DA stuur aanmaning oor onteieningswetsontwerp

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Die deurvoer van die onteieningswetsontwerp gister in die parlement was maar net weer ʼn bewys van die ANC se minagting van ons Grondwet en spesifiek artikel 25, ons eiendomsreg.

Só sê Annelie Lotriet, die DA se adjunk-hoofsweep.

“Die ANC doen dit bloot net om stemme te werf, aangesien hulle steun duidelik besig is om te daal. Die DA is reeds besig om saam met ons prokureurs ʼn brief vir die president saam te stel dat hy, voor hy die wetsontwerp onderteken, hy dit terugverwys na die Nasionale Vergadering om die grondwetlikheid te toets.”

Die DA meen die wetsontwerp is ongrondwetlik, hou ʼn direkte bedreiging in vir die Handves van Regte en sal nie die grondwetlike toets in ʼn hof slaag nie.

“Ramaphosa se ANC-kamerade in die parlement wil hê hy moet ʼn onwettigheid goedkeur. Dit is teenstrydig met sy ampseed waarin hy verklaar het dat hy die Grondwet sal nakom, sal waarneem, sal handhaaf en onderhou deur die regte van alle Suid-Afrikaners te beskerm en te bevorder.”

Lotriet sê dit gaan die verstand te bowe dat die ANC, verkeerdelik, kan dink dat hulle onteiening sonder vergoeding deur die wetgewende agterdeur kan instel, ondanks ʼn duidelike rooi lyn wat hulle waarsku dat hulle artikel 25 van die Grondwet sal skend. Dié artikel bepaal dat eiendom “slegs onteien kan word onderworpe aan vergoeding”.

“Ondanks sterk kapsie deur die DA, het die ANC ʼn voorwaarde by die wetsontwerp ingesluip wat onteiening met nul-vergoeding toelaat. Hierdie deursigtige poging deur die ANC om te oorkompenseer vir sy versuim om die artikel 25-wysigingswetsontwerp deur te voer, is ʼn direkte misbruik van die wetgewende proses en ʼn venster oor die ANC se daling na wetteloosheid.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.