Coligny, ʼn dorp wat nog smeul

coligny-10

Coligny, die plattelandse dorpie in Noordwes, sal nooit weer dieselfde wees nie. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

“Daar is baie van die mense in Coligny gesê. Daardie woorde is nou uit, dit lewe daar buite…”

Dit is die woorde van een van die sakemanne van Coligny wat met my gesels het tydens Maroela Media se besoek verlede week aan die eens rustige plattelandse dorpie in Noordwes.

Ná bietjie meer as ʼn maand probeer die dorp se gemeenskappe nog tot verhaal kom nadat Coligny deur ‘n vlaag van gewelddadige betogings, plundertogte en brandstigting verskeur is.

Die Afrikaner-gemeenskap van die dorp is omgekrap en daar heers ʼn mate van hopeloosheid oor die dorp. Dié mense voel hulle is as rassiste gebrandmerk, en met hierdie etiket om hul nekke word daar nou van hulle verwag om Coligny saam met die res van die gemeenskappe in die dorp te herbou.

Protes, plundering en brande

coligny-003

Optogte in Coligny het vinnig gewelddadig geword en huise van wit inwoners is afgebrand terwyl talle winkels geplunder is. Foto: ANA.

Aanvanklik het die dorpenaars gedink dit is maar net nog ʼn protes teen die swak dienslewering in Coligny wat op Maandag 24 April deur die dorp trek. Iets wat ʼn gereelde verskynsel was in ʼn dorp waar ’n mens vergete voel nadat talle regeringsbeloftes vir basiese geriewe soos water, elektrisiteit, sanitasie en skole 23 jaar ná die aanvang van demokrasie nooit gerealiseer het nie.

Vensters is stukkend gegooi, drankwinkels is geplunder en kantore is met petrolbomme bestook. Net meer as 24 uur later het die betogings ʼn nuwe wending geneem: gerugte het die ronde begin doen dat twee gemeenskapslede, Pieter Doorewaard (26) en Phillip Schutte (34), glo verantwoordelik was vir die dood van ʼn jong seun, wat eers weke later as die tiener Matlhomola Moshoeu geïdentifiseer is.

Die gemeenskap is verskeur tussen gerugte dat hy glo doodgeslaan is en bewerings dat hy van Doorewaard en Schutte se bewegende bakkie afgespring het. Hulle wou hom na die polisie neem omdat hy glo sonneblomme gesteel het. Dié twee is van moord aangekla en het kort daarna in die hof verskyn.

Die volgende vlaag protesoptogte tref die dorp en drie huise word afgebrand toe Doorewaard en Schutte borgtog kry. Wit mense wat die jong mans ondersteun word gedreig: “Ons ken jou, ons weet waar jy bly!”

Die media en politici sak toe op die dorpie in Noordwes, wat die laaste keer die nuus gehaal het toe Hestrie Cloete (née Storbeck), ʼn boorling van Coligny, ʼn silwer medalje in hoogspring by die 2000 en 2004 Olimpiese Spele behaal het. Koerantopskrifte basuin dit uit: “Apartheid en rassisme is springlewendig in Coligny.” Politici van onder meer die ANC en EFF vertel aan enige iemand wat wil luister wit mense van die dorp vermoor goedsmoeds swart mense, die polisie beskerm wit mense ten alle koste en wit mense behandel al die ander as tweederangse burgers.

Aantygings, bewerings en provokasie

coligny-002

Nog ʼn gemeenskap wat geteiken is, is die 35 Bangladesjers wat ʼn hele aantal spaza-winkels bedryf het. Die winkels is leeggedra en afgebrand. Foto: ANA.

Wat maak ʼn mens as jy hierdie soort aantygings oor jouself en van jou gemeenskap lees, vra ek onder meer vir Esmé Oelofse, ʼn prokureur in die dorp, en dr. Rabie Barnardt, die gesinsgeneesheer van Coligny. Hulle woon albei al meer as 25 jaar op die dorp.

“Ek kan vir jou sê hier is nou ʼn groter rassebewustheid as ooit tevore op die dorp. Ons is emosioneel net nie meer op dieselfde plek as wat ons meer as ʼn maand gelede was nie. Op die dorp se WhatsApp-groep kan jy die mense se vrees en nood lees,” sê Oelofse. Haar kantore is Dinsdag 25 April met ʼn petrolbom bestook en afgebrand.

In die media is daar beweer dat Barnardt aparte wagkamers vir swart mense het terwyl hy glo voorkeuringbehandeling aan sy wit pasiënte gee. Kort daarna is sy huis aan die brand gesteek.

