Covid die hond het nuwe poot danksy pionierswerk

Covid die rottweiler met sy kunsmatige poot. (Foto: Verskaf)

ʼn Jong rottweiler wat Covid heet het nou ʼn tweede kans op vol, aktiewe lewe danksy baanbrekerchirurgie by die Onderstepoort-dierekliniek wat aan hom ʼn splinternuwe poot gegee het.

Die driejarige hond is op die herstelpad nadat ʼn kunsmatige poot suksesvol aan sy been geheg is – ʼn groot triomf vir die span by dié veeartsenykliniek van die Universiteit van Pretoria (UP).

Sover bekend is dit die eerste suksesvolle chirurgie van dié aard in Suid-Afrika. Die prosedure bekend as ITAP-chirurgie behels die hegting van ʼn prostese aan die been met behulp van ʼn titanium-inplanting in die murgholte.

Luidens ‘n verklaring van die UP is Covid sommer al klaar weer sy ou self – opgewek en spelerig.

“Sy verligte eienaars sê hy loop en hardloop saam met hul ander honde rond en dat dit geensins lyk of hy enige pyn het nie.”

Die Onderstepoort-span saam met Covid ná sy operasie. (Foto: Verskaf)

Covid het vóór die baanbrekerchirurgie ʼn ernstige besering aan sy regtervoorpoot opgedoen het.

“Almal was maar baie senuweeagtig omdat die gebruiklike behandeling vir ʼn besering van dié ernstige aard gewoonlik amputasie sou wees.

“Hoewel daar in Covid se geval aanvanklik hoop was dat sy poot gered kon word, het tekens van verswakte bloedtoevoer verder aangedui dat amputasie inderdaad sou nodig wees,” lui die verklaring.

Dr. Klaas-Jan van de Wetering, die hoofchirurg, en Covid se eienaars het egter geweet dat ʼn amputasie nie die beste oplossings sou wees nie aangesien groot honderasse met net een voorpoot baie probleme ervaar.

Saam het hulle toe na ander oplossings gesoek om te verseker dat Covid steeds ʼn gehalte lewe kan lei.

Na indringende besprekings en navorsing is daar op ʼn gedeeltelike amputering besluit. Dit sou Covid die ideale kandidaat vir ITAP-chirurgie maak.

Die chirurgie behels die skep en druk van ʼn prostetiese inplanting wat met die geamputeerde ledemaat integreer en dit moontlik maak vir die kunsmatige poot om te heg. Eenvoudig gestel is daar ʼn inplanting in Covid se been geplaas wat by sy vel uitsteek en waaraan die kunsmatige poot geheg kon word. Die wond is egter is toegewerk sodat dit gesond kon werk.

’n Skandering van Covid se been is gedoen, waarna die beelde met behulp van die ortopediese maatskappy, Orthodesign, gebruik is om ʼn doelgemaakte inplanting te skep.

Covid se nuwe prostese suksesvol aangeheg. (Foto: Verskaf)

Dit was uiters belangrik dat die inplanting perfek pas, en daarom is ʼn driedimensionele weergawe eers in plastiek gedruk sodat dit geëvalueer kon word.

Ná ʼn paar klein veranderings is die finale driedimensionele inplanting in titaan gedruk.

Agt weke ná die aanvanklike operasie is die inplanting ingevoeg.

Van de Wetering sê Covid was sterk en dapper tydens sy herstelproses. Daar was natuurlik kommer oor infeksie ná die operasie, maar dit het gelukkig nie gebeur nie.

Covid word egter deurlopend gemonitor om te verseker dat hy nie ʼn infeksie opdoen nie en dat die prostese reg werk. Indien nodig, word vervangings en verstellings aan die prostese aangebring.

Die span werk deurlopend om die prostese te verfyn sodat een uiteindelik gebou kan word wat baie lank sal hou.

ʼn Positiewe Van de Wetering sê voorts dat die sukses van Covid se operasie die weg baan dat ander diere soortgelyke chirurgie kan ontvang.

Die sukses van die chirurgie word toegeskryf aan die bekwaamheid en kundigheid van die betrokke span by Onderstepoort, onder wie Van de Wetering, dr. Elge Bester, dr. Adriaan Kitshoff en die biomeganiese ingenieur Tim Peach van Orthodesign.

Die kundigheid van die teaterverpleegster Adele Rossouw en die narkotiseur Justin Grace het ook tot die sukses van die prosedure bygedra.

’n Gedeelte van die prostese. (Foto: Verskaf)

 

’n Gedeelte van die prostese. (Foto: Verskaf)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jacobus ·

Wel gedaan baie geluk. Kyk wat kan gedoen word as gekwalifiseerde kundige mense saamwerk.

Olive ·

Hoop Covid het ‘n laaang en gelukkige lewe. Dankie aan die briljante engel span wat dit moontlik maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.