Khalid Galant, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport (Saids), sê hulle sal later ʼn volledige verklaring uitreik om te bevestig dat Impey vrygespreek is.
Impey het in Februarie tydens die Suid-Afrikaanse padkampioenskap in Durban positief getoets vir die verbode middel Probenecid. Dit word glo gebruik as ʼn diuretikum (ontwateringsmiddel) en verbloemingsmiddel.
“Dit is die beste nuus om aan my familie, vriende, span en ondersteuners oor te dra,” het Impey Vrydag op Twitter gesê.
Hy het verlede jaar geskiedenis gemaak toe hy die eerste fietsryer van Afrika geword het om die geel trui in die Tour de France te dra.
“Hoewel ek nooit die laboratorium se uitslae en die bevindings betwis het nie, is ek in ‘n baie moeilike posisie geplaas om my saak te stel as gevolg van streng aanspreeklikheid,” het Impey op sy webwerf gesê. Hy sê hy was uiteindelik in staat om te bewys dat dit ‘n geval van kruisbesmetting was en dat hy vrygespreek is van enige skuld of nalatigheid.
Volgens Impey was dit die moeilikste twee maande van sy lewe en dat hy finansieel groot verliese gelei het. “Dit was vir my hele familie moeilik. Ek was vasbeslote om te wys dat ek skoon is en dat ek nooit sal kul om ʼn voorsprong bo my mededingers te kry nie. Ek is so verlig dat dit nou bewys is.”
Baie bly saam met jou, familie, span en ondersteuners. Eerlik en harde werk is nog altyd beloon.
Lekker trap en mooi prestasies in die toekoms.
Hoeveel geld het Daryl as gevolg van sy skorsing verloor? Gaan die apteker wat die verbode medikasie “per ongeluk” aan Daryl gegee het, gedagvaar word vir skade vergoeding?
Hierdie is die begin van baie wenne