Cele moet opdok vir polisiehelikopter, meen DA

Argieffoto (Foto: SAPD/Facebook)

Die DA meen die polisieminister Bheki Cele moet in sy persoonlike kapasiteit betaal vir ʼn helikopter van die Suid-Afrikaanse Polisiediens wat hy gebruik het om die ANC se verkiesingsmanifes by die Moses Mabhida-stadion in Durban by te woon.

“Cele se helikoptertruuk was ʼn growwe misbruik van staatshulpbronne en hy moet betaal vir elke vlugminuut wat die helikopter in die lug was,” sê Andrew Whitfield, die DA se skaduminister oor polisie.

Die DA versoek ook ʼn volledige interne SAPD-ondersoek om die besluit te hersien wat die magtiging vir die gebruik van die helikopter deur Cele moontlik gemaak het.

“Al die SAPD-beamptes wat hierdie onreëlmatige gebruik goedgekeur het, moet onderwerp word aan ʼn dissiplinêre proses.”

Whitfield sê Cele het opnuut sy minagting bewys vir die Suid-Afrikaanse publiek deur staatshulpbronne te gebruik vir ʼn ANC-partybyeenkoms. “Staatshulpbronne, insluitend SAPD-bates, mag nooit vir partypolitieke geleenthede aangewend word nie. Cele se gebruik van ʼn polisiehelikopter is ʼn teken van ʼn arrogante sin van geregtigdheid wat die stempel geword het van ANC-politici. Hy wend eerder die SAPD se misdaadbekampingshulpbronne aan vir persoonlike gebruik eerder as om Suid-Afrikaners te beskerm wat geteister word deur ʼn misdaadgolf wat ʼn nasionale krisis geword het.”

Whitfield sê dit is duidelik dat die ANC en sy ontplooides in die regering só gewoond is aan hul hoë leefstyl sonder beurtkrag, die daaglikse BBP-beskerming en die vervoer deur bloulig-brigades dat hulle buite voeling geraak het met die daaglikse lot van Suid-Afrikaners. “Hulle het lankal vergeet wat die lyn is tussen staat en party.”

Die DA is van voornemens om alles in sy vermoë te doen om seker te maak dat Cele persoonlik aanspreek gehou word vir die vlugkoste.

SAPD ontken persoonlike gebruik

Brig. Athlenda Mathe, woordvoerder van die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur (Natjoints), sê egter dit is nie waar dat die polisiehelikopter vir Cele se persoonlike gebruik aangewend is nie.

Sy sê die helikopter is, net soos met enige ander groot byeenkoms, ontplooi om die groot skare te monitor.

“Die minister van polisie, wat verantwoordelik is vir die veiligheid en sekuriteit van almal in Suid-Afrika, was besig met sy grondwetlike verpligting as ʼn minister van polisie waar hy bedrywighede gelei en geadviseer het. Dit is nie ʼn geïsoleerde voorval waar die minister leiding en advies verskaf oor maatreëls wat in plek moet wees om groot skares te beheer nie,” sê Mathe.

Natjoints is die bedryfsbeen van die interdepartementele groep belas met justisie, misdaad en veiligheid (JCPS), verantwoordelik vir die veiligheid en sekuriteit van alle groot byeenkomste in die land, kragtens die Wet op Veiligheid vir Sport en Ontspanningsgebeure (Sasrea).

“By alle groot byeenkomste moet verskeie wetstoepassingsagentskappe, onder leiding van die SAPD, hulpbronne saamspan om seker te maak dat alle byeenkomste sonder voorvalle of misdaad plaasvind. Dit is teen dié agtergrond dat die medevoorsitter van Natjoints, wat ook die adjunk- nasionale kommissaris is vir sigbare polisiëring en bedrywighede in die SAPD, seker sal maak dat voldoende polisiehulpbronne ontplooi word vir verhoogde patrollie te voet, in voertuie en in die lug.”

Sy sê tydens groot byeenkomste verskaf die SAPD-lugvleuel ondersteuning aan lede op die grond om bedrywighede te adviseer en te lei.

“Hierdie maatreëls word in plek gestel om ʼn stormloop of enige ander lewensgevaarlike voorval te voorkom.”

Sy sê die medevoorsitter van Natjoints oorsien en monitor bedrywighede met die gebruik van alle beskikbare hulpbronne, net soos enige ander geleentheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Miena ·

Dis nie die minister se plig of werk om groot skare te monitor of bedrywighede te lei en adviseer op nie. Dit is hoekom daar raadgewers en ander mense in posisies is om die werk te doen en aan hom te raporteer oor hoe hulle groot skares gemoniteer of bedrywighede gelei het. Gewoonlik word die organogram of hierargie van n entiteit gevolg om resultate te bereik. Dit is nie my GM se werk om lokale skare beheer toe te pas as die gemeenskap rondom ons myne wil dans en sing nie. Dis hoekom daar n sekuriteits bestuurder en -offisiere is. Of redeneer ek nou soos n mot – al in die rondte om n flou kersvlammetjie?

Martie ·

Maar ‘n politieke byeenkoms is nie ‘n sport of ontspannings geleentheid nie. En hoekom moet die minister van polisie daar wees, hy handhaaf mos nie wet en orde nie. Dis sy onderdane wat dit doen. Hy delegeer of ken die ministers nie hulle werk nie?

Cassie Carstens ·

Growwe misbruik van staatsentiteite vir politieke doeleindes. Hulle is puik daarmee om liegstories uit te dink, Hulle dink ook maar min van hulle ondersteuners as hulle bang is hulle sal oproerig raak – maar hulle verwelkom die stemme.

Spookasem ·

Lame excuse re Cele in his personal capacity monitoring crowd control at an ANC function. Sounds just like Zuma’s ‘fire-pool’. Just wait a while and Mr Fix ‘nothing’ will most likely admit that the official reason for the police helicopter use was indeed a lie. Or has the ANC now muzzled him permanently as he has a habit of opening his mouth before putting his brain into gear. Not that any of them have working brain gears, except when it comes to how much more they can steal and abuse our taxes. What are we paying taxes for? Uuugghh

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.