DA-raadslid geskors ná herrie oor Israel-uitlating

Mpho Phalatse, DA-raadslid en lid van die Johannesburgse burgemeesterskomitee, is geskors. Foto: Twitter

Mpho Phalatse, DA-raadslid en lid van die Johannesburgse burgemeesterskomitee, is geskors nadat sy namens die stad haar ondersteuning vir Israel uitgespreek het.

Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, het Phalatse geskors omdat sy ʼn omstrede uitlating in dié verband op Twitter gemaak het sonder om met die party oorleg te pleeg of goedkeuring van die DA te kry. Sy het ook na bewering Sondag tydens ʼn Vriende van Israel-vergadering haar ondersteuning van Israel namens die stad bevestig.

Phalatse het Maandag op Twitter geskryf: “I would like to declare that I am a friend of Israel, and the city of Johannesburg is a friend of Israel! Shalom Shalom!”[sic]. Dié twiet het tot ʼn hewige bekgeveg op Twitter gelei met DA-ondersteuners wat woedend gereageer het en een pro-Israel-gebruiker wat gedreig het om die party te help opbreek.

“Die DA val uitmekaar. Ons het vriende binne jul party wat nie kan wag om ʼn manier te vind om jul haatdraende party te vernietig nie. Binnekort,” het NO2BDS.ORG getwiet.

Die ANC het hom ook sterk uitgelaat teen Phalatse se uitsprake. “Ons veroordeel hierdie gedrag van die burgemeesterskomiteelid en distansieer ons onomwonde hiervan,” het die party gesê.

“As die ANC in Johannesburg herhaal ons ons solidariteit met die mense van Palestina. Ons veroordeel Israel se besetting van Palestina en die dekades lange volgehoue onderdrukking van die Palestynse volk.”

Die Stad Johannesburg, wat onder die DA se beheer is, het ʼn vennootskap met die Stad Ramallah in die Israelies besette Wesoewer, wat wesenlik die hoofkantoor van die Palestynse owerheid is.

Die EFF het ook Phalatse se uitsprake veroordeel, terwyl Phalatse se kollegas in die DA haar ook gekritiseer het.

Yusuf Cassim, die DA-jeugleier, het aan African News Agency (ANA) gesê hy gaan ʼn klag teen Phalatse indien. “Die DA se provinsiale leier, John Moodey, gaan ook klagte indien,” het Cassim gesê.

“As lede van mening is dat ʼn partylid buite hul mandaat optree, het hulle die reg om klagte in te dien. Dit is ʼn regverdige proses vir almal.”

Phalatse se uitlatings kom te midde van Israel se stryd teen ʼn veldtog van Boikotte, Disinvestering en Sanksies (BDS) teen Israel wat hom beywer vir sanksies teen die land oor sy behandeling van die Palestyne en wat die beweging as Israel se “apartheidsbeleidstellings” bestempel.

Israel glo Suid-Afrika is ʼn sleutelrolspeler om die BDS-veldtog te versterk weens sy burgers se sterk simpatie vir die Palestyne. Talle Suid-Afrikaners meen die Palestyne ly tans op dieselfde manier as swart en bruin mense gedurende die apartheidstydperk in Suid-Afrika.

Israel se departement van strategiese sake het onlangs ʼn pro-Israel-veldtog in Suid-Afrika geborg nadat Gilad Erdan, Israel se minister van kommunikasie, Suid-Afrika daarvan beskuldig het dat die land “terroriste” ondersteun. Die departement het van 3 tot 10 Junie dié pro-Israel-veldtog in Suid-Afrika gehou.

Volgens berigte spruit Phalatse se pro-Israel-standpunt gedeeltelik uit hierdie veldtog.

Die ANC het in reaksie hierop Israel gekap oor die land se “inmenging” in Suid-Afrika se politiek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

117 Kommentare

jongste oudste gewildste
Danie

Jy verander jou naam van Filistyn na Palestyn en dan is onmiddellik van alle skuld onthef. Die ironie was toe dat aanspraak op grondgebied ook toe daarmee heen is.

Kannaland

Ek raai sy is betaal om dit te doen om die DA opsetlik skade aan te doen.

HPV

Ek is ook ‘n vriend van Israel, broers in oorlog.

Vriend van Israel

Ek is ook ‘n vriend van Israel…. maak nie saak wat SA se regering sê nie.

PLP

Tragies Tragies Tragies, mag geen persoon in SA meer iets se nie. Elke keer as iemand sy mond oopmaak oor iets wat heelwaarskyknlik jou eie opinie is word jou mond gesnoer. Jy word geskors, jy word gevangenis straf opgele. Mag ek vra wat het van Vryheid van spraak geword. Ek se nie beledig n persoon nie. Ek mag tog sekerlik my eie opinie lug