Covid-19-samevatting: Honderde gesondheidswerkers toets positief

Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie en sy eweknie by die departement van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, kom in Rustenburg aan. (Foto: Twitter)

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Woensdag gesê 511 gesondheidswerkers het tot dusver positief vir Covid-19 getoets. Twee van dié werkers – ʼn dokter en ʼn verpleegster – het gesterf.

Altesaam 26 gesondheidswerkers is in hospitale vir behandeling opgeneem en 149 gesondheidswerkers het reeds van die virussiekte herstel.

Mkhize het Woensdag in Rustenburg gesê dit is dus uiters belangrik dat genoeg persoonlike beskermingstoerusting beskikbaar is.

Die minister is in Noordwes waar hy van dié toerusting van die maatskappye Old Mutual en Sibanye ontvang het.

Washington “maak virusbedreiging as onbelangrik af”

Elders in die wêreld het ʼn voormalige Amerikaanse wetenskaplike wat in beheer was van die ontwikkeling van medisyne en entstof ʼn sogenaamde fluitjieblaser-klagte ingedien omdat hy glo lankal sy kommer oor die virus aan die Withuis te kenne gegee het.

(Foto: IANS)

Rick Bright, die voormalige direkteur van die Amerikaanse Biomedical Advanced Research and Development Authority (Barda), voer aan die Withuis het die bedreiging van die virus as onbelangrik geag.

Sy regspan voer aan Bright het sy kommer oor die virus in Januarie al te kenne gegee, maar het teenkanting van die hoof van die departement van gesondheid en menslike dienste, Alex Azar, en ander amptenare gekry.

“Dr. Bright het met dringendheid opgetree om die pandemie te begin pak, maar het weerstand gekry van die departement se bestuur, ook min. Azar – wat gelyk het of hy vasbeslote was om die katastrofiese bedreiging as onbelangrik af te maak,” voer Bright in ʼn klagte van 89 bladsye lank aan.

ʼn Woordvoerder van die departement het gesê Bright is na ʼn ander pos verskuif, maar het nie vir werk daar opgedaag nie. Bright voer aan hy is uit sy pos verwyder omdat hy Washington se pogings bevraagteken het om onder meer malariamedisyne as geneesmiddels vir Covid-19 te steun.

Hy getuig later vandeesmaand voor ʼn paneel van die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers.

Meer as 1,2 miljoen mense in die VSA het reeds positief vir die nuwe koronavirus getoets en meer as 72 000 mense het reeds daaraan gesterf.

Polisiebeampte toets positief

Die Tshwane-metroraad het ʼn gedeelte van sy rampbestuursentrum gesluit nadat ʼn polisiebeampte wat by die sentrum ontplooi is, positief vir Covid-19 getoets het.

Die polisiebeampte is by die operasionele sentrum gevestig van waar die stad se bestuur van die maatreëls om Covid-19 te bekamp, beheer word.

Mpho Nawa, die stad se administrateur, het Woensdag gesê die beampte het deur die daaglikse siftingsproses gegaan wat die neem van sy temperatuur, die invul van ʼn vraelys en ontsmetting insluit. Sy is daarna vir ʼn onverwante mediese prosedure in ʼn hospitaal opgeneem en het daar positief vir Covid-19 getoets.

As voorkomende maatreëls is al 54 individue wat in aanraking met die beampte gekom het, getoets en aangesê om vir 14 dae in selfisolasie te gaan.

Nawa het gesê die stad het die voorgestelde voorkomingsmaatreëls deurlopend gevolg. “Die gebou word daagliks ontsmet om higiëniese standaarde te handhaaf en siftingstoetse en ontsmetting word gedoen van almal wat die fasiliteit binnekom,” het hy gesê.

Omdat die verskillende afdelings gedesentraliseerd werk, het die voorval nie die stad se pogings om Covid-19 te bestry in die wiele gery nie.

EU-ekonomie wankel

‘n Byna verlate hoofweg in Frankfurt in Duitsland. Die EU se ekonomie wankel weens die voortslepende Covid-19-pandemie. (Foto: Michael Probst/AP)

Die Europese Unie (EU) het Woensdag gesê ʼn “resessie van geskiedkundige omvang” word vanjaar voorspel weens die uitwerking van Covid-19 op die ekonomie.

Die EU bestaan uit 27 lande en die gesamentlike ekonomie gaan vanjaar met 7,5% ineenkrimp en volgende jaar weer met 6% styg. Die lande wat die euro as geldeenheid gebruik, gaan vanjaar ʼn afname van 7,75% sien en groei van 6,25% word vir 2021 voorspel.

Meer as 1,1 miljoen mense in Europa het reeds Covid-19 opgedoen en 137 000 het gesterf.

In Februarie het die Europese Kommissie “matige en bestendige” groei vir vanjaar voorspel. In daardie stadium was onsekerheid oor die Amerikaanse handelsbeleid en die Brexit-ooreenkoms, asook spanning in Latyns-Amerika en die Midde-Ooste die Europese ekonomie se grootste bedreigings.

Daar is aanvanklik gedink die uitbreking in China gaan ʼn beperkte uitwerking op die EU hê.

Schengen-grense bly gesluit

Franse is gewaarsku dat hulle nie vanjaar vir die somervakansie die land sal kan verlaat nie (Foto: Rafael Yahgobzadeh/AP)

Die Franse regering het burgers gewaarsku dat hulle weens die Covid-19-pandemie nie die land sal kan verlaat nie.

Jean-Baptiste Lemoyne, ʼn adjunkminister by die Franse departement van buitelandse sake, het gesê die grense van Europa se Schengen-gebied, wat uit 26 lande bestaan, gaan “vir verskeie weke of selfs verskeie maande” nog gesluit bly.

Die opmerking is die jongste waarskuwing van die Franse regering dat vakansiegangers hul verwagtinge vanjaar beduidend gaan moet aanpas. Die regering het mense gevra om in Frankryk self vakansie te hou – ook om die toerismebedryf te help wat weens die pandemie op sy knieë gedwing is.

Disneyland in Sjanghai heropen

Disneyland in Sjanghai heropen na verwagting volgende week onder “verhoogde gesondheid- en veiligheidsmaatreëls”, het die maatskappy gesê.

Aanvanklik sal slegs ʼn beperkte getal besoekers toegelaat word en hulle moet vooraf kaartjies bespreek.

Sosiale distansiëring en streng ontsmettingsmaatreëls sal oral geld.

Danksy die warmer weerstoestande en nuwe virusgevalle in China wat beduidend afgeneem het, het China stadigaan parke, museums en ander toeristeaantreklikhede begin heropen. Dit sluit China se Groot Muur en antieke paleiskompleks van die Verbode Stad in Beijing in.

Bykomende bronne: AP, Xinhua

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.