DA klop Good naelskraap in George

Moekie Windwaai

Die DA het Woensdag ʼn tussenverkiesing in wyk 20 van die George-munisipaliteit in Wes-Kaapland net-net gewen toe hy Good (die nuwe party onder leiding van Patricia de Lille) met ʼn meerderheid van net agt stemme verslaan het.

Die tussenverkiesing is met ongewoon groot aandag dopgehou deur belangstellendes in die politiek, en die vraag op almal se lippe was of dit ʼn aanduiding sou gee of die groei van identiteitspolitiek in vanjaar se algemene verkiesing (soos veral vergestalt in die groei van die EFF onder sommige swart kiesers, maar ook die groei van die VF Plus onder sommige wit Afrikaanse kiesers) ʼn tendens word wat die meer middelpuntsoekende partye wat setels in die algemene verkiesing verloor het (veral die ANC maar ook die DA) in die toekoms kan laat krimp.

Woensdag se tussenverkiesing in die woonbuurt Heidedal in George is veroorsaak deur die bedanking van die sittende raadslid, Mercia Draghoender, uit die DA om by Good aan te sluit.

Draghoender is ʼn baie bekende, gerespekteerde en gedugte politikus wat al aan verskeie partye behoort het en baie prominent is in spesifiek die politiek van die Suid-Kaap.

Sy het in haar lang loopbaan as raadslid vir die wyk ook verskeie leidende politieke ampsposisies in die stadsraad van George beklee, asook verskeie verbeteringsprojekte tot stand gebring in die wyk, wat bestaan uit ongeveer ʼn driekwart bruin en ʼn kwart swart kiesers, van wie die oorgrote meerderheid se ekonomiese posisie wissel tussen arm en werklik sorgbehoewend arm.

In 2016 se munisipale verkiesing het Draghoender die wyk vir die DA gewen met 1 028 stemme (49,6% van die totaal) gevolg deur die ANC met 634 stemme (30,6% van die totaal), die EFF met 54 stemme (2,6% van die totaal) en ʼn George-gebaseerde party genaamd die Plaaslike Besorgde Inwoners (PBI) met 35 stemme (1,7% van die totaal).

Woensdag het Moekie Windwaai (DA) gewen met 731 stemme (32,6%) teen 723 (32,2%) vir haar voorganger, Draghoender, wat hierdie keer Good se kandidaat was. Die ANC, wat die enigste swart kandidaat gestel het, het 512 stemme (22,8%) getrek met die Plaaslike Besorgde Inwoners wat opgeskiet het na 258 stemme (11,5%), die EFF wat teruggesak het na 13 stemme (0,6%) en die African Covenant Party (ACO) wat 8 stemme gekry het (0,4%).

Dit beteken die DA het sowat 17 persentasiepunte steun ingeboet vergeleke met 2016, die ANC het agt persentasiepunte steun ingeboet en die EFF het met twee persentasiepunte verswak. Die Plaaslike Besorgde Inwoners het met 10 persentasiepunte gegroei terwyl Good en die ACO vir die eerste keer deelgeneem het en dus niks het om hul uitslae mee te vergelyk nie.

Die DA én Good was baie tevrede met die uitslag. Aan die DA se kant was die party uiters verlig dat hulle deur die standhoudendheid van partystrukture en ervare verkiesingsorganiseerders gelei deur die DA-LP Geordin Hill-Lewis die knoop kon deurhak teen Draghoender, wat as byna onklopbaar sterk in haar tuisgemeenskap beskou is.

Die uitslag word voorts deur die DA beskou as ʼn aanduiding dat die wyk se kiesers genoeg waardering het vir verbeteringe onder DA-bewind dat dit lojaliteit aan ʼn persoonlikheid getroef het. Bonginkosi Madikizela, Wes-Kaapse leier van die DA, het almal wat vir die DA gestem het, bedank. Hy belowe die party en die nuwe raadslid sal deur harde werk die vertroue waardig wees.

Die DA se verkiesingsveldtog is benadeel daardeur dat die bestuur van die George-stadsraad die afgelope tyd verswak het en nie die DA tot trots is nie. Binnegevegte is algemeen en die aanduidings van wanbestuur en korrupsie deur sekere ampsbekleërs is so sterk dat die Spesiale Ondersoekeenheid, die Valke, ʼn paar dae gelede ʼn klopjag op die stadsraadskantore uitgevoer het.

