Chaos ná diere in KZN ontsnap

Wagte se veiligheidshuis is aan die brand gesteek (Foto: Verskaf)

Lede van die publiek het die afgelope naweek na die Hluhluwe-Imfolozi Park in KwaZulu-Natal opgeruk nadat twee witrenosters en twee leeus verlede week uit die wildreservaat ontsnap en die gemeenskap geteister het. Die toegangshekke was gevolglik die hele naweek vir die publiek gesluit.

Volgens Musa Mntambo, woordvoerder van Ezemvelo KZN Wildlife, is wagte se veiligheidshuis aan die brand gesteek en sonpanele beskadig. Van die betogers het by personeel se verblyf ingebreek en verskeie items – wat aan die veldwagters behoort – gesteel. Dit sluit in selfone en kos.

“Twee witrenosters en twee leeus het onderskeidelik verlede Dinsdag en Vrydag ontsnap. Een van die renosters is die Donderdag weer gevang,” sê Mntambo.

Die ander renoster het die 45-jarige Zandile Mbhele buite haar huis naby die park se westelike grensheining aangeval. Sy is ná die voorval in die hospitaal opgeneem, bevestig Mntambo.

Betogers het sonpanele beskadig (Foto: Verskaf)

“’n Lid van die gemeenskap het op die renoster geskiet, waarna hy in sy verwarde toestand begin hardloop en die vrou in die proses gestamp het.

“Die renoster het ook skade aan die heining van sommige nabygeleë huise aangerig.”

Verder is een van die twee leeus doodgeskiet nadat dit vier beeste gevang het.

Dit volg sowat ’n maand nadat Ezemvelo KZN Wildlife ses van die park se leeus van kant moes maak, nadat die diere gemeenskappe in die omgewing van Nqulwane en Okhukho die afgelope ruk vrees op die lyf gejaag het.

Die leeus het minstens ses beeste in die gebied gevang.

Volgens Mntambo het die jongste betoging die Ezemvelo-bestuur onkant gevang aangesien die bestuur met lede van die gemeenskap tot ’n vergelyk gekom het ná bogenoemde voorval.

“Daar is op die vergadering besluit dat die park twee maande gegun sou word om die beskadigde heining te herstel. Daar is ook besluit dat plaaslike werkers aangestel sal word om te help met die herstel van die heining.”

Ntsikelelo Dlulane, waarnemende uitvoerende hoof van Ezemvelo, het sy frustrasie uitgespreek oor die jongste ontsnappings. Hy het ook ʼn beroep op gemeenskappe gedoen om hulle van betogings te weerhou.

Dlulane het intussen met ʼn paar lede van die gemeenskap vergader oor die skade aan hul heinings. Mbhele se familie het die vergadering bygewoon.

“Ezemvelo het begin om die beskadigde heining te herstel en sal al die koste verbonde aan die skade betaal,” het Dlulane bevestig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Catherina ·

Disgusting behavior. Brand alles af…..maklikste. Wat word van hierdie land?

Patch ·

So onnodig!!! As die reservate en wildtuine hulle heinings patroleer en instand hou sal die diere nie uitbreek of sommer uit loop nie.

Shakespeare ·

Goeie genugtig. Wat op dees aarde laat swart mense alles afbrand, hulle self in die voet skiet en menigte ander mense laat ly. WHAT IS WRONG WITH YOU !!!!!???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.