Soorte resepte:

Carel Nel een van die wynbedryf se lewende legendes

Carel Nel in sy kelder op Boplaas, familiewingerde in Calitzdorp. (Foto: Verskaf)

Die spreekwoord lui dat profete nie in hul eie land geëer word nie. Dis gelukkig nie waar van Carel Nel – keldermeester en eienaar van Boplaas, familiewingerde buite Calitzdorp – nie, skryf Maryke Roberts.

Carel kan hierdie Kersfees agteroorsit met ʼn glas port, óf brandewyn, óf whiskey, óf wyn van dié familieplaas. Want nie alleen is hy verlede maand op die gesogte Veritas-toekenning se Lewende Legende Ererol ingesluit nie, maar het die bekende Britse wynmeester, Tim Atkin, ook die Beste SA Port-toekenning vir 2021 aan hom toegeken.

Saam met die sewe wat vanjaar deur Veritas vereer is, is daar reeds 90 legendes vanaf 2009 vereer. Bennie Howard, ondervoorsitter van Veritas, sê: “Ons by Veritas is trots om die tradisie wat 12 jaar gelede gestig is, om ʼn handjievol bedryfsleiers te vereer, voort te sit. Hierdie toekenning dien as erkenning vir volgehoue uitmuntende diens aan die bedryf.

“Dit is ons voorreg om aan sewe leiersfigure die 2021 Lewende Legende Ererol toe te ken vir hul toewyding tot en geesdrif en passie vir die plaaslike wyn- en brandewynbedrywe. Saam met Carel het ons ook vir Kowie du Toit, Celia Gilloway, Marius Labuschagne, Johan Pienaar, Erica Platter en Don Tooth vereer.”

Op internasionale vlak het hy al groot erkenning geniet van beoordelaars en wynskrywers soos Jamie Goode, Robert Parker, Jancis Robinson en Stephen Tanzer.

Die twee onlangse toekennings is bloot dit: die mees onlangse van vele. As jy terugkyk oor sy loopbaan sedert hy in 1978 sy BSc-studies in wynkunde aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi het, is daar ʼn streepsak vol toekennings, bekers, trofees en medaljes. In 2005 is Boplaas as beste wynkelder deur die einste Veritas gekroon.

Carel sê om deur so ʼn belangrike organisasie soos Veritas “só ʼn groot eer te ontvang is spesiaal, juis omdat dit van medewynmakers en mense kom wat reeds diep spore in die wynbedryf getrap het.

Die ander toekenning of prys wat vir hom kop aan kop met hierdie toekenning staan, is dat hy een van slegs drie wynmakers is wat gelykertyd Kaapse Wynmeester sowel as lid van die Kaapse Wynmakersgilde is – by laasgenoemde moet jy ook deur SA se topwynmakers ingestem word.

Carel is lid van dié gilde sedert 1988 – slegs ses jaar ná die gilde se stigting in 1982. Die gilde sluit ʼn uitgelese groepie van die land se mees gerespekteerde wynmakers in met die visie om die stand van die Suid-Afrikaanse wynbedryf te verhoog, deur hul volhoubare toewyding tot transformasie en die maak van wêreldklaswyne.

Die gilde het toe 16 lede gehad en het vandag 46 lede. Lidmaatskap van die gilde geskied slegs deur uitnodiging. Lede vergader gereeld as ʼn tegniese proegroep, wat sy lede die geleentheid bied om wyne van regoor die wêreld te evalueer en hul kennis en idees te deel.

Christo Pienaar, voorsitter van Veritas, oorhandig Carel se sertifikaat aan hom. (Foto: Verskaf)

Gildelede, almal kundiges op hul onderskeie gebiede, het ʼn belangrike rol in die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse wynbedryf gespeel. Vanaf die maak van kampioen portwyne, die vestiging van Méthode Cap Classique en Kaapse versnitte, tot die opening van nuwe, koeler wynstreke en die bekendstelling van volhoubare, omgewingsverantwoordelike boerderypraktyke, was gildelede nog altyd aan die voorpunt van vernuwing.

