Cele-assistent kerjakker op belastinggeld     

Mediakonferensie van die regering se interdepartementele groep belas met justisie, misdaadvoorkoming en veiligheid

Bheki Cele, minister van polisie. (Foto: GCIS)

Hoewel Bheki Cele, minister van polisie, volhou dat ʼn “private maatskappy” sy onlangse reis na die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Frankryk betaal het, het hy wel toegegee dat belastingbetalers R446 339 moes opdok sodat sy uitvoerende assistent ook die uitstappie kon meemaak.

Cele het dié onthulling in antwoord op ʼn parlementêre vraag deur die DA bekend gemaak.

Die uitgawes van nagenoeg halfmiljoen rand sluit die assistent se reisuitgawes en verblyf in.

Die DA wil nou weet waarom dit nodig was dat sy assistent in Oktober saam met hom moes reis, asook wie die geheimsinnige maatskappy is wat glo vir Cele se uitgawes ingestaan het.

Die party het reeds ʼn aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) ingedien om die volgende inligting te bekom:

  • die naam van die private maatskappy wat Cele se reisuitgawes betaal het;
  • of dié maatskappy enige verbintenis met die polisie of regering het;
  • of Cele se assistent in eerste- of besigheidsklas gevlieg het;
  • of die assistent in vyfsterhotelle op die belastingbetaler se rekening gebly het; en
  • of enige bykomende uitgawes vir BBP-beskerming aangegaan en met belastinggeld betaal is.

Okkie Terblanche, DA-parlementslid en die party se woordvoerder oor polisie, sê die party wil seker maak dat die beweerde maatskappy nie op enige manier deel is van die polisie se verskaffingsketting, en/of enige tenderooreenkoms met die polisie het nie. Indien wel, sal dit oneties wees en strydig met die Wet op die Etiek van Lede van die Uitvoerende Gesag en die gedragskode wat op uitvoerende regeringsamptenare van toepassing is.

Terblanche sê dit is daarbenewens verstommend dat die minister sou toelaat dat byna ʼn  halfmiljoen rand op ʼn assistent bestee word terwyl die rieme van die polisie se begroting juis bitter dun gesny word, met ʼn groot tekort aan speurders en talle uiters vervalle polisiestasies.

“Hoe dit ook al sy, is dit duidelik dat die reis nie deel van die minister of sy departement se verpligtinge was nie, aangesien dit privaat betaal is. Die feit dat ʼn personeellid se onkoste dan deur die belastingbetaler betaal word, is ʼn duidelike oortreding van die Etiekwet en die gedragskode.

“Die gedragskode bepaal dat ʼn uitvoerende lid ten alle tye in die belang van goeie regering moet optree, en nie hulself op enige wyse gedra wat tot ʼn konflik van belange kan lei, of hul posisie misbruik om enige ander persoon te bevoordeel nie. Die DA sal gevolglik ʼn etiekklagte by die parlement indien om Bheki Cele vir ʼn tweede keer in etlike maande tot verantwoording te roep.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Ore ·

Is die assistent ‘n hy of ‘n sy? Dit blyk dat die regering geen benul het van geld nie en spandeer asof daar geen begroting is nie. Hulle benadering is kom ons doen wat ons wil en dan verduidelik ons later. Lees hiermee saam die R5m wat aan ‘n begrafnis vir ‘n weermag kader spandeer is. Kom verkiesingtyd, dan vertel Rampposa hoe apartheid die oorsaak van armmoede is en dat die ANC die gemeenskappe gaan ophef. Wat ‘n skande, wat ‘n verleentheid is Cele. maar Rampposa klou vir lewe en dood aan hom

Kokerboom ·

Die kader en sy optredes maak my naar! Wonder hoeveel soortgelyke gevalle kom nooit aan die lig? Blatante vergrype!

Willem ·

Minister van polisie maar sal ons dit sag stel gebruik die belasting betaler se geld

Leon ·

En dit nogal om na n “apartheids sport” te gaan kyk. Glo nie hy verstaan eers hoe die spel gespeel word nie

Johann ·

So asof hy hom díe keer aan iemand gaan steur wat hom durf aanvat? Kader Status sluit in onaantasbaarheid.

Karoo ·

Ja en ek glo aan die tande muis…. proof is in the pudding…. dan moet die “privaat maatskappy” maar na vore kom nie waar nie? Maar ai… dan al die ongemaklike vrae.

Ian ·

Hierdie ou maak nes hy wil. Pleks eerder daardie geld aanwend om polisie beamptes met beter voertuie toe te rus. Tyd dat hy moet gaan. Jou parking het expire

Jakkie ·

Waneer verwag julle ‘n antwoord op die minister, seker nie die jaar nie. Ek dink miskien laat volgende jaar.

Casper ·

Ramaphosa is ‘n pion in Cele se hande,want hy is net president op papier.Cele sal niks oorkom nie so hou op kla en kermis.

Papsak ·

Dit is darem lekker ne belastingbetalers se geld moet vir hulle betaal om rugby te gaan kyk maar ons kon dit nie eers sien op tv so pateties is die SABC ne

Nicky ·

Hulle se aanhouer wen, so bly op sy hakke weet net nie wanneer nie maar val gaan hy val

Jannie van Niekerk ·

Okkie jy het vir Cele alreeds figuurlik geproke bloedneeus gegee toe jy nog Generaal in die polsiie was en hy die Kommissaris. Gee hom nog ‘n keer bloedneus, Hy is vrekbang vir jou

Blikke ·

Ja @ Estelle , ek stem saam, die ou kom met als weg en niks gebeur met hom nie…untouchable!!

Elizé ·

Om met belasting betalers se hardverdiende en eerlike gelde so spandabelrig en rojaal te kan rinkink en te misbruik is pateties! Daai buitensporige fondse kon aangewend word om die huidige krisis op ons paaie effens te verlig…wel, maybe een pad!! Dan praat ek nie eens van die R5milj vir ‘n begrafnis nie. Hoeveel van hierdie gelde word werklik vir die doel aangewend en hoeveel beland in daai sakke? Skandelik!!

Ronél ·

Die mag en toegang tot belastingbetalers se geld het geen einde nie…………

John ·

Hoekom moet die belasting betaler vir die assistents betaal? Om sulke bedrae geld van die publiek te ontvang kom never op OMKOPERY. Die man moet ondersoek en vervolg word

JohanR ·

Die ou dink rerig dat almal in SA is 25percenters en hy is die enigste 30percenter!

Leon ·

Ek glo ń kommissie van ondersoek wat R50 miljoen gaan kos is in die pyplyn.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.