Debat oor die staatsrede; hier’s wat jy kan verwag

DA-leier John Steenhuisen. (Foto: Armand Hough/ANA)

Oor die inhoud en standaard van Donderdagaand se staatsrede, en oor die EFF se vertraging daarvan, verskil die menings. As jy egter regtig wil weet wat die stand van die land is, is die debat oor die staatsrede – wat van Dinsdag tot Donderdag plaasvind – die beste manier om vas te stel. Veral as jy weet om ʼn paar dinge dop te hou.

Dit is die langste debat van die jaar en elke party stuur al sy beste sprekers in. Elke party se leier praat in die debat. Weet dit, vanjaar se debat gaan nie vervelig wees nie, veral omdat die land se tekortkominge so duidelik en maklik is om te verstaan, en omdat die ander partye so siedend kwaad is vir die EFF.

Die debat word ingelui deur Doris Dlakude, adjunkhoofsweep van die ANC en een van die party se mees bedrewe politieke sprekers. Dan kom die leier van die opposisie, John Steenhuisen van die DA, aan die beurt. Steenhuisen se begrip van die parlement en hoe om op skerp en pittige maniere die meeste daarvan te maak, maak hom baie Suid-Afrikaners se gunsteling- parlementêre spreker.

Jackson Mthembu aan die woord tydens die 2019 debat oor die staatsrede. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Dis waarskynlik juis daarom dat die ANC direk ná Steenhuisen sy beste maker van parlementêre vegterstoesprake, Jackson Mthembu, instuur om te kolf. Hy is een van die min LP’s wat Steenhuisen op sy plek kan sit en enige skade behoort te kan herstel wat die DA-leier aangerig het.

Direk ná Mthembu volg die EFF-leier Julius Malema. Sy kritiek op die ANC slaan gewoonlik die seerste en is dikwels meer trefseker as die planne wat die EFF as alternatief voorstel. Malema kan ʼn kil ontvangs van die ander partye verwag – daar is geen simpatie met hoe hulle Donderdagaand die staatsrede deur hul vertragings laat sloer het sonder dat enigiets bereik is behalwe om almal se tyd en die land se geld te mors nie.

Hul beledigende gedrag teenoor oudpres. FW de Klerk is deur alle ander partye (behalwe die piepklein ATM) veroordeel.

Die oudste lid van die parlement, die 92-jarige Mangosuthu Buthelezi, volg op Malema. Buthelezi was Donderdag siedend kwaad vir Malema, en as die EFF-leier weer vir De Klerk beledig, sal Buthelezi sy stertvere pluk.

Dan kom Noord-Kaapse premier Zamani Saul, wat wyd as die beste ANC-premier beskou word, aan die beurt voordat dr. Pieter Groenewald die VF Plus se saak sal stel.

ʼn Lang lys sprekers kom daarna, onder wie ACDP-leier eerw. Kenneth Meshoe, Good-leier Patricia de Lille en DA-hoofsweep Natasha Mazzone.

Die debat behoort tot so agtuur vanaand te duur, en die president sal Donderdag repliek lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.