DA-LP vas wat glo huis beskadig, huurders teister

Die skade aan die huis. (Foto: Verskaf)

’n DA-LP is vandeesweek in hegtenis geneem vir die kwaadwillige beskadiging van ’n eiendom in Soweto in Johannesburg.

Die ANC het Dinsdag in ’n verklaring die polisie en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) bedank ná die inhegtenisneming van Tsepo Mhlongo. Mhlongo is tans lid van die portefeuljekomitee vir sport, kuns en kultuur.

Sechaba Khumalo, ANC-raadslid, sê in die verklaring Mhlongo het vanjaar gereeld ’n huis in Orlando-Oos besoek, nadat die eienaar van dié huis hom genader het vir hulp om ’n dispuut tussen haar en ’n huurder te besleg. Die eienaar is sedertdien oorlede.

“Mhlongo het toe die geleentheid aangegryp om die huidige huurders, die eienaar se seuns, uit die huis te swendel en daarop aangedring dat dit sy huis is omdat hy dit [voor die eienaar se dood] by haar gekoop het,” voer Khumalo aan.

Volgens Khumalo het Mhlongo die inwoners van die huis aangesê om die woning te ontruim aangesien hy opknappingswerk aan die huis wil doen. Die eienaar se seuns het egter bewyse gelewer dat die huis wel nog aan hul oorlede ma behoort.

Dit is toe dat Mhlongo op 13 Junie vanjaar saam met verskeie makkers die huis beskadig het voordat gemeenskapslede ingetree het.

Khumalo se hulp as raadslid is in dié stadium ingeroep, maar Mhlongo wou nie met hom óf die polisie saamwerk nie, verduidelik Khumalo.

Die skade aan die huis. (Foto: Verskaf)

“Die polisie is versoek om verklarings van die [eienaar se seuns] te kry sodat die departement van justisie ’n beslissing oor die saak kan maak om die probleem op te los. Daar is egter tot dusver geen terugvoer ontvang nie. Ten spyte hiervan teister Mhlongo steeds die huurders,” sê Khumalo.

Mhlongo het Maandag aangevoer dat een van die huurders hom aangerand het en ’n saak teen die seun aanhangig gemaak. Albei die seuns is toe in hegtenis geneem en Dinsdag op borgtog van R500 elk vrygelaat.

“Die NVG het weereens getoon dat niemand bo die wet verhewe is ​​nie, maak nie saak watter status u in die gemeenskap het nie. Ons gaan ook voort om die parlementslid Tsepo Mhlongo aan die speaker van die parlement en die komitee vir etiek aan te gee,” sê Khumalo.

“Die onwettige uitsettings in en om Soweto moet end kry. Ons versoek dus die dringende ingryping van die LUR vir menslike nedersetting in Gauteng om ons te help om dit te beëindig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Judge Dredd ·

Hoe meer swart LP’s die DA kry hoe meer sal ons dit sien – onthou – vir baie van hulle is dit net “a job” en toegang tot ander “geleenthede” en selfverryking . Nie omdat hulle noodsaaklik glo in die DA party beleide.

Johan Maritz ·

NVG julle moenie leuens vertel nie want ANC lede is wel bo die wet verhewe kyk net na al die korrupsie en niemand is nog inhegtenis geneem nie. Hulle enigste tronksel is die parlement

Karel ·

Ja-nee kyk, die DA is inderdaad n party vir ALLE mense. Van die Engelse high society in Kaapstad tot die komminste van die komminste.

Kerneels ·

Dis hoekom ek se kyk na die kandidate voor jy stem. Dis die mense wat jou gaan verteenwoordig. Baie mense het groot fout op stemdag gemaak. Maar dis nou te laat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.