DA nader Wada oor volkslied, vlag

Aanhangers vermom soos ʼn springbok en ʼn protea tydens die HSBC-Sewesreeks 2023-toernooi by die DHL-stadion in Kaapstad (10 Desember 2022) (Foto: Rodger Bosch/AFP)

Die Demokratiese Alliansie (DA) het beslissend opgetree oor die ANC-regering se versuim om aan die Wêreldagentskap teen die gebruik van verbode middels (Wada) se sperdatum te voldoen.

Solly Malatsi, die nasionale woordvoerder van die DA, sê die DA het in ʼn brief aan Wada formeel sy kommer gedeel oor die voortgesette nienakoming van wetgewing teen die gebruik van verbode middels in sport sodat dit voldoen aan Wada se jongste vereistes.

Maroela Media het vroeër berig die Suid-Afrikaanse regering het die sperdatum misgeloop om sy wetgewing aan te pas om met dié van Wada te strook. Die hersiene wetgewing, waaroor ooreengekom en deur meer as 700 sportfederasies wêreldwyd aanvaar is, het in Januarie 2021 in werking getree. Wada se uitvoerende komitee het ná ’n vergadering op 22 September bekendgemaak dat Suid-Afrika en Bermuda egter steeds nie die kode bygewerk het nie. Die nuwe sperdatum vir die lande is 13 Oktober.

Indien die land nie aan die sperdatum van 13 Oktober voldoen nie, sal die Springbokke en die Proteas die gevaar loop om nié die Suid-Afrikaanse vlag by die onderskeie Wêreldbekertoernooie te hys nie – en ook nie die nasionale lied mag sing nie.

Malatsi sê die volgehoue nienakoming laat ernstige vrae ontstaan oor Suid-Afrika se verbintenis tot skoon en etiese sportpraktyke.

Denis Joseph, DA-LP, het proaktief dié kwessie aangeroer en die ANC-regering gewaarsku oor die hersiene Wada-regulasies in ʼn geskrewe vraag aan die minister in 2022 en die kwessie benadruk in die 2023-begrotingstoesprake.

“Dit is teleurstellend dat die regering versuim het om die nodige stappe te doen om dié noodsaaklike kwessie aan te roer. Suid-Afrikaanse atlete en sportorganisasies sal op die internasionale verhoog hierdeur benadeel word.”

Volgens Malatsi sal die DA sy eie wetgewing in die parlement voorlê om Suid-Afrika te belyn met die jongste Wada-regulasies.

“Om die wetgewende proses te fasiliteer en seker te maak dat Suid-Afrika aan internasionale verpligtinge voldoen, het die DA in sy skrywe uitstel van Wada versoek om te voldoen aan die vereiste om aan die kode in nasionale wetgewing te voldoen. Ons glo dat dié uitstel nodig is om verdere skade te voorkom aan ons land se beeld in sport en om voldoende tyd te bied vir die wetgewende prosesse.”

Malatsi voeg by as die amptelike opposisie in die parlement is die DA tot die hoogste standaarde van integriteit in sport verbind en om seker te maak dat Suid-Afrika aan internasionale standaarde voldoen wat verbode middels betref.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

annie ·

Die DA probeer nou in ‘n heilige alweter en regter te verander soos ‘n ongenooide skoolhoof op ‘n kinderpartytjie. Die ANC haat hul reeds en die wit bevolking gaan ly. Die volgende verkiesing kan deur bloedvergieting gekenmerk word.

vuurvliegie ·

DA moet asb stop.
Ek en miljoene Suid Afrikaners sal daarvan hou as daar GEEN volkslied en SA vlag is op die WB beker nie.

Bolandse Nooi ·

En ek sal daarvan hou as Ierland die WB huistoe neem. Die gelapte-transformasie-gerigte Springbok span met hul Neandertalman-kaptein staan my g’n aan nie!

Delia ·

Catherina, elke klein bietjie help. Maar met die houding van n losing battle, kan ons maar handdoek ingooi voor ons begin. En ek sal nie WANT ek is n Suid Afrikaner. Ons gaan nie lê

domheks ·

Maar net weereens ‘n bewys dat cANCer politisie net die steoel warm sit en geen werk verrig nie! Skande anc!

Papsak ·

As ek nooit weer daai lied hoor of daai vlag sien nie sal dit vir my te gou wees doen weg

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.