DA ‘hunker na apartheid’ met wetsontwerp, sê ANC

Kaapstad (Argieffoto:
pixabay)

Politieke partye in die Wes-Kaap het opnuut hul misnoeë uitgespreek oor ʼn wetsontwerp wat poog om magte van die nasionale regering na goed funksionerende provinsiale regerings, soos in die Wes-Kaap, af te wentel.

Opposisiepartye is sterk gekant teen die wetsontwerp en het inwoners aangemoedig om dit ook tydens die openbare deelnameprosesse te verwerp.

Die ANC het die wetsontwerp as “ongrondwetlik” bestempel, en een wat deur ʼn provinsiale regering gedryf word wat “hunker na die destydse apartheidsregime”.

“Die Wes-Kaapse wetsontwerp oor magsafwenteling is niks meer nie as ʼn slenter om die diskriminerende beleid van apartheid weer in te stel,” sê Mahlengi Bhengu-Motsiri, nasionale woordvoerder van die ANC.

Bhengu-Motsiri sê regskenners het dit “onomwonde gestel” dat die voorgestelde wetsontwerp teen die Grondwet indruis, maar dat die provinsiale regering dit nogtans dryf.

Die ANC het intussen sy eie regsadvies oor die wetsontwerp ingewin en tot die gevolgtrekking gekom dat die Wes-Kaapse provinsiale wetgewer nie die “gesag of grondwetlike mandaat het om sodanige wetsontwerp te ontwikkel, voor te stel en uit te voer nie”.

“Die wetsontwerp het ook geen grondwetlike grondslag nie, wat dit onwettig en ongeldig maak,” sê Bhengu-Motsiri.

“Gebaseer hierop is dit duidelik dat die Wes-Kaapse regering – dus die DA – se optrede nie net die Grondwet weerspreek nie, maar ook sy beginsels ondermyn.”

Die openbare deelnameprosesse vir die wetsontwerp is reeds onderweg en burgers het tot 29 Januarie om hul insette te gee.

Die ANC sê egter die enigste rede waarom dit al hierdie punt bereik het, is omdat die provinsiale regering “desperaat is om sy ondersteuners te paai – wat teen die Grondwet is”.

Die EFF in die Wes-Kaap het hom ook oor die wetsontwerp uitgespreek en die provinsiale regering gemaan om nie die “gees van eenheid waarop die Grondwet gebou is” te bewapen nie.

Die party het ook ʼn beroep op sy ondersteuners gedoen om die komende openbare verhore, wat tot in Februarie gaan voortduur, te verwerp.

Die Wes-Kaap het in Mei verlede jaar die wetsontwerp voorgestel, wat beoog om ʼn raamwerk vir die Wes-Kaap te skep om sy bestaande grondwetlike, wetgewende en uitvoerende magte te laat geld.

Die wetsontwerp identifiseer ook vyf areas waar die provinsiale regering magte kan oorneem, wat polisiëring, openbare vervoer, energie, handel en hawens insluit.

‘Reg op selfbeskikking’

Die Referendum Party het intussen gesê die mense van die provinsie het ʼn “onvervreembare en onweerlegbare” reg op selfbeskikking.

“Kaapse onafhanklikheid berus op ʼn begeerte van die mense van die Wes-Kaap, waarvan die meerderheid nog nooit vir die ANC gestem het nie, om beheer oor hul eie lot uit te oefen,” sê Phil Craig, leier van die party.

Craig wys daarop dat oudpres. Jacob Zuma die afgelope naweek voorgestel het dat die Oos- en Wes-Kaap tot een provinsie saamsmelt, glo om Wes-Kaapse onafhanklikheid te voorkom.

“Oproepe vir Suid-Afrika om doelbewus te herstruktureer om te verhoed dat die mense van die Wes-Kaap self oor onafhanklikheid besluit, illustreer presies hoe noodsaaklik onafhanklikheid is,” sê Craig.

Die party sê dit is juis Zuma se presidentskap “wat Suid-Afrika in ʼn afwaartse spiraal geplaas het waarvan dit waarskynlik nooit sal herstel nie” wat daartoe lei dat soveel Kapenaars onafhanklikheid ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Chris ·

Die huidige regime se plaat het vasgehaak. Dieselfde ou storie wanneer daar geen wettige/nugtere teenargument oor ‘n saak gemaak kan word nie, is dit apartheid se skuld. So vervelig.

