DA sê SAL het slegs een opsie – likwidasie

(Argieffoto: Henk Kruger/ANA)

Die departement van openbare ondernemings het Donderdag gesê hy is bewus van ʼn vergadering van die krediteure wat belê is om die toekoms van die reddingsplan vir die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) te bespreek en betogings wat Vrydag buite die lugdiens se kantoor geskeduleer word.

Die departement het gesê pogings om finansiering te bekom duur voort.

“Die departement bly simpatiek en gedagtig aan die lot van SAL-werknemers,” het Sam Mkokeli, woordvoerder van die departement van openbare ondernemings, gesê.

Hy het gesê die departement glo die sleutel tot die oplossing van die probleme by die SAL is dat die sakereddingsplan gefinaliseer en geïmplementeer word; gevolg deur die begin van ʼn geherstruktureerde lugdiens, aanstelling van ʼn nuwe raad en uitvoerende span; en ʼn geloofwaardige strategiese vennoot wat die vereiste tegniese, finansiële en bedryfservaring kan bied.

Mkokeli doen ʼn beroep op werknemers en die krediteure om geduldig te wees terwyl ʼn konstruktiewe uitslag gevind word.

Alf Lees, DA-LP, het gesê die party neem kennis van die jongste “kennisgewing aan betrokke persone” deur die SAL se sakereddingspraktisyns dat korttermynfinansiering van die regering nog nie gematerialiseer het nie en dat die krediteure versoek sal word om die toekoms van die lugdiens te oorweeg.

“Vrydag se vergadering met SAL se betrokke personeel, soos belê deur die SAL se sakereddingspraktisyns, moet een item op die agenda hê: voorbereiding om die SAL te likwideer,” het Lees gesê. “Dit is duidelik dat niemand die bankrot SAL gaan red nie. Dit is duidelik dat die beloftes wat op 14 Julie 2020 deur die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan en die minister van finansies, Tito Mboweni, aan die sakereddingspraktisyns gemaak is dat die bykomende finansiering van R10,4 miljard, bo en behalwe die R16,2 miljard-reddingsboei uit die belastingbetaler se sak waarvoor daar reeds begroot is, wensdenkery was. Hulle het nog nie ʼn stommerik gekry wat bereid is om die R10,4 miljard-finansiering te verskaf wat nodig is om die dooie SAL te red nie.”

Lees het gesê Gordhan en Mboweni het net een opsie oor en dit is ʼn verdere reddingsboei van die belastingbetaler in die mediumtermynbegrotingsbeleid (MTBPS) in Oktober 2020. “Ons inligting is dat:

– Die departement van openbare ondernemings formeel aansoek gedoen het by die nasionale tesourie vir die R10,4 miljard wat nodig is om die SAL te red, soos vereis deur die sakereddingsplan;

– Voor die krediteure enige besluite Vrydag, 18 September 2020, maak, sal minister Gordhan die krediteure versoek om die sperdatum van die sakereddingsplan uit te stel tot 21 Oktober 2020, die datum van die MTBPS. Hierdie versoek sal waarskynlik gemotiveer word op grond daarvan dat onderhandelings met finansierders in ʼn gevorderde stadium is sonder om bekend te maak dat die finansierders weereens die belastingbetaler sal wees;

– Die krediteure, wat niks het om te verloor nie, en sommige, soos die werknemers wat voordeel hieruit trek, sal instem tot ʼn verdere uitstel;

– Minister Mboweni en die nasionale tesourie het nie ingestem dat hierdie reddingsboei van die belastingbetaler by die MTBPS-wysigings ingesluit word nie;

– Die ANC sal minister Mboweni opdrag gee om die R10,4 miljard by die MTBPS in te sluit en Mboweni sal geen ander keuse hê as om daartoe in te stem nie; en

– Die ANC sal seker maak dat belastingbetalers die las dra van toenemende soewereine lenings en die betrokke rente wat terugbetaal moet word.”

Lees het gesê indien pres. Cyril Ramaphosa se regering ernstig is oor strukturele ekonomiese hervorming, is die likwidasie en sluiting van bankrot entiteite soos die SAL ʼn goeie plek om te begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kokerboom ·

Dit gaan my verstand te bowe dat mens so roekeloos en onverskillig kan omgaan met skaars hulpbronne wat in die geval nie eers bestaan. En dan vertrou ons die mense om ‘n lande te bestuur terwyl mense honger ly, nie werk het, besighede toemaak, infrastruktuur vervalle is en die algemene vlak van moedeloosheid in die rooi is. Wat maak die paar SAL werknemers so spesiaal bo die derduisende meer wat hul werk verloor het???!!! Bestaan realisme en redelikheid nog in SA?

gatgogga ·

Die SAL is die kaders se “getaway car”, vir wanneer our people hulle wil bykom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.