Covid nié meer wêreldwye gesondheidsnoodgeval – WGO

Dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die WGO. Foto: (Jean-Christophe Bott/Keystone via AP)

Die Covid-19-pandemie is ná drie jaar en miljoene sterftes nie meer ʼn wêreldwye gesondheidsnoodgeval nie.

“Dit is met groot hoop dat ek verklaar Covid-19 is nie meer ʼn wêreldwye gesondheidsnoodgeval nie,” het dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), Vrydag gesê.

Die blye aankondiging volg nadat die WGO se onafhanklike noodkomitee oor die Covid-krisis tydens sy 15de vergadering Donderdag ooreengekom het dat die krisis nie meer die organisasie se hoogste vlak van waarskuwing regverdig nie.

Tedros het egter gewaarsku dat die aankondiging hoegenaamd nié beteken dat Covid-19 nie meer ʼn gevaar inhou nie en dat die WGO altyd weer sy hoogste vlak van waarskuwing kan uitreik indien die situasie verander.

“Die ergste ding wat enige land nou kan doen, is om hierdie nuus te gebruik as ʼn rede om nie meer op sy hoede te wees nie, om die stelsels wat hy gebou het af te breek, of om die boodskap aan sy mense te stuur dat Covid-19 niks is om oor bekommerd te wees nie.”

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Die VN se gesondheidsagentskap het op 30 Januarie 2020 die eerste keer die virus as ʼn openbare gesondheidsnoodgeval van internasionale kommer verklaar nadat die virus enkele weke vantevore vir die eerste keer in China kop uitgesteek het.

Minder as 100 gevalle was in daardie stadium aangemeld met geen sterftes buite China nie.

Teen 12 Maart 2020 het die WGO Covid-19 tot ʼn pandemie verklaar.

Meer as 6,9 miljoen sterftes en 765 miljoen gevalle is tot op hede aangemeld. Die WGO glo egter die ware syfers is veel hoër.

Die VN-gesondheidsagentskap het verlede week gesê dat Covid-19-sterftes wêreldwyd sedert Januarie met 95 persent afgeneem het. Die virus het egter verlede maand alleen 16 000 lewens regoor die wêreld geëis.

Pasiënte destyds in hospitaalbeddens in tente buite Steve Biko-hospitaal in Pretoria. foto: (Phill Magakoe / AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anel ·

En ons moet julle glo? Daar was nie ‘n pademie nie!!!! So moet ons ook nie dreig om ons weer toe te sluit nie!!!! Laat ek eerder niks verder sê nie, voor my blied weer oorkook!!!

Papsak ·

Daar was nog nooit so virus gewees nie dit was nog maar altyd gewons griep maar nouja hulle was oulik en slim kyk hoeveel dood wie lewens hulle gevat het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.