Manie ·

Ek gee nie ‘n tiekie om oor wat die ANC sê nie. Die hele land gaan in ieder geval opbreek soos groeperings keelvol raak vir die ANC. Breek NOU weg en raak onafhanklik.

Republikein in die Wes Kaap ·

Korrek Manie! SA se einde is in sig. Die land is nie lewensvatbaar nie. Die ANC moet hul argumente in Den Haag self begin toepas. Die skroewe moet nou gedraai word.

Charles ·

Ons hunker na n’ veilige, skoon land, met bekwame leiers en gesonde ekonomie ensovoorts…

Jacobus ·

Jy is reg Manie, apartheid sal die enigste wa wees waarop hierdie terroristiese anc regime kan ry. Hulle die anc moet verklae word by hierdie Den Haagse hof vir volksmoord. Vat hulle net na daardie koppie met die duisende wit kruise vir elke boer en boervrou en jong kinders wat in hierdie land deur n terroris verkrag, gemartel en vermoor is.

George ·

Anc het nog nie hul hande op ons gelde hier nie, nie so erg nie, en hul kort nou mos nog!

Nettie ·

En wat is fout daarmee om nie meer onder die huidige regering te wil aanhou swaarkry nie?

Prikkie ·

Weet die ANC nou nog nie dat die apartheid perd vrek gery is en nie meer die skuld kan dra van ‘n bevrydingsorganisasie (wil hulle eintlik iets anders noem …) wat ‘n totaal onbevoegde regering geword het nie?

Johan ·

Die ou liberale Kaapland darem,eers gooi julle ons in die gemors en nou wil julle ons aan ons eie lot oorlaad. Sonder die Weskaap,gaan dit net erger word hier in die binneland, die Afrikaner se enigste magsbasis is in die Kaap. Sterkte met jul OosKaap saamsmelting, julle gaan n paar jaar vorder in jul vernietiging, selfs inhaal met die res van ons.

Janine ·

Jip! Ek hunker na die dae wat ek VEILIG in die nag kon loop as ‘n tiener. EK hunker na die dae wat ek VEILIG was, ongeag WAAR ek was. Dit maak ons rassiste???????

Republikein in die Wes Kaap ·

Johan, samesmelting met die Oos-Kaap is Zuma se twak idee.

Adriana ·

In die apartsheidsjare het alles reg gewerk. Staatsdepartement het geweet hoe om diens te lewer, vandag is hul bankrot, jy het ń polisieman vertrou as jy ń probleem gehad het,nou hardloop jy weg van hul, dit was veilig om rond te loop in jou woonbuurt nou kan jy nie, daar was altyd elektrisiteit net as daar ń probleem was en dan heg hul jou laat weet, wat gebeur nou, donkerte, die land was skoon en netjies, nou is dit ń ashoop, paaie vol potholes, skole en medies was van hoogste gehalte, ons was ń 1ste wêreld land, nou ń hool. Wat verwag die ANC moet ons hul bedank vir die gemors waarin ons is

Danie ·

n Absolute spul idiote.
Waar staan dit in die grondwet dat dit onwettig is?
Die anc is meesters om tussen die lyne te lees soos dit hulle pas.

christo ·

Ons hunker nie na apartheid nie. Ons hunker na wet en orde, ons hunker na voorstedelike treine en hawens wat doeltreffend funksioneer , ons hunker na ‘n skoon regering sonder vetgevrete korrupte politici en staatsamptenare en geen slaggate.
Die rede hoekom mense na die Weskaap toe verhuis is nie oor Apartheid nie, maar ‘n skoon regering, waar alles heel is enn korrupte politici uit die party geskop word en nie net herontplooi na ‘n ander kader ‘job’ om hulle korrupsie net voor te sit nie.
Het jy al ooit ‘n maer ANC politieke leier gesien wat nie vet gevoer is op belastinggeld nie.
Al die ander ANC provinsies is ‘n totale gemors.
Wat van die grondwet se reg om jou toe te laat om jou vrye assosiasie met enige wettige organisasie ?
Die groot vraag is of daar ooit ‘n referendum in 1910 was om te besluit dat die Natal, OVS, Transvaal en die Kaap saam gevoeg word tot die Unie van Suid-Afrika?

Republikein in die Wes Kaap ·

Christo, jy opper ‘n belangrike punt wat die kern kan wees vir debatte oor selfbeskikking. Die twee boererepublieke en twee Britse kolonies is met London se druk in die Unie gedompel wat reeds in 1910 gedoem was tot mislukking. Ironies was Natallers erg teen die Unie, maar het geswig onder Britse druk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.