Busstaking: Diens moontlik Dinsdag al hervat

Foto: http://myciti.org.za/

Die busstaking wat die land lamgelê het, is afgelas ná werkers en werknemers Maandag tot ʼn vergelyk kon kom.

Die South African Transport and Allied Workers Union (Satawu), die National Union of Metalworkers of South Africa (Numsa), Tirisano Transport and Services Workers Union, die Transport and Allied Workers Union of South Africa (Tawusa) en Transport and Omnibus Workers Union (Towu) het in ʼn gesamentlike verklaring bevestig dat werkgewers ingestem het om die nuwe loonaanbod van 9% te betaal, terugwerkend tot 1 April.

Volgens die verklaring is dié aanbod wyd aanvaar onder hul lede.

Die vakbonde het ook gesê die feit dat die werkgewers eers geweier het om die aanbod terugwerkend te aanvaar, is wat hulle verhoed het om die aanbod al Vrydag te beslis.

Die nuwe aanbod sluit onder meer die verhoging van 9% vir die eerste jaar van 1 April 2018 tot 31 Maart 2019, 8% van 1 April 2018 tot 31 Maart 2020 en toelae vir nagskofte in.

Die kwessies van inkontrakteer-diens, meer as een bestuurder en nagskofure is verwys na ʼn taakspan onder toesig van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA).

Die busstaking het sowat vier weke gelede begin met vakbonde wat aanvanklik ʼn 12%-verhoging geëis het.

In die verklaring het die vakbonde gesê werkers word amptelik Woensdag terug op hul pos verwag, maar die meeste sal waarskynlik reeds Dinsdag terug by die werk wees.

Die vakbonde het hul lede geëer vir die groot opofferinge wat hulle gemaak het en dissipline wat aan die dag gelê is.

Die stad Kaapstad het bevestig dat die MyCiti-busdiens weer van Dinsdag af werksaam sal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hennie ·

Het bus bestuurders geld gekry tydens staking? Indien nie, wat maak die terugwerkende berekening dan saak?

julius ·

Die vakbonde het ‘n lat vir hulself gepluk. 9% vir die jaar en 8% vir die volgende twee jaar gaan later weer stakings oplewer. Hou die spasie dop.

Genieve ·

julius…dan soek hulle nog meer want die kospryse het ookal by daai tyd die hoogte ingeskiet.

Anoniem ·

Ek hoop ook die vakbonde loof ook die “dissipline” van die gewone pendelaars wat in ‘n finansiële verknorsing gedompel is na ‘n maand se taxi fooie. Tot die koerantverkoper by die robot het my vanoggend R50 vir “transport” gevra, want hy is kort van geld hierdie maand as gevolg van die busstaking!

GM ·

Laat die wat kort is van geld, agv die staking, dit maar van die vakbonde gaan verhaal. Hoekom moet daar nou aan motorvensters geklop word om geld te bedel by onskuldiges? En dan kyk meeste mens altyd so aan asof jy die een is wat gemaak het dat hy/sy daar staan. Hoeveel R50’de gaan hy nie vra nie? Ten minste werk hy darem en staan nie net met ‘n bordjie nie, maar nogtans.

marous ·

Nou moet die pendelaars staak en weier om op ‘n bus te klim …vir altyd

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.