Dankie, Stormers!

Mooi, Manie! Die Stormers het vir Ulster met 17 – 15 geklop. Foto: Twitter

Die stadionhorlosie het op 86 minute en 35 sekondes in Kaapstad gestaan toe Manie Libbok se voet die bal op die skopkelkie getref het.

’n Sekonde of twee later is hy deur sy feesvierende spanmaats omhels – die Stormers het vir Ulster in ’n naelbytstryd met 17 – 15 geklop om hul plek in die eindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) te bespreek.

En die rugbyfynproewers in Wallis, Skotland, Ierland en Italië beter nou wegkyk, want danksy die Bulls se heldedade gisteraand teen Leinster sal die trofee sy pad na ’n Suid-Afrikaanse vertoonkas vind.

Libbok se skop teen die einde van die wedstryd het gewys dat hy ’n speler vir die groot oomblik is want – kom ons wees eerlik – in die aanloop tot dié belangrike doelskop het hy nie juis die wêreld aan die brand gespeel nie.

Hy het twee doelskoppe saam met ’n skepskoppoging in die eerste helfte verbrou, terwyl sy swak skop na die kantlyn ook ’n belowende Stormers-aanval gekniehalter het.

Maar die belangrikste skop van die wedstryd het oor die dwarslat geseil en alles wat vooraf gebeur het, is ongetwyfeld binne ’n oogwink vergeet en vergewe.

Tog het elke suksesvolle doelskop sy oorsprong in ’n drie en Warrick Gelant se puik afrondingswerk in die 85ste minuut van die wedstryd was te danke aan die tuisspan se volgehoue druk wat hulle op die Ulster-doellyn geplaas het.

Vóór al die heldedade het die Stormers dinge met tye vir hulself moeilik gemaak: Adré Smith is met ’n rooi kaart van die veld gejaag nadat ’n verdwaalde vinger of twee (of drie) hul pad na ’n teenstander se gesig gevind het, terwyl hulle ook net nie verby die uitstekende Ulster-verdediging kon kom nie.

Terselfdertyd het ’n hele paar toeskouers ook hul misnoeë met Mike Adamson se skeidsregtervertoning te kenne gegee. Was daardie aangee wat tot Rob Baloucoune se drie in die eerste helfte gelei het vorentoe of nie?

Maar wanneer ’n belangrike kragmeting op só ’n skouspelagtige wyse láát in die wedstryd beklink word, kan jy maar die vergrootglas en mikroskoop wegbêre – ons kan later na die foute soek.

Want vanaand word daar fees in die Kaap en in Pretoria gevier; die trofee gaan in Suid-Afrika staanplek kry.

  • Puntemakers:

Stormers: Drieë: JJ Kotze, Evan Roos en Warrick Gelant. Doelskop: Manie Libbok.

Ulster: Drieë: Rob Baloucoune en Stewart Moore. Doelskop: John Cooney. Strafskop: Cooney.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Manie ·

Baie geluk aan beide die Bulle en Stormers. Maak nie saak wie volgende naweek wen nie, dis goed vir SA rugby.

SjN ·

Geluk Stormers, kan gelukkig wees, die laaste drie was daar obstruksie gewees, die man is uitgehaal!!!

piet ·

Stormers moes ‘n strafskop of ‘n strafdrie gekry het omdat ‘n Ulster- speler op die wendrie-drukker gespring/geval het nadat die drie gedruk is. Ulster se een drie was ook nie ‘n drie nie weens ‘n besliste vorentoe aangee.

piet ·

Welgedaan aan beide ons spanne. Ek het dit nie voorspel aan die begin van die seisoen nie weens die hordes spelers wat ons oorsee verloor. Die beker kom SA toe, dit wil gedoen wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.