DA oor Sheila: ‘OVK moet verduidelik’

Sheila Senkubuge

Die DA het gesê hy neem kennis en aanvaar die bedanking van Sheila Senkubuge, Tshwane se burgemeesterskomiteelid vir paaie en vervoer.

Senkubuge het Saterdagoggend haar bedanking aangekondig nadat dit vroeër onthul is dat sy nie ʼn Suid-Afrikaanse burger was toe sy in 2016 ʼn DA-raadslid geword het nie. Sy het die afgelope week onder skoot gekom nadat ʼn storm losgebars het oor haar beweerde seksuele eskapades met Stevens Mokgalapa, burgemeester van Tshwane, wat op spesiale verlof geplaas is.

John Moodey, leier van die DA in Gauteng, het gesê sy party het kennis geneem dat ʼn private individu ʼn klagte aanhangig gemaak het rakende die bewerings dat Senkubuge as ʼn kieser geregistreer is terwyl sy nog nie ʼn genaturaliseerde Suid-Afrikaner was nie.

“Die OVK (onafhanklike verkiesingskommissie) moet sy prosesse in dié verband verduidelik en die reg moet sy gang gaan,” het Moodey gesê.

Maroela Media het vroeër berig Senkubuge het eers in 2018 ʼn Suid-Afrikaanse burger geword nadat sy reeds twee jaar ʼn DA-raadslid in Tshwane was en ook op die burgemeesterskomitee gedien het.

Dit het ook aan die lig gekom dat Senkubuge tans met twee verskillende identiteitsnommers op die OVK se kieserslys geregistreer is en dus twee keer in ʼn verkiesing kan stem.

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, sê dit is nie net teen die Verkiesingswet dat ʼn nie-Suid-Afrikaanse burger op die kiesersrol verskyn nie, maar dit is ook onwettig en ongrondwetlik dat ʼn persoon wat nie ʼn burger is nie as ’n raadslid verkies word.

“Die VF Plus sal in gesprek met die OVK tree om te bepaal hoe dit moontlik is dat ʼn nie-burger toegelaat is om as kieser te registreer en ook om as kandidaat te staan.

“Indien hierdie bewerings korrek is, is dit baie duidelik dat daar ʼn ernstige leemte in die OVK se stelsel is om te verifieer wie toegelaat mag word as kieser en wie nie.”

Groenewald het gesê verder is dit duidelik dat die OVK se stelsel ook die land faal indien ʼn persoon wat meer as een ID-nommer het meer as een keer op die kiesersrol kan verskyn. “Hierdie kan ʼn voorbeeld wees van duisende moontlike ander gevalle waar nie-burgers op die RSA se kiesersrol is en dus toegelaat word om te stem in Suid-Afrikaanse verkiesings.”

Die DA het moontlik die wet oortree deur ʼn persoon wat ten tye van die verkiesing nie ʼn Suid-Afrikaanse burger was nie as kandidaat te benoem, as raadslid te aanvaar en verder ook as lid van ʼn burgemeesterskomitee aan te stel, meen Groenewald. “Indien dit waar is, plaas dit die DA se kandidaat-keuringsproses onder verdenking.”

Die VF Plus het gesê hy sal die saak verder neem en daarop aandring dat die OVK voldoende stelsels implementeer om soortgelyke gebeure in die toekoms te vermy.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Nico Strydom ·

Dagsê Ian
Jammer vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.
Vriendelike groete
Maroela Media

Bendons ·

Dit is dan moontlik dat die ANC miljoene dubbel stemme het.
Ek bid elke and vir ons almal in SA.

potlood ·

Die DA is dieselfde as die ANC, en dit gaan my verstand te bowe hoekom enigeen vir die 2 partye sal wil stem

Pen ·

Potlood, as jy in Wes-Kaap bly sal jy weet waarom ons vir DA stem. Daar word voordurend ons paaie, parke en omgewing verbeter en onderhou!!!

Feite ·

Sonder die DA as buffer tussen links en regs kan sake in SA aansienlik ingewikkelder raak. Hoe dit dus ookal sy, SA het n DA party op nasionale vlak nodig en dit is daarom uiters belangrik dat die DA sy huis in orde kry!

bokka ·

Beslis anders sal ons maar net vir ‘n ander gematigde nie-rassige party moet stem. Dit kan ‘n probleem wees want ‘n party soos Cope het nie dieselfde kwaliteit leiers as die DA nie.

Sarel ·

Bedank=;nou is sy skotvry geen stappe of terugbetaling van onwettige salaris nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.