In die geledere van Good is daar opgewondenheid en trots omdat hulle die grote DA so amper verslaan het. Good het werklik alles ingesit. Byna alle nasionale Good-leiersfigure, onder wie De Lille en selfs die gewese Springbokafrigter Peter de Villiers (wat namens Good ʼn afrigtingskliniek vir plaaslike rugbyspelers aangebied het) het stemme gewerf.

Good se nasionale organiseerder, die parlementslid  Shaun August, het die veldtog gekoördineer en sy veggenote, die ewe gedugte veldtogorganiseerder Shireen August, het die afgelope vyf weke in George gewoon om die leisels styf te hou.

Benewens die bykanse wen is verdere goeie nuus vir Good dat hulle klaarblyklik ook stemme by die ANC en die EFF afgerokkel het, nie net by die DA nie, en dat hul ondersteuners ook blykbaar ʼn noemenswaardige aantal swart kiesers ingesluit het.

Of hierdie tussenverkiesing ʼn vroeë aanduiding kan wees dat die era van bykans noodwendige DA-oorwinnings in die Wes-Kaap verby kan wees, sal die tyd en tussenverkiesingsuitslae elders in die provinsie moet wys. Uiteraard lyk hierdie uitslag se syfers asof die DA aan’t verswak is.

Wes-Kaapse plattelandse gemeenskappe het egter uiters uiteenlopende streekseienskappe en 70% van die provinsie se kiesers woon in die Kaapse metro. Boonop sou die DA se spesifieke probleme in George se stadsraad, asook Draghoender se sterk rekord en persoonlike aanhang in die wyk, die DA benadeel en Good bevoordeel het.

Vir Good wys hierdie uitslag die wiele is aan die rol. Ondanks minder geld en onervare stemwerwers het die party bitter amper gewen. Die aantal Good-ondersteuners wat van oral opgedaag het om kiesers by die stempunte te kry, wys ook dat partylede buitengewoon geïnspireer is om die party te help.

Vir die ANC en die EFF is die nuus sleg. Hul bruin ondersteuning in die Wes-Kaap is op die laagste vlak sedert 1994 en besig om min of meer te verdwyn.

Vir die Wes-Kaapse verkiesingswaarnemer lyk die uitslag na ʼn aanduiding dat die stryd om die bruin stem – en by name die plattelandse bruin stem – dalk gaan wegbeweeg van beleidsargumente en kan terugkeer na die soort persoonlikheidsgedrewe, dikwels vuil straatpolitiek uit die era toe die DA, die ANC en De Lille se destydse Onafhanklike Demokrate nog mededingend om veral die plattelandse bruin stem meegeding het (in die Kaapse metro staan die DA sterker in oorwegend bruin gebiede).

Die volgende verkiesingstryd in ʼn oorwegend bruin Wes-Kaapse plattelandse wyk is hoeka een van die dae op Barrydale, met die grootste partye weer almal in die wedloop, hierdie keer in ʼn ANC-beheerde wyk.

En vir die res van die land? Dit lyk al meer asof geen party meer ʼn wyk as ʼn volkome veilige wenkans kan beskou nie, want die stempatrone wil lyk of hulle versplinter. Verlede week se VF Plus-oorwinning in die myndorp Stilfontein in Noordwes – die eerste wyk wat die party in agt jaar wen – kan byvoorbeeld ʼn aanduiding wees dat meerderhede vir die VF Plus nie meer so ondenkbaar is as wat dit die afgelope tien jaar was nie, met (as jy vanjaar se algemene verkiesingsuitslae in detail verreken) spesifiek realistiese kanse op wykoorwinnings vir die VF Plus in gebiede waar die destydse Konserwatiewe Party (KP) sterk vertoon het, byvoorbeeld die twee munisipaliteite in die land waar die VF Plus in totaal meer stemme as die DA gekry het, naamlik Mamusa (gesetel in Schweizer-Reneke, dr. Pieter Mulder se setel vir die KP in die vorige bedeling) en Kgetlengrivier (Koster).

As die uitslag in George ʼn moontlike aanduider kan wees dat DA-oorwinnings in die meeste plattelandse bruin dele van die Wes-Kaap nie meer noodwendig is nie, is die uitslag twee weke gelede in Embalenhle by Secunda op die hoëveld van Mpumalanga dalk ʼn rigtingwyser dat die swart stem in sekere gebiede – soos die wit en bruin stem in ander gebiede – aan’t skuif is van die middel af. Die EFF het naamlik in Embalenhle binne 30 stemme daarvan gekom om die ANC te klop.

