Covid-19-samevatting: Inkomstediens meld nog gevalle aan

(Argieffoto)

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het gesê nog twee van sy werknemers het positief getoets vir die nuwe koronavirus wat Covid-19 veroorsaak. Die inkomstediens het nou reeds sewe gevalle van Covid-19 aangemeld.

Die SAID het Dinsdag in ’n verklaring gesê van die betrokke werknemers het een in die Vrystaat, een in KwaZulu-Natal, een in Noordwes en vier in die Wes-Kaap positief getoets vir Covid-19.

Een van die werknemers sterk tans in die waakeenheid van ’n hospitaal aan en is in dié stadium aan ’n ventilator gekoppel.

Edward Kieswetter, kommissaris van die SAID, het in die verklaring gesê die kantore waar die betrokke werknemers werk, is reeds ontsmet. Die SAID se tak in Bellville in die Wes-Kaap sal om dié rede eers Woensdag heropen, het Kieswetter gesê.

Luidens die verklaring is diegene wat moontlik in kontak met die werknemers gekom het, reeds nagespeur en versoek om ’n dokter te sien voordat hulle kan terugkeer werk toe.

Al minder pasiënte gaan haal medikasie vir TB, MIV

Argieffoto.

Die Gautengse departement van gesondheid het intussen aangedui dat al meer pasiënte met tuberkulose of MIV in dié provinsie nie hul medikasie gedurende die algehele landwye afsondering by klinieke of apteke afhaal nie.

Kwara Kekana, woordvoerder van die departement, het in ’n verklaring gesê 1 090 tuberkulose-pasiënte het nie hul medikasie gaan afhaal sedert die instel van die afsondering nie, terwyl 10 950 pasiënte met MIV nie hul antiretrovirale middels gaan afhaal het nie.

“Dit kom neer op ʼn afname van 1,4% vir TB-lyers en 19,6% vir MIV-lyers wat die afhaal van medikasie betref,” het Kekana gesê.

Dié hospitaal behandel meeste Covid-19-gevalle

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Volgens Kekana is die Charlotte Maxeke Akademiese Hospitaal in Johannesburg tans een van die besigste fasiliteite in Gauteng wat die behandeling van Covid-19 betref.

Reëlings word nou getref dat minder komplekse mediese gevalle na die Helen Joseph-hospitaal in Johannesburg of ander streekshospitale verwys word.

Hoewel die meerderheid van kankerbehandeling en pediatriese gevalle by die Charlotte Maxeke-hospitaal voortgaan, sal alle ander operasies by dié hospitaal na ander hospitale verwys word, aangesien die teaterlys ingeperk word weens die Covid-19-pandemie. Dit sluit in ortopediese gevalle, urologiese gevalle en gastro-intestinale endoskopieë.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Delon ·

siende dat kanker en hartaanvalle nog steeds tien keer meer mense doodmaak in die wereld as die sogenaamde covid virus wonder ek waaroor die bohaai nou werklik gaan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.