Covid-19: Netcare wil staatspasiënte help behandel

(Foto: Unsplash)

Die hospitaalgroep Netcare het aangebied om saam met die regering te werk om staatspasiënte wat vir Covid-19 gehospitaliseer moet word, te behandel.

“Gegewe die uitsonderlike omstandighede en om volhoubaarheid te verseker, sal Netcare Covid-19-verwante pasiënte op ʼn nie-winsgewende grondslag behandel en net vra dat die koste gedek word,” het dr. Richard Friedland, uitvoerende hoof van die hospitaalgroep, gesê.

“Gegrond op Netcare se vooruitskattingsmodelle gaan die gesondheidsorgstelsel, wat reeds onder druk is, sukkel om die dreigende en beduiende toename in pasiënte wat hospitaalbehandeling en intensiewe sorg gaan nodig hê, te hanteer.”

Friedland sê die hospitaalgroep steun die 21 dae lange staat van algehele inperking ten volle as ʼn poging om die verspreiding van Covid-19 te verminder. Volgens hom dui Netcare se modelle egter daarop dat, afhangend van hoe doeltreffend die inperking in werking gestel word, die tydsraamwerk deurlopend nagegaan sal moet word.

“Om ten volle voorbereid op Covid-19 te wees, is Netcare voortdurend in verbinding met kollegas wêreldwyd, veral in China, Italië en Frankryk, om te verseker die moeilike maar waardevolle lesse wat elders geleer word, word ten volle in Suid-Afrika toegepas.”

Friedland sê die hospitaalgroep het reeds stappe gedoen om te verseker dokters en gesondheidswerkers word teen die virus beskerm. Pasiënte word nagegaan voor hulle in Netcare se fasiliteite toegelaat word en werkers het bykomende opleiding ontvang.

Een van die ultravioletontsmettingsrobotte wat Netcare in sommige van sy hospitale gebruik.

Hy sê met die uitsondering van Netcare se digitale bekendstelling van sy CareOn-program, het die groep alle ander projekte voorlopig opgeskort. Geen roetine-operasies sal ook in die tyd gedoen word nie.

“Netcare is daartoe verbind om saam met die regering en ander rolspelers te werk om die pandemie in bedwang te bring en pasiënte te behandel.”

Friedland waarsku ook dat die situasie in Suid-Afrika uiters kommerwekkend bly. “Dit word toegeskryf aan die groot getalle mense wat in dig bevolkte gebiede woon, wat vererger word deurdat ʼn beduiende deel van die bevolking se immuunstelsels reeds verswak is.

“Suid-Afrika is nou besig om die winterseisoen in te gaan wanneer 19% van Suid-Afrikaners griep opdoen, ʼn situasie wat moontlik kan vererger.”

Netcare het reeds R150 miljoen bestee om sy hoësorgeenhede op te knap, ventilators, ultravioletontsmettingsrobotte, gespesialiseerde lugfilters en beskermende toerusting vir sy werkers aan te koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Martie Smartie ·

Daar is plekke soos Vista Kliniek in Pretoria wat nog steeds pasiente opneem. Dis nie-noodsaaklike behandeling nie. Kan die regering bietjie gaan kyk wat daar aangaan. Lyk my geldmaak is belangriker as die regering se lockdown.

JC Venter ·

Mediese dienste mag normaal met hul aktiwiteite voortgaan, as ek dit reg het.

Michael 1 ·

Dit is n privaat hospitaal,die regering kan vra vir hulp sou dit nodig wees maar kan nie dikteer nie.

Matewis ·

Martie, hoe is die diens wat Vista lewer nie noodsaaklik nie. Hul behandel mense met ernstige probleme. Is iemand wat probeer selfmoordpleeg en hulp nodig het volgens jou ‘n “nie-noodsaaklike” pasiënt?

Henk ·

Hopelik gaan hul nie betaling vooruit by opname vra nie en aanvaar dat hul die risiko moet loop om die koste later per rekening te verhaal?

Anel ·

Bly vêr weg van sekere Nedcare hospitale. Party van hulle is al soos staatshospitaal, gevaarlik.

Corne123 ·

Geagte netcare gaan julle my wat wel n medies het dan ook net die min vra of gaan julle my medies max vra?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.