Covid-19: Gautengse premier toets positief

David Makhura, Gautengse premier. (Foto: Jacques Naude/ANA)

David Makhura, die Gautengse premier, is die jongste van ʼn rits Suid-Afrikaanse politici wat positief vir Covid-19 getoets het.

Makhura het Vrydag bevestig hy het die virus opgedoen. Hy het Woensdag matige simptome begin toon en besluit om hom te isoleer en die volgende dag ʼn Covid-19-toets te laat doen.

“Ek het vandag [Vrydag] my toetsuitslag ontvang wat bevestig dat ek Covid-19 opgedoen het. Ek is tans in isolasie in ooreenstemming met protokol van die Wêreldgesondheidsorganisasie en sal oor die volgende 14 dae van die huis af werk terwyl ek my gesondheid dophou,” het hy in ʼn verklaring gesê.

“Gegewe die feit dat ek net matige simptome ondervind, sal ek voortgaan om te verseker dat die provinsiale uitvoerende gesag en die provinsiale koronavirus-bevelsraad voldoende reageer om die pandemie te bowe te kom en meer lewens te red.”

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het Woensdag ook bevestig dat hy Covid-19-positief en in self-isolasie is. Sy aankondiging het gekom ʼn dag nadat die premier van Noordwes, Job Mokgoro, ook bevestig het dat hy die siekte opgedoen het.

Winde het gesê hy het die naweek verkouesimptome begin toon. Hy is ʼn tipe 2-diabeet en ouer as 55, wat hom in die hoërisikogroep plaas van diegene wat ernstige simptome kan ontwikkel.

Vuyisile Ngesi, Noordwes se woordvoerder, het gesê Mokgoro het op sy beurt aan ʼn spesiale aanlyn vergadering van die provinsiale- uitvoerende raad gesê hy is in self-isolasie. Hy het Maandag ʼn toets vir Covid-19 laat doen ná die dood van Gordon Kegakilwe, ʼn lid van die provinsiale uitvoerende gesag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.