Mens sal moet sien of die onlangse tendense in Stilfontein, Secunda en nou ook George rigtingwysers of uitskieter-uitslae is. Indien hierdie vroeë tendense egter sou voortduur, kan dit beteken dat (met die uitsondering van oorwegend wit, Engelse wyke vir die DA en oorwegend swart plattelandse wyke in dele van die Oos-Kaap vir die ANC) die uitslag in geen wyk in hierdie land meer so voorspelbaar is as wat dit die afgelope tien jaar was nie.

As dit so sou wees, sal dit die kleiner partye opgewonde en die groter partye bekommerd maak in die aanloop tot die munisipale verkiesing van 2021, wat weliswaar nog ʼn ent weg is, maar elke dag nader kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Cherokee ·

Dit bring ‘n glimlag want ek is nie ‘n DA- of Good- aanhanger nie. Dit is weliswaar so dat die neiging is by kiesers om tydens munisipale verkiesings vir dienste te stem en in nasionale verkiesings om politieke redes. Dit is ook so dat die blanke DA-ondersteuners deel is van die traer witmense; soos die wat glo tydens die wel besproke referendum was daar net drie kiesers, De Klerk, Meyer en Botha. En ek wens mense wil ophou om aan partye te behoort maar eerder slegs lede daarvan wees. Hierdie is baie interessante nuus. Nuus wat die DA nie tot weleer strek nie.

Nico ·

Kan draghoender nog ernstig opgeneem word. Sy het omtrent in elke politieke party in George gedien. Ja sy is ook een van daardie dieners wat net vir haar self werk en nie omgee oor die inwoners nie.

Andre ·

Ja …hulle val rond vd een na die ander party…net om geld…gn beginsels en waardes…good party …maar nes die res vd partye…Good for nothing

Christo ·

Politiek opportuniste. Dit gaan oor mag en geld. Ek dink daar is bitter min politici in die land wat slegs ‘dien’* vir die geld. *Bitter min sou stadsraadslede gewees het indien hulle, soos in die vorige bedeling, slegs ‘n paar Rand vir uitgawes sou kry en dan nog steeds ‘n ‘day job’ moes gehad het om te oorleef.

schaun ·

Die DA se dae is getel jy kan mense net so lank om die bos lei dan boet jy onthou wat van kortbroek en en die np geword het.

jaco ·

tel al die party wat teen die DA gestaan het se stemme bymekaar, dan is dit duidelik dat hulle saam MEER stemme as die DA gekry het. dis die absurditeit van die Britse “first past the post” kiesstelsel. Proporsionele verteenwoordiging is baie meer regverdig.
Dis juis weens dié “first past the post” kiesstelsel wat die Nasionale Party in 1948 laat wen het, met die minderheid stemme. en toe begin hulle met apartheid…

Sak ·

Natives Land Act (No: 27)1913
Jammer Jaco, Apartheid was nie deur die Nationale Party geformuleer nie. Hulle het dit slegs deurgevoer. Dis deur die Britte ingestel.

“The Natives Land Act was passed on 19 June 1913. The Act’s most catastrophic provision for Africans was the prohibition from buying or hiring land in 93% of South Africa.”

Manie van Worcester ·

Nuwe anc arm het baie stemme gekry maar blou anc kon darm nog wen en ou malema se rooi anc :siestog

Bianca ·

Hahaaa…jaa lag maar lekker vir die DA mense!
Élke,maar élke politieke party, hét sý VEEL party kandidaat of twee, wat soos kiepiemielies rondspring agter n beter pot aan,die VF + inkluis!!!
Ou antie Pat,haarself en Peter Marais is n goeie voorbeeld hiervan

KrokodilBotha ·

So daar is wat agterkom hulle koffie is lankal koud. DA het baie skade aangerig vir te lank. Die sirkus gaan nog aan met beloftes en liberale draadsitters. Daar sal nooit n reenboog nasie wees nie. Nie 20 jaar terug of n duisend jaar vorentoe nie.

Anita ·

Hoera…die DA is besig om spoed te verloor en GROOT, ek het DA gestem maar soos veel ander uit geen liefde maar vir die Kaap, Me. De lille kan die DA laat tuimel, ons woonbuurt betaal eiendoms belasting en dit word nie by ons aangewend nie maar iewers anders. Ons voel dat hier op die punt Gordonsbaai ons belasting vir ons moet aan gewend word en die verbetering van ons agter geblewe buurte rondom ons….die DA is besig om af te sak teen ‘n geweldige spoed.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.