DA eis onmiddellike debat oor mosie van wantroue in speaker

Nosiviwe Mapisa-Nqakula (Junie 2022) (Foto: GCIS)

Die DA eis dat ʼn mosie van wantroue in Nosiviwe Mapisa-Nqakula, speaker van die parlement, dadelik in die parlement aangehoor en afgehandel moet word.

Die party het verlede week die versoek aan Lechesa Tsenoli, die adjunk-speaker, gerig.

Volgens Siviwe Gwarube, hoofsweep van die DA, is daar nie geen rede waarom ʼn spesiale sitting nie gehou kan word waar daar oor die mosie gestem kan word nie.

“Die parlement het ʼn verantwoordelikheid om die speaker vir haar dade aanspreeklik te hou. Ons kan nie deur die ANC en sy interne prosesse verhinder word om hierdie rol te vervul nie.

“Sodra ʼn mosie ter tafel gelê word, moet daar ingevolge die reëls van die Nasionale Vergadering (NV) sonder versuim daaroor beraadslaag en gestem word.”

Die DA het ook die uitspraak deur die Pretoriase hooggeregshof, wat Mapisa-Nqakula se aansoek vir ʼn interdik teen haar inhegtenisneming van die hand gewys het, verwelkom.

“Hierdie besluit beklemtoon die dringendheid en noodsaaklikheid om voort te gaan met die mosie van wantroue in Mapisa-Nqakula.”

Gwarube sê die hofuitspraak stuur ʼn duidelike boodskap dat die regsproses toegelaat moet word om sy loop te neem en dat mense nie aanspreeklikheid kan ontduik nie.

“Die uitspraak bekragtig die beginsel dat niemand bo die wet verhewe is nie.”

Gegewe die erns van die aantygings teen Mapisa-Nqakula, insluitend 12 aanklagte van korrupsie en geldwassery, moet die parlement die mosie as ʼn saak van dringendheid hanteer, sê Gwarube.

“Die integriteit en geloofwaardigheid van die parlement is op die spel en Suid-Afrikaners verdien ʼn parlement wat die hoogste standaard van aanspreeklikheid en deursigtigheid handhaaf.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hendrik ·

Suidafrikaners verdien ,n parlament wat die hoogste standaard van aanspreeklikheid en deursigtigheid handhaaf.
Pratige woorde, maar het die parlament hul ooit al daaraan gesteur?

Lurock ·

Ek wil net sekerheid kry? Het ek asgewone landsburger ook die reg om ‘n interdik te kry voordat ek in hegtenis geneem word. En kan ek ook steeds buite die hof aangaan asof niks gebeur het nie.

Casper ·

Ja Hendrik,boonop sal sy nie bedank nie en ‘n mosie van wantroue teen haar sal nie slaag nie want sy is ‘n a n c lid.

Papsak ·

Die Parlemente in SA steur hulke aan niks nie draai met alles !!!!?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.