Die gilde se Protégé-program het homself as die suksesvolste vaardigheidsontwikkelingsprogram in die Suid-Afrikaanse wynbedryf bewys en is in 2006 gestig. Die doel van die drie jaar internskap is om die volgende generasie bekroonde wynmakers en wingerdboukundiges deur mentorskap en bemagtiging te kweek, terwyl transformasie in die bedryf bevorder word.

Die lede van die gilde speel ʼn deurslaggewende rol in die mentorskap en inspirasie van die protégés.

Tot op hede het 30 protégés aan die program deelgeneem en gegradueer en werk nou in die Suid-Afrikaanse wynbedryf.

Carl Schultz, keldermeester by Hartenberg en voorsitter van die Kaapse Wynmakersgilde, sê: “Ek ken vir Carel sedert my eerste oes in Calitzdorp, in 1987 – hy was my eerste mentor.

“Carel – altyd ʼn ondeunde glimlag op sy gesig, diep intellektueel, intelligent en ʼn ewige skolier. ʼn Stil onderskatte man met diep respek vir sy geliefde Klein Karoo. Waar dit by sake kom, is hy vlymskerp en ʼn vooruitdenker. Sy grootste pluspunte is die pionierswerk wat hy gedoen het, maar bowenal die familieleiding wat hy gegee het, en dan ook om die leisels aan die volgende generasie Nels te oorhandig wat hulself bewys het. Hy navigeer die opvolggolwe baie slim en bou ʼn nalatenskap.”

By die CWG-veiling is Carel vir sy Cape Vintage Reserve (port) bekend, maar hy het ook al potketel brandewyn, strooiwyn en ʼn rooiwyn gemaak van die interessante portvariëteite soos Touriga Nacional, Touriga Franca & Tinta Barocca.

Carel het ook al sy deel van terugslae gehad: In 2000 het vele hektaar se wingerde in die ergste vloed van die eeu weggespoel, en die laaste paar jaar lê ʼn rugbrekende droogte die Karoo lam – ook die ergste in 100 jaar.

Op ʼn persoonlike vlak noem hy ook hierby resessies en nou Covid. “Ons het geleer om aanpasbaar te wees, te diversifiseer (ook buite die landbou) en om geestelik taai te wees. Ek kyk baie na die vetplante van die Klein Karoo en sien hoe hulle alles wat na hulle gegooi word – hitte, droogtes en vloede – oorleef.”

Hy erken dat hy al duur lesse geleer het. “In die beginjare het ek nie genoeg op diversifisering gekonsentreer nie en ook nie besef dat ʼn goeie besluit oor lang termyn ʼn massiewe verskil kan maak nie. ʼn Duitse filosoof het gesê: ‘Choose well, your choice is brief but yet endless.’”

Maar hierdie storie gaan oor erkenning en oorwinning. Boplaas is die enigste Suid-Afrikaanse kelder wat vyf sterre in die gesogte Platter-wyngids verower het vir port, brandewyn en wit muskadel.

Sedert 1986 het Carel tien keer die SA Kampioen Porttrofee gewen, twee maal die SA Kampioen Sauvignon Blanc en die SA Kampioen Rooi Versnit by die Suid-Afrikaanse Nasionale Wynskou (SANW), 28 dubbelgoud by Veritas, 18 Platter 5-sterre en ook Beste Kelder by Veritas en Michelangelo.

Dit is alles hoogtepunte in sy loopbaan, maar hy sonder in sy 43 jaar op die plaas die vestiging van Calitzdorp as ʼn wêreldklaswynbestemming as persoonlike mylpaal uit. “Toe ek in 1979 in Calitzdorp begin wyn maak het, is Calitzdorp meer as ʼn brandewynstreek gesien. Met die maak van wêreldklasport en later ook tafelwyne van Portugese kultivars, het ons die dorp se beeld verander.”

Hy voeg by dat hulle ook na koeler klimaat wynstreke begin kyk en wingerde oor die hele Wes-Kaap identifiseer het waar hulle top- rooi en wit kultivars kan aankoop.

