Soorte resepte:

De Rustica se olyfolie beste ter wêreld

Die coratina-olyfolie van De Rustica. (Foto: Facebook)

Deur Megan Swart

Die olyfboerdery De Rustica, in die klein Karoo-dorpie De Rust in die Wes-Kaap, se ekstrasuiwer olyfolie is vanjaar as die “absoluut beste Dieolyfolie ter wêreld” aangewys.

Die boerdery het sy bekroonde coratina-olyfolie by die internasionale Evooleum-kompetisie in Spanje ingeskryf. Die kompetisie beoordeel die gehalte van olyfolies van oor die wêreld, insluitend dié uit Spanje wat op sy eie meer as die helfte van die wêreld se olyfolie produseer.

Vanjaar se onafhanklike paneel het uit 26 beoordelaars uit tien lande bestaan. Die beoordelaars het ʼn duisend verskillende olyfolies geproe voordat die top‑100 gekies is. Uit hierdie 100 olies is ʼn hele aantal toekennings in verskillende kategorieë gedoen en dit wissel van kultivar tot styl.

Suid-Afrika se De Rustica is aangewys as die beste enkelkultivar, beste coratina, beste mengsel van groen en ryp vrugte, asook die beste olyfolie van Suid-Afrika.

“De Rustica se produk is as algehele wenner van die kompetisie aangewys en het in al die ander kategorieë uitgeblink,” sê Rob Stil van De Rustica.

“Nommer een uit al duisend inskrywings!”

Volgens Stil getuig hierdie toekenning van die De Rustica-span se geesdrif en toewyding aan die lewering van ʼn gehalteproduk.

“In ʼn internasionale mark wat oorheers word deur die Mediterreense streek, spreek hierdie prestasies boekdele van die gehalte van Suid-Afrikaanse olyfolie,” sê hy.

“Dit is nie net ʼn ongelooflike prestasie vir De Rustica nie, maar ook ʼn betekenisvolle prestasie vir Suid-Afrika en die ganse land se olyfbedryf.”

De Rustica het sy deure in 2006 geopen en het sedertdien verskeie toekennings – plaaslik en internasionaal – vir sy uitstekende olyfolie ingepalm.

Die olyfolie word vervaardig met olywe uit boorde wat oor 140 hektaar strek.

Links na regs: Ignacio Seguar, ‘n olyfolie-konsultant, en Kallie Frey van De Rustica. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.