Covid-19-statistieke: Meeste infeksies nóg bevestig

Gesondheidswerkers by die OR Tambo-lughawe neem ‘n pasiënt se besonderhede by ‘n mobiele toetsstasie. Passasiers met Covid-19-simptome word getoets. (Foto: Luca Sola/AFP)

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Donderdagaand bekend gemaak die meeste infeksies nóg sedert die uitbreking van die Covid-19-pandemie in Suid-Afrika is bevestig.

Altesaam 17 710 gevalle is bevestig – ʼn positiwiteitskoers van 33% – en ʼn neiging wat Mkhize as kommerwekkend bestempel het.

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) het ter verduideliking van die hoë syfer gesê dit word toegeskryf aan meer toetse wat gedoen is. Meer monsters is ook tussen 23 en 28 Desember ingesamel weens ʼn vertraging in toetse oor die Kersnaweek by private en staatslaboratoriums.

Nios het ook gesê die styging in getalle weerspieël ʼn toenemende styging in verskeie provinsies weens die feestyd en kan moontlik selfs verder styg. Donderdag se positiwiteitskoers van 33% is ook effens hoër as die koers van onderskeidelik 30,5% en 31,5% oor die vorige twee dae.

Volgens Mkhize is 53 279 toetse sedert die vorige verslag gedoen en tot dusver is meer as 6,5 miljoen Covid-19-toetse reeds in Suid-Afrika gedoen.

Altesaam 465 Covid-19-verwante sterftes is ook bevestig. Hiervan was 88 in die Oos-Kaap, vier in die Vrystaat, 41 in Gauteng, 144 in KwaZulu-Natal, 16 in Limpopo en 165 in die Wes-Kaap.

Suid-Afrika het nou ʼn bevestigde 28 033 Covid-19-verwante sterftes.

Die herstelkoers staan tans op 83% nadat 867 597 mense reeds van die virus herstel het.

Daar is in hierdie stadium 143 531 aktiewe Covid-19-gevalle in die land.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.