ’n wetlike vereiste kragtens die Wet op Nasionale Landvervoer en sal dit die munisipaliteit in staat stel om ʼn veilige, betroubare en bekostigbare spoordiens te verseker. Hul herhaalde versoeke hieroor aan Prasa is egter van die hand gewys.

Prasa het die stad in Julie ingelig dat hy nie in hierdie stadium ʼn bindende diensvlakooreenkoms, gegewe die huidige stand van spoordienste, sal onderteken nie.

“Spoordienste is veronderstel om die ruggraat van ons netwerk te wees, maar dit is besig om in duie te stort terwyl Prasa weier om verantwoordelikheid te neem,” sê Hill-Lewis.

“Die onlangse gewelddadige taxi-staking het weereens die dringende behoefte aan ʼn veilige en bekostigbare spoordiens getoon, veral vir laerinkomstegemeenskappe.

“Die gebrek aan ʼn funksionele spoorstelsel het duisende pendelaars in die stad gedwing om tot 30 km te stap om by die huis te kom terwyl sommige by die Kaapstadse taxistaanplek moes oornag weens die staking wat in die middel van ʼn werksdag aangekondig is.”

Die kabinet het in Mei verlede jaar die Witskrif oor Nasionale Spoorbeleid goedgekeur wat hom daartoe verbind om spoordienste na bekwame metro’s af te wentel en om ʼn spoorafwentelingstrategie in 2023 op te stel.

Hill-Lewis sê ʼn gesamentlike werkkomitee oor spoorafwenteling is veral belangrik, gegewe die direkteur-generaal van vervoer se openbare verbintenis om ʼn spoorafwentelingstrategie vanjaar nog bekend te maak.

“Die stad wil insette lewer in hierdie nasionale strategie en planne instel om spoorlyne in Kaapstad af te wentel, maar ons versoek aan die president vir ’n gesamentlike komitee gaar net stof op. Dit is nie ’n situasie wat ons bereid is om verder te duld nie,” sê Hill-Lewis.

Kaapstad se spooruitvoerbaarheidstudie raam dat huishoudings met ʼn laer inkomste tot R932 miljoen per jaar sou bespaar indien daar ʼn doeltreffende passasierspoordiens in Kaapstad was.

Volgens die studie sal ʼn funksionerende spoordiens 51 000 werksgeleenthede onderhou en R11 miljard per jaar by die plaaslike ekonomie voeg.

“Alle regeringsfere het ʼn plig om hierdie situasie sonder versuim reg te stel. Die stad wag gretig op ʼn  verbintenis van pres. Ramaphosa, gegewe die dringende behoefte aan ʼn funksionele spoorstelsel in Kaapstad.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

HPJ ·

Die DA is die party van entitlement Die enigste party wat se arrogansie van die ANC oorskry is die DA Geen morele standaarde nie net soos hulle getroue spreekbuise in die media

Kuver ·

Lyk my jy het n probleem met die DA, kom or jouself ou, net omdat hulle probeer om die land reg tekry is hulle entitled…… regtig!!!

JohanR ·

Mense van Slaapstad. Kan julle nog 1993 onthou toe jy ‘n skoon redelike trein enige plek kon na toe klim in die Wes-Kaap, en hulle was volop en redelik op tyd. En daar was ‘n stasie gebou en trein platforms, en trein tyd aanwysings wat mooi was en gewerk het…..en toe kom die ANC!!!!!!!!!!

Tikkel Tokkel Jimpels Gogga ·

CR is nie meer die president van SA nie, julle mors julle tyd om met hom te wil praat oor enige iets in SA. Hy is ñ puppet on a string en is ons land nou op Auto pilot.

Kokerboom ·

Mnr Hill-Lewis plaas konstante druk op die vernietigende regime. Hul sal knak tot voordeel van dienste en publiek
Dankie vir u ferm standpunte

Jakes ·

Die spoordienste in SA het n paar jaar gelede al in die gestort. Ek wat dekades lank vir Transnet gewerk het is van mening dat Prasa eenvoudig net nie bevoeg is om die spoornetwek weer te probeer gherstel nie. Die minister van vervoer en die skandalige president Ramaphosa moet blameer word want hulle gee nie n flenter om nie.

Sobymykoolkop ·

Nie maklik nie….hoekom dit maak werk? Prasa se treine loop nou al vir 3 jaar nie. Die dametjie by ons prasa kantoor kom los en vas kantoor toe, geen passasiers treine maar getrou vir 3 jaar al kry sy salaris. Dit geld natuurlik almal was op die treine werk ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.