Covid-19: Soveel kan sterf indien SA nie optree

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Timothy Bernard/ANA)

Deur Nathan Geffen, GroundUP

Navorsers voorspel dat tussen 120 000 en 240 000 Suid-Afrikaners weens die nuwe koronavirus (wat Covid-19 veroorsaak) kan sterf, afhangend van hoe ver die virus versprei. Dit is indien Suid-Afrikaners nie dringend gehoor gee aan die bepalings van die algehele afsondering nie.

Indien 50% van die bevolking in Suid-Afrika die nuwe koronavirus (Covid-19) opdoen, sal byna 240 000 mense in Suid-Afrika na raming weens dié virus sterf. Sou 25% van Suid-Afrikaanse burgers positief vir Covid-19 toets, sal 120 000 na verwagting omkom.

Navorsers aan die Universiteit van Oos-Anglia in Engeland het data van die uitwerking van Covid-19 in China en Italië gebruik om die moontlike aantal sterftes in ander lande, insluitend Suid-Afrika, te skat.

Die span navorsers onder leiding van prof. Peter Lloyd-Sherlock waarsku egter dat dié vooruitskatting met die nodige omsigtigheid hanteer moet word. Die span verduidelik dat aannames bloot gemaak word op grond van ’n bepaalde hoeveelheid kennis oor die Covid-19-pandemie. Volgens die span is wetenskaplikes nog onseker oor hoe vinnig die virus versprei en watter persentasie mense wat positief vir Covid-19 toets, sal sterf.

“Dit is slegs ’n hipotetiese scenario gebaseer op die beste raaiskoot-benadering. Wat ons nie kan voorspel nie, is hoe goed Suid-Afrikaners op hierdie ramp gaan reageer. Baie eenvoudige stappe kan gedoen word om die infeksiekoers te beperk wat duisende lewens kan red,” het Lloyd-Sherlock aan GroundUP gesê.

Volgens dié data sal byna 240 000 mense in Suid-Afrika weens dié virus sterf, indien 50% van die bevolking Covid-19 opdoen. Sou 25% van Suid-Afrikaanse burgers positief vir Covid-19 toets, sal 120 000 na verwagting omkom.

Hierdie berekeninge neem egter nie in ag dat Suid-Afrikaners oor die algemeen armer is as die Italiaanse of Chinese bevolkings nie. Dit is ook onbekend of die hoër getal gevalle van HIV, TB, diabetes en die wanvoeding onder baie mense in Suid-Afrika meer sterftes tot gevolg sal hê. Die meeste mediese fasiliteite in die openbare sektor is ook nie so goed soos dié in Italië of selfs China nie. Om te begryp wat dit beteken vir 240 000 mense om aan Covid-19 te sterf, moet in ag geneem word dat ongeveer 60 000 Suid-Afrikaners in 2020 aan vigs sal sterf. In 2005, toe vigs op sy ergste was, is ongeveer 285 000 mense aan dié siekte dood met ’n gemiddeld van byna 770 mense per dag.

Die aantal sterftes weens Vigs kan ook vanjaar toeneem, sou 50% van die Suid-Afrikaanse bevolking wel Covid-19 opdoen. Die sterftes kan ook binne ’n kwessie van ’n paar maande plaasvind, sou die infeksiekoers al vinniger toeneem.

Prof. Francois Venter, ’n direkteur van die Ezintsha-navorsingseenheid aan die Universiteit van die Witwatersrand, het gesê hierdie ontleding gee Suid-Afrika ’n “voorsprong”. Hy meen dat Suid-Afrika wel die hulpbronne het om in te gryp en die infeksiekoers te verminder. “Ons kan ons nie soos die VSA gedra en ons koppe in die sand steek nie. Ons moet dringend die algehele landwye afsondering ondersteun,” het Venter gesê.

 GroundUp het die berig oorspronklik gepubliseer. Lees die oorspronklike berig hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Venter ·

Die President het volgens my die regte stappe geneem suid afrika moet net saam werk dan wen ons covid 19 kom ons spreek lewe op suid africa

katerinadiekat ·

Daardie sterfte projeksies klink vir my fabelagtig optimisties. Daar is sekerlik meer as 240 000 mense wat aan HIV en TB ly. Dan is daar nog al die oumense en diegene wat chronies sieklik is van ander kondisies.

Michael 1 ·

Konserwatief gestel,bereken die hoeveelheid mense in plakkerskampe en plattelandse afgeleë plekke en hulle bereidwilligheid om die virus te bekamp deur inperking regulasie te wil of kan toepas,dan dink ek ons praat van 6 nulle totale hier.

Jan ·

Gaan kyk in china daars geen nuwe infeksies nie hulle is up en running

JC Venter ·

Gegewe die geografie, ons klimaat, en waar die mense in nedersettings, stede, landelike uitgestrekte gebiede in Suid-Afrika woon, plakkerskampe, is dit realisties dat die verwagte tendens sal vir Suid-Afrika en ander lande dieselfde soos vir Italië en China wees???

Johanncb ·

Hierdie berekenings kan moontlik ook heelwat paniek onder onkundige mense veroorsaak!

Rc ·

Ek het nou al telkemale verneem dat baie sê dat dit net ‘n witmens siekte is……so ons sal maar sien…..

Jaco ·

vreemd, al hierdie wanvoeding, diabetes, TB, HIV, oorbevolking, armoede ens ens. Dis dan 26 jaar na apartheid. Dinge kon mos al veel beter gewees het.
Maar wag ek vergeet, daar was mos geld vir 10 wereldbekersokkerstadions, reusagtige salarisse vir parlementslede, heulery met die Guptas en en en.

Erik ·

Ek wonder net, of hierdie projeksies nou reg is of nie, hoe lank dit sal vat vir dinge om weer terug te keer na ‘normaal’. Veral in Suid-Afrika… Ek wonder hoe lank die ingryping van toepassing gaan bly, hoe lank die skole gesluit sal bly en wonder veral oor die nagevolge van hierdie virus, ekonomies en emosioneel. Ek dink hierdie onsekerhede, wat niemand werklik kan voorspel nie, is wat ons onderkry. Ek sal voorstel dat die regering elke dag ‘n vaste tyd vasmaak wanneer hulle vir ons die nuutste inligting en terugvoer kan gee dan wonder ons nie almal heeltyd nie.

JC Venter ·

Erik, jy is veilig as jy nie meer van die ANC regering verwag as wat hulle die afgelope 25 jaar na die tafel toe gebring het nie. As mens nou ook ‘n grafiek van hul resultate betreffende gesondheid en die ekonomie jaarliks vir hierdie tydperk moet trek en ‘n tendenslyn met verwagting vir die volgende 5 jaar geprojekteer, het ons oneindig moeilikheid, oneindig. Hier kom nog lang, lang trane.

Jan ·

Lyk my niemand van julle sien wat aangaan in china nie…die coronavirus is iets va die verkede en hulle ekonomie is weer aan die gang met omtrent nul nuwe infeksies en dit nadat almal n rukkie trug ook sulke verdoemnede voorspellings gemaak het

Michael 1 ·

Sou hulle nie n kuur vind nie sal China sy grense gesluit moet hou want ander lande waar die virus is se mense gaan weer China se mense aansteek en so gaan die bose kringloop homself hehaal.

Johann ·

Ek reken dat dit heelwat erger gaan wees, maar laat ons nie paniekerig raak nie en/of paniek saai nie en hou net by die maatreels.

Leonard ·

Stem nie saam nie, dis soos sterre voorspel. Plaas mense eerder tyd spandeer en bid as syfers probeer voorspel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.