Caledon-plaasaanval: Bejaardes erg aangerand

Selma Katz op haar 80’ste verjaardag. Sy word dié jaar 87. (Foto: Verskaf)

“Kom vinnig, julle almal moet vinnig kom” hoor Beverli Katz in ʼn oproep van haar seun.

“Ouma en Tannie Renee is aangerand!”

“Ja, dit is waar,” skryf Katz in ʼn plasing op Facebook.

“Die Katz-familie van Klein-Sandfontein het nou ook deel van die misdaadstatistieke vir plaasaanvalle geraak.”

Sers. Wesley Twigg, polisiewoordvoerder, sê die Caledon-polisie in die Wes-Kaap ondersoek tans ʼn saak van roof nadat twee bejaarde vroue Woensdag omstreeks 20:00 in hulle huis oorval, aangerand en beroof is.

“Volgens berigte was die slagoffers tuis toe onbekende verdagtes die perseel binnegekom en die bejaardes vasgebind en aangerand het.

“Die verdagtes het juweliersware, elektroniese toerusting en ʼn onbekende bedrag kontant gesteel voordat hulle van die toneel gevlug het,” sê Twigg.

Katz sê hulle is gelukkig dat “hierdie nie ʼn plaasmoord was nie”.

“Dit kon so maklik een wees.

“Stel jou voor jy kry ʼn oproep van jou seun: ‘Ma, almal, kom gou, Ouma en Tannie Renee is aangeval. Kom gou!”

Katz sê almal op die plaas het tweerigting radio’s en was binne twee minute op die toneel.

“Ek het by die huis ingejaag en in die gang afgehardloop om my 87-jarige ma doodstil in ʼn plas bloed aan te tref.

“Ek weet nie hoe om die trauma daarvan te beskryf nie. Die drie mans wat dit gedoen het, het nie ʼn saak met hoe oud en broos sy is nie. Wie val iemand aan wat rustig in haar bed lê?”

Volgens Katz het hulle haar ma se lakens opgeskeur en haar daarmee vasgebind.

“Hulle het haar mond toegebind en haar brose hande met selfoonlaaiers agter haar rug vasgemaak, daarna het hulle haar voete ook vasgebind en haar van die bed afgegooi.

Selma Katz ná die aanranding Woensdag. (Foto: Verskaf)

“Hulle het toe na die ander kamer gegaan en dieselfde met my tannie gedoen.

“Daarna het hulle die hele huis geplunder. Hulle het die TV’s van die mure afgeskeur en is daar weg met soveel as wat hulle kon, insluitend my ma se skoene en trouring.”

Volgens Katz is albei slagoffers ook van hulle selfone beroof.

“Dit is egter alles materiële dinge wat vervang kan word – behalwe my ma se trouring,” sê Katz.

“My ma is gister uit die hospitaal ontslaan, sy en my tannie leef nog. Volgens Katz is dié twee is al 62 jaar lank beste vriende.

“Ons is so dankbaar, maar tog so getraumatiseer.

“Dankie vir almal se omgee en ondersteuning in hierdie tyd. Ek wil ook graag my dank aan die SAPD, Agri Patrol, Caledon-ambulans en die personeel by Hermanus Medi-Clinic betuig,” sê Katz.

Ian Cameron, direkteur van gemeenskapsveiligheid by Action Society, sê hulle vermoed dat dit weer ʼn groep van die sogenaamde Ovambu’s is,wat op die bejaardes toegesak het.

“Hulle terroriseer die landelike gebiede van die Wes-Kaap vir die afgelope 13 jaar al.

“Die modus operandi in die voorval stem ooreen met die manier waarop hulle mense op plase en ook huise aanval en beroof.

Hulle kan uiters gewelddadig wees en in dié geval het twee bejaarde vroue baie seer gekry.

Volgens Cameron kies die Ovambu’s ook dikwels plekke waar hulle vanuit ʼn berg of moeilike terrein kan ontsnap.

“Dit is baie sleg, ons sien ook ʼn definitiewe tendens waarin ouer vroue geteiken word, hulle sien dit as ʼn sagte teiken. Mense moet verstaan dat ʼn plaasaanvaller in meeste gevalle ʼn uiterse lafaard is,” sê Cameron.

Niemand is al in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.