Die Nel-familie van Boplaas is van links: Margaux (wat as wynmaker saam met haar pa werk), Daniel (wat die spiritus vir hul bekroonde whiskey, brandewyn en gin stook) en Rozanne, wat die leisels in die bemarkingskantoor hou saam met pa Carel en ma Jeanne. (Foto: Verskaf)

Boplaas dateer terug uit 1880, toe Carel se ooroupagrootjie, Daniel, dit besit het en die eerste besending brandewyn na Engeland gestuur het. Dis per ossewa van Calitzdorp na Worcester vervoer, waar dit op die trein gelaai is om na die Kaapse hawe te neem. Van daar af is dit per skip uitgevoer.

Carel se pa, Danie, was self ʼn gerespekteerde boer en Carel sê die beste raad wat hy by hom gekry het, was om aanpasbaar en taai te wees. “Hy het altyd gesê jy moenie dat die lewe jou onderkry nie. Hy was ook baie lief vir wyn en reis. Dis iets wat ons by hom geërf het.”

Danie het voor Carel sy studies voltooi het wingerde op Boplaas aangeplant. Hy het gedink hy plant Shiraz, maar Carel het onraad vermoed en die blare laat ontleed. Dit was toe eintlik Tinta Barocca en dié glips het die plaas se toekoms onherroeplik verander toe daar in die hartjie van die Klein Karoo met dié Portugese kultivar uitgeblink word – eers met portwyn en later met Portugese stilwyne.

Dat portwyn hom steeds na aan die hart lê, is gewis. Carel was die eerste voorsitter van die South African Port Producers Association (nou Cape Port Producers Association, of CAPPA), wat in 1993 gestig is. Boplaas se port was vir vyf jaar die Beste SA Port by die CAPPA-uitdaging. Onder sy leierskap is die benaminge vir Cape Ruby, Cape Vintage en Cape Tawny ingestel, toe Portugal ander lande verbied het om die naam “Port” te gebruik.

Dié toekennings kom nie vanself nie. Dit vra ʼn pionier en onafhanklike leier. Hy sê: “Mense wat baie lees het ʼn onregverdige voordeel oor mense wat nie baie lees nie. Ek het baie biografieë van besigheidsmense, wêreldleiers en ander gelees. Lesse wat hulle geleer het, kon toegepas word. Ek is baie lief vir wiskunde, chemie, argeologie en abstrakte begrippe (soos waar ons vandaan kom en waarheen ons gaan). The Black Swan van Nassim Nicholas Taleb en The Snowball van Warren Buffet and the Business of Life, is twee van die uitstaande boeke wat ek gelees het.”

Michael Fridjhon, Suid-Afrika se bekendste wynproeër en -beoordelaar, sê: “Carel Nel het in die 1980’s ʼn familieplaas oorgeneem in die mees onwaarskynlike wynarea (Calitzdorp in die Karoo). Hy het onmiddellik besef dat daar geen langtermyntoekoms vir die wynstyle is wat vorige geslagte in daardie deel van die wêreld so goed laat doen het nie. Sy hooffokus was portwyn en hy was slaggereed om na Portugal te reis en van die Douro se grootste produsente te ontmoet om meer te leer oor wat dit presies behels.

“Hy het egter ook na koeler streke naby aan hul kelder gekyk. Die eksperiment wat hier bo die ander uitstaan, is by Ruiterbos waar die helling en die invloed van die Indiese Oseaan hom in staat gestel het om kwaliteit Riesling en Sauvignon Blanc te maak.”

Boplaas het ook in 1991 in Duitsland die trofee gewen vir “Beste Chardonnay in die Wêreld” vir die Ruiterbosch Chardonnay.

Michael voeg by: “In kort: Carel is ʼn avonturier, ʼn innoveerder, ʼn rustelose gees wat gereed is om aan te pas en te verander om ʼn uitdaging na te streef en altyd op soek na sy volgende adrenalieninspuiting.”