“Ek kon dit nie glo nie, nie in my wildste drome nie. Ek het ʼn afspraakstelsel, maar mense mag ook net opdaag vir ʼn konsultasie. Ek help mense met afsprake op tyd, terwyl dié wat net inloop wel ʼn bietjie langer moet wag, maar hulle kry korting op hul konsultasiefooi en medisyne by. Ek het twee spreekkamers soos meeste ander dokters, maar ek het nie twee wagkamers nie en behandel my pasiënte dieselfde.

“Ek is 55, op my ouderdom wil jy begin afskaal en jou praktyk aan ʼn jonger dokter oorgee. Nou is my geld niks werd nie, my huis is afgebrand en my vrou is bang vir die dorp – ek het so half ʼn probleem, ek moet oorbegin – dit is nie waar ʼn mens wil wees op hierdie ouderdom nie,” sê Barnardt.

Die Indiër sakeman wie se huis ook tydens die betogings afgebrand is, wil nie met my gesels nie. Hy is net te getraumatiseerd. “Ja, hy is vandag op Coligny, maar ons hoor hy gaan met sy familie Lichtenburg toe trek,” sê Oelofse.

Nog ʼn gemeenskap wat geteiken is, is die 35 Bangladesjers wat ʼn hele aantal spaza-winkels bedryf het. Die winkels is leeggedra en afgebrand. As ek hulle groet en vra hoe dit gaan, vertel hulle my “nie so goed nie”. Hulle is reeds tussen nege en tien jaar deel van dié gemeenskap en het die betogings met net die klere aan hul lyf vrygespring.

“Ons is moeg, maar ons moet bly,” verklaar die vyf manne wat gelykertyd met my  gesels terwyl hulle ʼn video vir my wys van hoe ʼn winkel geplunder word. “Ons het nie geld om nuwe winkels oop te maak nie. Dis verskriklik.”

Coligny se uitdagings is SA se uitdagings

coligny-05

Scotland het oor die laaste ses maande soos ʼn paddastoel verrys op ʼn stuk grond wat deur die regering teruggekoop is. Daar is geen paaie of geriewe vir die inwoners van die nedersetting nie. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Na raming is daar 2 000 wit mense op Coligny, en ds. Tewie Pieters van die NG Kerk Coligny-Oos skat sowat 50% van die gemeenskap is so arm dat hulle nie eens ʼn eie motor besit nie.

Rondom die dorp is daar twee informele nedersettings, Tlhabologang en Scotland. Scotland het oor die laaste ses maande soos ʼn paddastoel verrys op ʼn stuk grond wat deur die regering teruggekoop is. Scotland word omring deur boere se landerye. “Ek kan nie glo hoe die regering mense daar kan plaas nie; daar is nie ʼn pad nie en geen dienste op die stuk grond nie. Daar moet water na die mense aangery word, maar die waterkarre kan nie by hulle uitkom nie. Die inwoners van die nedersetting moet deur landerye loop om by die waterkarre of dorp uit te kom,” sê Oelofse. Dit klink nie of die omstandighede in Tlhabologang veel beter is nie.

Die nedersettings het tussen 20 000 en 50 000 inwoners – niemand is seker nie – maar bykans 90% van hierdie mense is werkloos. Blykbaar is die meeste van hierdie inwoners, sowat tweederdes, tussen die ouderdom van 15 en 28.

Hulle het min vooruitsigte; die kanse dat Coligny en die omringende plase se ekonomiese aktiwiteite hierdie werkloses ooit voltydse arbeid kan bied, is betreklik skraal. “Hierdie massa werkloses is beïnvloedbaar,” meen Oelofse.

Pieters is, soos baie ander inwoners van die dorp, oortuig Coligny is tans ʼn politieke speelbal in ’n groter stryd om mag in dié provinsie. “Die aanvalle het dikwels gekoördineerd gevoel, so of hulle ons probeer verdeel sodat ons nie oral gelyktydig kon keer nie.”

Hulle voel iemand het ʼn jong, verlore generasie aangehits om verwoesting te saai. In dié tyd het daar glo 3 000 mense op die dorp toegesak en baie is met busse aangery om aan die betogings en plundery deel te neem.

Is daar hoop?

coligny-03

Eienaars het hulle winkels in die hoofstraat van Coligny beskerm deur vensters met mure te vervang en staaldeure op te rig. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Op my vraag of Oelofse dink Coligny kan weer herstel word, sê sy: “Ja, maar dit gaan nooit weer dieselfde wees nie. Ek weet nie hoe ons die swart gemeenskap kan laat verstaan dat ons nie hul vyand is nie, dat alle wit mense nie per se rassisties is nie. Ons sal mekaar weer van voor af moet leer vertrou.”

