Busbestuurder wurg glo leerder

‘n Skermskoot uit die video

ʼn Busbestuurder sal na verwagting Vrydag in die Hoopstad-landdroshof in die Vrystaat verskyn nadat hy na bewering ʼn 17-jarige seun aangerand en gewurg het.

Die man sal teregstaan op aanklagte van aanranding en poging tot moord in verband met die voorval wat Maandag plaasgevind het.

Volgens kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, het die seun saam met ander leerders by die plaas Oranjekuil se bushalte op die bus gewag.

Die busbestuurder het met sy aankoms by die bushalte uitgeklim en die leerders wat op die bus moes klim se name van ʼn lys afgelees. Die betrokke leerder se naam is nie uitgeroep nie, waarna hy op die bus geklim en die bestuurder gevra het hoekom hy nie met die bus mag skool toe ry nie.

Die busbestuurder het hom toe glo begin aanrand. Volgens Thakeng is die seun glo geskop en gewurg en het hy inwendige beserings en kneusplekke aan sy gesig opgedoen. Die seun het uiteindelik van die bus afgeklim en sy ma van die voorval in kennis gestel.

ʼn Saak van aanranding is aanhangig gemaak, maar volgens Thakeng is die klag van poging tot moord bygevoeg nadat beeldmateriaal van die voorval bekom en daar met die vervolgingsowerhede beraadslaag is.

Die 56-jarige busbestuurder is daarna in hegtenis geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.