Cosatu, SAKP waarsku ANC oor raadslede

blade-nzimande

Blade Nzimande. Foto: Flickr/GovernmentZA

Die SAKP en Cosatu het met die plaaslike verkiesing wat al nader kom die ANC gewaarsku om nie ongewenste plaaslike raadslede op kiesers af te dwing nie.

“Terwyl ons Joe Slovo vier, wil ons vir die ANC sê om nie vir ons ongewenste raadslede te gee nie. Indien daar ʼn ANC-proses is rakende die benoeming van raadslede, hou daarby,” het Blade Nzimande, hoofsekretaris van die SAKP, gesê.

“Indien julle dit nie doen nie, sal julle gemeenskappe verdeel.” Nzimande het gesê hy stem saam met Sdumo Dlamini, president van Cosatu, wat vroeër gesê het alle lede van die drieparty-alliansie is gelyk en dat die een nie belangriker is as die ander nie.

“Ons is almal gelyke vennote, maar stem ook saam dat ons lede van die ANC is. Ons het ʼn plig om nie toe te laat dat ons as ʼn basis gebruik word van waar ander in ons beweging aangeval kan word nie.”

Nzimande het op ʼn vraag oor die SAKP se siening om as ʼn party in die verkiesing te staan, gesê lede het nog nie so ’n besluit geneem nie. “Ons het nog nie so besluit nie aangesien ons glo die ANC is steeds in ʼn posisie om te lei. Die debat moet in ons party toegelaat word en ons bly gedissiplineerd … maar ons sal nie toelaat dat die dissipline misbruik word nie; dit gaan nie gebeur nie.”

Dlamini het Cosatu se steun aan die ANC herbevestig. “Ons wil die ANC egter waarsku teen die instelling van plaaslike raadslede wat nie die gemeenskap se keuse is nie … asseblief, dit moet endkry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.