Ses leeus in KZN van kant gemaak

‘n Lugfoto van een van die leeus wat die naweek in KwaZulu-Natal van kant gemaak is nadat die diere verskeie beeste gevang en glo hul vrees vir mense verloor het. (Foto: KZN Ezemvelo Wildlife)

Ezemvelo KZN Wildlife het ses leeus van die Hluhluwe-Imfolozi Park van kant gemaak wat gemeenskappe in die omgewing van Nqulwane en Okhukho die afgelope ruk glo geterroriseer het.

Die ses leeus is Vrydag van kant gemaak nadat hulle glo minstens ses beeste in die gebied gevang het. Inwoners doen nou ʼn bestekopname van hul vee en die getal kan dalk selfs hoër wees.

“Die meeste mense leef die afgelope ruk in vrees vir hul lewe en was doodbang om dit in die weidinggebiede wat hulle vir hul vee gebruik, te waag,” sê Musa Mntambo, woordvoerder van Ezemvelo KZN Wildlife.

“Daar was toenemende woede onder die gemeenskap omdat daar gevrees is dat die leeus hul vrees vir mense verloor het.”

Verskeie inwoners van die gebied voer aan hulle het die leeus teëgekom en pleks daarvan dat die diere van mense vlug – soos hulle gewoonlik doen – het die leeus op hul afgestap en inwoners gedwing om te vlug.

Die owerheid het twee inwoners Saterdag op ʼn helikoptervlug oor die gebied geneem sodat hulle self kan sien dat die leeus van kant gemaak is. Slegs twee karkasse kon uit die lug gesien word en volgens Mntambo is die ander vier karkasse “deur die gemeenskap vir hul gebruik verwyder”.

Gemeenskapsverteenwoordigers is met ‘n helikopter geneem om self te sien dat die leeus van kant gemaak is. (Foto: KZN Ezemvelo Wildlife)

Verskeie inwoners het saamgedrom by een van die leeus se karkasse.

“Die besluit om die trop van kant te maak is geneem ná verskeie gemeenskapsbetogings,” sê Mntambo.

Dit het onder meer daartoe gelei dat ʼn heining geknip en ʼn kantoor van die Hluhluwe-Imfolozi Park beset is. Inwoners het gedreig om daar te bly tot die LUR hul probleme pak, maar ook om leeus te jag en dood te maak, sou hulle enige van die diere teëkom.

Ná ʼn vergadering met die LUR is onderneem dat die leeus van kant gemaak sal word indien die diere weer ontsnap, veral weens vrese dat die trop mense moontlik kan aanval.

Daar is voorts besluit dat die heining herstel sal word en plaaslike mense daarvoor in diens geneem sal word. Die vergoedingsbeleid oor voorvalle soos hierdie sal ook hersien word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Mariana ·

Hulle kon gedart geword het en na n reservaat geneem word. Of in een vd nationale parke gerehab word.

Snuffelgids ·

So die mense wat die skade aangerig het, gaan nou betaal word om dit reg te maak. Lekker Afrika mentality

Danny ·

‘Vir hul gebruik verwyder’ ? Skandelik dat mense dit so hanteer, daar is duidelik nie deur die korrekte stappe gewerk nie. Maar in die land betoog en verset mense mos tot jy jou sin kry, ongeag of dit wetlik is of nie.

Henri ·

Wat was eerste, die leeus wat ontsnap het of die draad wat geknip is?

H.A. ·

ROWERS IS BAIE ERGER, HULLE SKIET OF VERMOOR TALLE MENSE EN HULLE VREES OOK NIE MEER MENSE NIE- HULLE WORD DAN NIE DOODGESKIET NIE. HULLE KRY OOK NIE DIE GALGTOU NIE, NET 15 JAAR TRONKSTRAF EN NA10 JAAR IS HULLE VRY VIR DIE VOLGENDE MOORDTOG !

domheks ·

Dis hulle eie skuld! Hoekom is die drade geknip? Let die leeus geleer hoe om tange te gebruik!

Jack ·

Die wildpark is skuldig aan nalatigheid of die beeste is in die reservaat ingejaag deur die volk. Nou moet die leeus dood want die skuldiges eis dit. Ongelooflik hoe dit geregverdig kan word. Daai einste klaers jag waarskynlik daagliks wild in die park en die leeus was vir hulle n bedreiging. So kom ons maak iets op en raak ontslae van die gevaar en word nog betaal vir sogenaamde skade.

Astrain ·

Die nedersettings sny die drade om te gaan poach…en dan kom poach die leeus hulle…ek sou graag ‘n paar van daardie leeus wou aanneem om op ons plaas ons op te pas teen poachers van mense!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.