Covid-19: Eerste verhoor oor prys van gesigmaskers

(Foto: Unsplash)

Die Mededingingstribunaal hoor later vandeesmaand die eerste saak aan van pryse wat te midde van die Covid-19-pandemie glo opgeblaas is.

Die Mededingingskommissie sê hy is die afgelope paar weke oorval met klagtes van verbruikers oor die pryse van sekere noodsaaklike items, asook basiese voedselprodukte, wat glo skielik die hoogte ingeskiet het.

Die eerste saak wat aangehoor gaan word, is dié teen Babelegi Workwear Overall Manufacturers & Industrial Supplies CC (Babelegi) omdat die onderneming glo die prys van gesigmaskers aansienlik verhoog het.

Die kommissie het in sy ondersoek, wat tussen Januarie en Maart gedoen is, bevind Babelegi het die prys vir ʼn boks gesigsmaskers van R41 per boks na tot R500 per boks verhoog – dit is ʼn winsmarge van nagenoeg 500%.

Die kommissie het ook bevind daar was ʼn 888%-styging in Babelegi se pryse wanneer dit met pryse in Desember vergelyk is.

(Argieffoto: Renate Köppel/pixabay)

Ná 18 Maart het die winsmarge aansienlik gedaal nadat die onderneming se verskaffer glo ook sy pryse verhoog het. Die verskaffer word nou ook ondersoek omdat pryse na bewering opgeblaas is.

Gesigmaskers val in die kategorie van “mediese en higiëniese voorraad” en word as noodsaaklike items vir die voorkoming van Covid-19 geklassifiseer.

Ander ondersoeke wat afgehandel is, maar nog na die tribunaal verwys moet word, sluit in:

  • ʼn hardewarewinkel wat glo die prys van handskoene binne ʼn week van R99,99 na R170 verhoog het, sonder enige kosteregverdiging;
  • ʼn apteek wat glo ʼn winsmarge van meer as 300% op gesigmaskers en handontsmettingsmiddels geplaas het;
  • ʼn groothandel-hoenderverkoper wat glo sy winsmarge op hoenderstukke met 50% verhoog het, sonder enige kosteregverdiging;
  • ʼn verskaffer van gesigmaskers wat glo sy winsmarge met meer as 665% verhoog het.

“Die kommissie is nou verby die punt van morele oorreding en pleidooie vir patriotisme om die misbruik van markkrag te staak deur verbruikers op die slegs moontlike tyd uit te buit,” het Tembinkosi Bonakele, kommissaris van die Mededingingskommissie, gesê.

“Die reg moet nou sy loop neem en ons gaan ʼn vlaag vervolgings van maatskappye oor die volgende paar dae sien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Cornè ·

Skokkend!!!! Straf hulle. Hulle veroorsaak dat noodsaklike middles onbekostigbaar vir Jan alleman is.. Hulle moet sommer al die winste wat sover gemaak is aan die Solidariteitsfonds oorbetaal!!!

Cherry ·

Ek stem saam jou dit is net belaglik hulle moet gestraf word. Mense kry klaar swaar genoeg

Genis ·

Vat vas en kry klaar, hoop nie weer dis n uitgerekte storie nie… vat vas, beboet en maak toe!

Anchen ·

Toemaar hier vra hul sommer R35 per masker. Hulle raak nou belaglik!

Cherokee ·

R65? Ek weet van ‘n apteek op ‘n myndorp wat skielik R63 gevra het maar kort daarna dit effe verminder het.

Die Wolf ·

Gedurende hierdie periode kan vlytige mense beslis hulle besig hou om die maskers self te vervaardig. Dit is bygese dat hulle nie ronde hande het nie.

Frans ·

Veel makliker.Lê beslag op die produkte en verkoop teen bekostigbare pryse en beboet die uitbuiters met ‘n stewige boete.

Emily ·

Vat hulle vas, met n hengse boete en maak hulle sommer permanent toe. Elke 3de winkel sit hul pryse op soos hulle wil. Van ons het van Maart af nog geen salaris gekry nie, hoe moet ons oorleef.

Rodger17 ·

Maak winkels toe wat pryse opblaas!Van die Indiër winkels blaas hul pryse vir brood en ander kosse op.Maak al die skelm eienaars se winkels toe hulle dink net aan hulself

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.