Carel Nel en Bennie Howard, ondervoorsitter van Veritas. (Foto: Verskaf)

Carel vier in 2022 sy 44ste oes op die plaas en staan daar sy aan sy met sy dogter (Margaux, wat as wynmaker saam met hom werk) en sy seun (Daniel, wat die spiritus vir hul bekroonde whiskey, brandewyn en gin stook). Rozanne is sy dogter wat die leisels in die bemarkingskantoor vasvat en vroulief Jeanne is al sedert 1979 aan sy sy. Die kelder is onder Carel se bestuur in 1981 gebou.

Hy vertel dit is “baie lekker om Boplaas saam met my vrou en kinders te bedryf. Ons kom baie goed oor die weg. Die entoesiasme van die jonger geslag maak ʼn groot verskil. Hulle lees ook baie (veral Rozanne) en ons gesels baie oor dinge van die lewe.”

Hy beskryf sy familie as sy kosbaarsste besitting en dat hulle graag die wêreld saam op vakansie ontdek. Carel is baie lief vir wyn en geniet dit nie net om wêreldklaswyn te maak nie, maar ook om dit te drink. Nog ʼn lekkerte vir hom is om ikoonwingerde in SA sowel as in die buiteland, veral Frankryk, te besoek.

As hy nie by die kelder is nie, geniet hy die natuur. Die plaas het meer as 5 000 hektaar veld wat net vir bewaring gebruik word. “Ek ontspan heerlik deur in die veld rond te stap en my te verwonder aan hoe wonderlik en kompleks plante en diere is. Aan my sy is my geliefde rifrug, Tawny, vernoem na ons Tawny Port aangesien hy ook ʼn tawny kleur het. Die rifrûe is baie spesiaal en lojaal en sal deur vuur vir sy baas hardloop.”

Dit bring ʼn mens natuurlik by uitsonderlike oesjare. Hy sê daar was baie soos 1986, 1989, 1991, 1997, 2004, 2006, 2009, 2013, 2015 en 2017. Ek wonder of daar ʼn spesifieke oesjaar wyn of port in sy rak is wat hy vir ʼn spesiale geleentheid bêre? “Ons het ʼn reputasie dat ʼn goeie bottel wyn so gou as moontlik gedrink moet word. Elke dag is ʼn spesiale geleentheid. Oorlede Tony Mossop het altyd gespot en gesê die enigste ding in Calitzdorp kleiner as die volstruis se brein, is die persoonlike kelder van die Nelle!”

Goeie nuus vir wynliefhebbers:

Goeie nuus vir wynverbruikers is dat proeë van dubbelgoud- en goudwenners vir die volgende vier maande beplan word, afhangend van beperkings van toepassing onder die jongste Covid-maatreëls.

Gaan proe vroeg in 2022 die wenners in jou omgewing. Die datums en plekke sal op Veritas se webwerf aangekondig word (https://veritas.co.za).

Die Veritas-toekennings het vanjaar 1 285 medalje-aanspraakmakers gehad. Altesaam 1 108 medaljes is toegeken – 88 dubbelgoud, 147 goud, 199 silwer uitstaande, 411 silwer en 263 brons. Die sewe mees mededingende kategorieë volgens inskrywings ontvang, was: rooi versnitte (166), Sauvignon Blanc (150), Cabernet Sauvignon (110), Shiraz (107), Chenin Blanc (104), Chardonnay (93) en Pinotage (86). Altesaam 24 brandewyne is in twee kategorieë ingeskryf: standaard en potketel.

Verbruikers kan nou die bekroonde wyne deur die Veritas-app aankoop. Bennie Howard, Veritas-ondervoorsitter, het gesê dat hy in sy noppies is met die fenomenale sukses van die VinoVeritas By CTP-app. “Ons het dit verlede jaar van stapel gestuur om verbruikers in staat te stel om aanlyn, deur middel van ons vennoot, GetWine, bekroonde produkte direk vir aflewering op hul drumpel, te bestel. Verbruikers was baie ingenome met hierdie diens.”

Dit beteken dat die wyn-en-brandewyn koperspubliek die app op hul slimfone of rekenaars kan aflaai, die uitslae onmiddellik kan sien en enige van die 235 produkte wat dubbelgoud of goud by die 2021 Veritas-toekennings gewen het, kan bestel. Registreer op Android of Google met die woorde “VinoVeritas By CTP”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.