Pieters gaan wys my die draai waar Moshoeu vermoedelik dood is. Daar is soveel vrae oor die seun: Waar was sy ouers van die begin af? Waarom neem dit ʼn ma of pa eers tien dae om aan te meld dat hul kind dood of weg is? Hoekom was die kind nie in die skool nie?

Hy beskryf dit as ʼn “tragiese voorval”, maar hy glo nie die jong manne is direk vir Moshoeu se dood verantwoordelik nie.

“Hierdie gemeenskap is getoets. Hulle het twee weke se provokasie met waardigheid deurstaan terwyl hulle op hul knieë gedwing is sonder om reg in eie hande te neem. Wys vir my nog ʼn gemeenskap wat dit sou kon deurstaan?”

Terug in die hoofstraat van Coligny is daar min tekens van die geweld wat ʼn paar weke gelede hier afgespeel het. Hier en daar is nog ʼn enkele gebreekte ruit of ʼn stukkende glasdeur.

coligny-01

Winkels se vensters word toegebou. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Dan wys Pieters dit aan my uit – die nuut geboude baksteenmure wat die winkelvensters vervang. Vir my ʼn simbool van die mure waarmee gemeenskappe hulleself omring het ná die geweld. Hoe dit afgebreek kan word sodat daar weer versoening kan wees, sal net die tyd leer.

Alet Rademeyer, redakteur van die burgerregte-organisasie AfriForum se tydskrif Forumnuus skryf: “ʼn bloedbad is in Coligny in 2017 afgeweer”, maar sy vra soos baie bekommerde mense hoe lank kan al die ander klein dorpies in die land wat ten gronde gaan uithou, terwyl die massa vergelding soek vir die leë beloftes van ʼn korrupte en selfbehepte regering.

Mandie Rademeyer en Henriët van Loggerenberg (regs) help leerders met hulle huiswerk in Coligny se gemeenskapsbiblioteek. Van Loggerenberg word deur die Noordwes-regering vir haar opheffingswerk in dié gemeenskap geloof. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Pieters glo daar is hoop; hy het planne vir die dorp. Hulle gaan die hoofstraat regruk, verf en hy het sy oog op ʼn gebou waar hy ʼn koffiewinkel wil begin. Hy neem my na die biblioteek waar die bibliotekaresse Henriët van Loggerenberg deur die Noordwes-regering geloof is vir die opbouende werk wat sy al die afgelope 13 jaar in die gemeenskap doen.

AfriForum en Solidariteit het ook die dorp besoek. Die organisasies het saam met gemeenskapsleiers werkbare planne en strategieë bedink om die gemeenskappe te bemagtig en te beveilig. Daar word ook binnekort traumaberading vir die gemeenskap gebied.

“Jy kan weer oor agt maande kom kyk, jy gaan ʼn ander dorp sien,” nooi Pieters.

* Op pad terug na Pretoria sien ek ʼn dwarrelwind oor die mielielande dans – die Amerikaners noem dit mos ʼn ‘dust devil’. Die stofduiwel toi-toi oor die lande wat vir die eerste keer in vier jaar weer ʼn goeie oes dra. Hy ruk en pluk en skop bolle rooi stofwolke op terwyl hy droë mielieblare saamsleur, net om hulle weer so vinnig uit te spoeg.

En net so vinnig soos wat die stofduiwel opduik, verdwyn hy weer in die niet…

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

17 Kommentare

Justice ·

Dr. Albert Schweizer was net so ontnugter nadat hy sy lewe as mediese dokter en sendeling aan hulle toegewy het.

L.T ·

Hoekom twee afspraakkamers as een nie vir wit en een vir swart is nie.

Jan Nel ·

L.T, daar kan verskeie redes wees vir 2 afspraakkamers. Dit gebeur baie dat pasiënte met aansteeklike siekte of bloedbeserings by ‘n dokter opdaag. Dan kan hy voortgaan met sy afsprake in die ander een, terwyl die eerste skoongemaak en gesteriliseer word. Op besige dae kry dokters ook soms hulp in van spesialiste of ander dokters, waar al twee spreekkamers dan gelyk beman word.

Indien jy egter ‘n rassistiese uitkyk op die lewe handhaaf, kan jy seker spekuleer dat een vir wittes en een vir swartmense is.

Vic ·

Ai tog. Terwyl die een pasient uittrek, neem die verpleegster solank bloeddruk, temperatuur en pols. Die dokter sien die ander een. Terwyl nommer 2 aantrek, sien die dokter nommer een. Nommer3 kom in nommer 2 se plek in. Nommer 4 neem oor van nommer twee. Baie eenman spreekkamers funksioneer op die manier. Mens noem dit goed georganiseerde harde werk…..

