Bye steek ouma meer as 300 keer

Johanna de Beer (73) is meer as 300 keer deur bye gesteek.

“Heldedade gebeur elke dag om ons.”

Só het Hennie de Beer (47), ʼn sitrusboer van Marble Hall in Limpopo, Maandag gesê nadat sy broer, Coen (50), waarskynlik hul ma se lewe gered het toe ʼn swerm bye haar gepak het.

Johanna de Beer (73) en haar man, Martin (74), het Sondag ná kerk en middagete by hul huis op die plaas aangekom, toe hulle die swerm bye opgemerk het. Martin is allergies vir bye en is dadelik by die huis in. Met die omkyk het hy gesien Johanna het egter ook uit die motor geklim. Die bye het haar dadelik getakel, het Hennie gesê.

Martin het inderhaas vir Coen, wat ook naby woon, ontbied om te kom help en hy en sy gesin het dadelik daarheen gejaag. “Toe hy daar inry, het hy gesien my ma is oortrek van die bye,” vertel Hennie.

Johanna loop moeilik, maar Coen het sy ma gehelp om ʼn hele ent verder tot in die swembad te kom. Dáár het hy hulle onder ʼn kombers probeer toemaak en só teen die woedende swerm gehelp beskerm. Hy is self etlike kere gesteek.

Coen se vrou, Elma, het intussen paramedici ontbied om te kom help.

Hennie sê almal van Coen tot die paramedici van die Life 24-ambulansdiens, die honde, hyself, pa Martin en selfs die kleinkinders het onder die bye deurgeloop. Martin kon dadelik medikasie teen die bysteek neem, maar was weens sy erge allergie magteloos om sy vrou buite te help.

Johanna de Beer (73) en haar seun Coen, wat moontlik haar lewe gered het nadat ‘n swerm bye haar gepak het.

Johanna is na ʼn hospitaal op Groblersdal geneem en moes op pad daarheen bygebring word. Sy is daarna na die Unie-hospitaal in Alberton gevlieg en word steeds daar behandel. Sy sterk goed aan.

Hennie sê die paramedici het opgehou tel toe hulle die 300ste bysteek op sy ma se liggaam gekry het. Hoewel die nooddienswerkers self genadeloos deur die bye gesteek is, het hulle uit hul pad gegaan om te help. “Hul vinnige en flinke diens het beslis my ma se lewe gehelp red. Ook toe sy in die ambulans op pad was en dit baie sleg gegaan het, het hulle bly veg om haar lewe.”

Maar hy sê dit is veral Coen wat lof verdien.

“ʼn Mens besef dit dalk nie dadelik nie, maar my broer is die held in dié verhaal. Hy het net ingehardloop en ons ma beskerm,” het Hennie vertel.

Coen het gisteraand self sleg gevoel en het Maandagoggend mediese behandeling ontvang. Hy sterk tans tuis aan. “Ek het net een bysteek, maar dit het verskriklik gebrand. Ek wil nie eens weet hoe 10 of 300 bysteke voel nie,” het hy gesê.

Hennie sê hulle het gistermiddag ʼn byeboer ontbied om die swerms te probeer weglok. Hulle was bewus van een swerm op die plaas, maar het gistermiddag ook ʼn tweede een opgemerk. Dit was moontlik die teenwoordigheid van die tweede swerm wat tot die aanval bygedra het. Dié swerm het intussen verder getrek en teen Maandag was die bye weer rustig.

“ʼn Mens hoor van bysteke, maar jy besef nie hoe erg dit werklik kan wees nie.

“My broer is ʼn hero.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

J ·

In Amerika praat hulle nie verniet van “killer bees” nie.

Bye is gevaarliker as leeus, olifante en slange!!!

Oppas!

Hennie ·

Waarom uit die voertuig klim as daar bye is. Nie die beste idee nie.

Tienie ·

Ek wonder net wat het die swerm ontstig.

En as hulle kwaad is, dan is almal kwaad.

Sterkte julle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.