DA se Jhb-speaker uitgeskop

Vasco da Gama is deur ‘n mosie van wantroue as speaker verwyder. (Foto: joburg.org.za)

Die speaker van die Johannesburgse metroraad, Vasco da Gama, is laatnag in ʼn mosie van wantroue uit sy pos geskop. Hy is ʼn DA-raadslid.

Die verwikkeling kom kort nadat die DA ook in Knysna ʼn bloutjie geloop het met sy burgemeester en onderburgemeester wat in mosies van wantroue die trekpas gekry het.

Die PAC het die mosie by die Johannesburgse raad ingedien en dit is deur verskeie partye, onder wie die ANC en die EFF, gesteun. Lede van die DA, ActionSA en die VF Plus het hul steun aan Da Gama gegee.

Die kantoor van die Johannesburgse burgemeester, Mpho Phalatse, het Donderdag gesê Da Gama het die raad op “onberispelike wyse” gedien.

Die DA-geleide meerderheidskoalisie het 140 setels in die Johannesburgse metroraad, maar net 132 raadslede het teen die mosie van wantroue gestem, terwyl 136 stemme ten gunste daarvan tydens die stemmery uitgebring is.

“Ons neem met groot skaamte kennis dat sekere lede van die koalisieregering ten gunste van die mosie gestem het en ons is ook bewus daarvan dat daar voor die mosie bewerings van omkopery was. Dit sal in ʼn beëdigde verklaring uitgestippel word,” lui ʼn verklaring van die burgemeesterskantoor.

Die koalisieregering het inwoners ook die versekering gegee dat hy voortgaan met sy werk om die stad op te knap en te herstel en dat dit nie geraak sal word deur die uitslag van die mosie teen Da Gama nie.

Die koalisieregering sal ook nabetragting doen oor wat nou moet gebeur omdat Johannesburg nie “kan bekostig om teruggegee te word aan ʼn kabaal wat eiebelang bo die behoeftes van die stad se ses miljoen inwoners plaas nie”.

Maroela Media het vroeër berig die DA is Woensdag in die koalisieregering in Knysna onttroon toe ʼn mosie van wantroue teen burgemeester Levael Davis en onderburgemeester Mark Willemse ook geslaag het.

Die ANC se Aubrey Tsengwa het nou die leisels as burgemeester by Davis, ’n DA-lid, oorgeneem terwyl Alberto Marbi van die PBI nou as onderburgemeester sal dien.

Die speaker van die Knysna-munisipaliteit, Julie Lopes, is ook van die raad verwyder en is met Mncedisi Skosana van die ANC vervang. Hierdie stap volg op ’n mosie van wantroue deur Beauty Charlie van die PA.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Swerwer ·

Die sogenaamde politikuste wat so onder mekaar veg moet net besef dat daar net een ware leier is en sal wees en dit is Ons Hemelse Vader. God het elke mens geskspe, ongelukkig het die mensdom so afvallig geraak dat God nie meer deel is van die daaglikse lewe nie. Die Toring van Babel is besig om hom te herhaal maar hierdie keer uit ‘n Polities geoorenteerde geveg.

Althes ·

Ek bid dat die morele verval in SA gestop word. Die ANC en ANC-Lite (EFF) het ñ slegte voorbeeld vir die jeug

annie ·

Eintlik sal net ‘n streng outokratiese magsbestel wat wet en orde met ‘n ysterhand afdwing in Afrika werk. Demokrasie is ‘n Hollywood-droom. Sjina ontwikkel juis net omdat mense beheer word en ‘n gees van samehorigheid móét heers. In ‘n heterogene konkoksie soos by ons en met Afrika wat steeds ‘n antieke toordokter-siening huldig dat kabouters snags potte vol goud net by witmense aflewer en nie by hulle nie en wat net deur chaotiese bestuur en vergrype reggestel kan word, sal ons agteruitboer tot by dag-zero.

Nie Verbaas ·

Ja, en in China word hoë amptenare tee dood veroordeel vir korrupsie. Hoef niks verder te sê nie.

duiweboer ·

Knysna, Johannesburg, Twane volgende. Dit spreek boekdele van die leiders kap van die DA. Die uittog van goeie leiers uit die DA voorspel Baie sleg vir die DA. Hulle Sal nie eens 20% in die opkomemde verkiezing kry nie Vandat Steenhuizen in beheer is nie.

Kobus ·

Hier is ‘n tendens wat daarop dui dat die partye nou voluit gaan om die DA te elimineer. Dit gaan nie oor “wat” is reg nie maar “wie” is reg. Ek sien in my geestesoog ‘n klein brakkie wat blaf en wanneer die groot honde mekaar aanvat hardloop hierdie brakkie stert tussen die bene weg. Elkeen kan maar self dink wie maak die grootste lawaai maar lewer geen positiewe bydrae nie. Die DA moet hulle huis in orde kry sodat koalisies nie nodig is nie.

Mariana ·

En so werk die ANC se plan. Beïnvloed die swakkes en werk die uit wat wel iets beteken. Mosies van wantroue is darem nou skielik baie en oral steek dit kop uit. DA sal moet mooi dink oor hul volgende stappe.

Di ·

Die EFF en ANC werk nou saam om die DA orals uit te skop. Nou gaan die mense sien hoe vinnig gaan hierdie plekke agteruit. Soort soek soort – Korrupte, useless spul wil orals in beheer wees om dit wat nog oor is te vernietig.

Marthinus W ·

Jhb se begroting is groter as party lande se nasionale begroting. Hier is baie geld ter sprake. En gevestigde belange. My broer moes Jhb se water- en ligterekening regruk. Na n paar maande het hulle sy werk n “miracle” genoem, maar toe begin die kabaal hulle aanslag: my broer is deur die finansbestuurder gedwing om op sy kniee te gaan en om verskoning te vra (dat sy goeie werk die vinger na die bestuurder wys); n sekere swartvrou het aangedring om aangespreek te word as “u edele”, en almal moes elke oggend voor haar buig; n swartman het n verslag van die korrupsie opgestel – toe hy die middag by sy kar kom, was die verf met ‘n spyker gekrap, en n nota op die venster: as jy die verslag indien, verkrag ons jou vrou en dogter, en brand dan die huis met hulle daarin af, en dan kom ons vir jou… die verslag is vernietig. My broer is toe vervang, maar dit het sy gesondheid geknak; hy is ‘n twee jaar later dood.

Veronika ·

Ag nee DA wat de hel gaan nou met julle aan!!?? Dis nou wat kom van koalisies!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.