Deon ·

L.T. daar is deesdae baie min dokters en spesialiste wat nie twee spreekkamers het nie. Terwyl hy die die een pasiënt sien word die volgende een solank ingebring met sy leër. Nie so moeilik as jy nie iets soek om oor te kla nie.

Lindie ·

Ons bly ook in ‘n klein dorpie. Die dr op die dorp het twee ondersoek kamers. Jy wag jou afspraak af, en gaan wag in die oop ondersoek kamer tot dr met sy vorige afspraak klaar is, sodra die mense groet word die volgende afspraak dan na die volgende ondersoek kamer toe geneem om vir dr te wag. Mense sal werklik ras in alles in sleep, of dit daar is of nie? Jy maak ‘n afspraak, as dr vir enige rede laat is, is almal laat. Al waneer daar vir enige rede voorkeur gegee word is in noodgeval bv hartaanval of iets dergliks. Dan gee ek nie om, om langer te wag nie, wit of swart.

marie ·

Compulsive liars and habitual thieves: Mnr. Livingstone in Sambia oor die Lozi bevolking. Niks het verander nie.

Inco Gnito ·

Lichtenburg > Coligny > Biesiesvlei > Op hierdie oomblik is die gepeupel– aangekarwei van elders– aan die brand in Sannieshof se hoofstraat. Tja.

Lollie ·

L.T., my huisdokter het ook 2 afspraakkamers. Sy ontvangskamer is baie klein en terwyl hy in 1 besig is wag jy in ander 1. Daar is nie van 1 vir wit en 1 vir swart nie maar dit wys jou net hoe elkeen sy eie aflydings maak en glo hy is reg! Spreekwoord sê mos as jy ń hond wil gooi SAL jy ń klip kry. Almal is nie rassisties nie maar net oor jy wit is is jy skuldig daaraan! Magtig soek liewer oplossings i.p.v. ook klippe!

Leon van Rensburg ·

Dit is absolute twak. Ek het lank in Lichtenburg gebly en hy was baie van my kliente se dokter. Ek moes menigmaal na sy spreekkamers om mediese vir versekerings doeleindes of te gaan afgee of op te laai. Wit en swart, ha ha, absolute snert!

Peet J ·

Die afspraakkamers is sekerlik bedoel om ook higiëniese standaarde te kan handhaaf asook om pasiënte wat net voorskrifte moet afhaal tegemoet te kom m.b.t. ‘n tydsfaktor. Die swartmeerderheid moet ingedagte hou dat demokratiese-optrede nie Wetgewing mag oorvleuel nie.

JP vd Merwe ·

Ai as ek die berig reg lees verwys die 2 spreek kamers vir 1. Mense met afsprake en 2. Mense wat net instap om die Dr te sien. Dan ook is dit platteland wat weinig stedelinge die dinamiek en realiteit verstaan. Die instap spreek kamer dien ook as kliniek dus verskil dit in wese van n gewone Dr kamers. As dit enigsins soos ons dorp is sal jy in beide mense van alle rasse vind want die skeiding is nie ras nie maar behoefte en funksionaliteit. Dan mis ons dat vir politieke gewin n noodsaaklike diens wat die Dr aan die gemeenskap gelewer het dalk nou nooit weer sal wees nie. Tot nadeel van swart en wit!

Willie ·

My 2 spreekkamers werk so1. Vir mediese fondse en 2. Kliniek besoeke.

marianna ·

In die dorp waar ek bly is ook 2 spreek kamers dieselfde soos in Coligny, maar almal is vry om ‘n afspraak te maak en te betaal soos ek betaal dan gaan hulle na dieselfde spreek kamer waar ek gaan maar by die ander spreek kamer moet die pasiente langer wag en ‘n fooi betaal. Dit werk honderd persent.

anton ·

Ek wens dat al die witmense in S.A op een slag uit die land kon verdwyn.
Sal graag wil sien wat die res sal maak om te oorleef en wie sal hulle dan sal blameer vir alles wat fout is!!!
Justice ek weet presies wat Dr. Schweizer se woorde was nadat hy sy lewe gewy het om hulle te probeer help en ophef ens.
Wens ek kon dit hier aanhaal maar dit sal nie geplaas word nie. Eintelik baie jammer!!!

Summerfield ·

Ek het in my lewe nog nooit enige dokter se spreekkamer besoek waar daar twee aparte spreekkamers is nie. Nie eens by die veeartse nie. Ook nie hier in die VSA waar ek tans bly nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.