Die departement van basiese onderwys het Maandag bewerings ontken dat sommige skole in Limpopo nog nie handboeke ontvang het nie.
“Dit is nie waar dat skole nog nie handboeke ontvang het nie,” het Elijah Mhlanga, woordvoerder vir die departement, in ʼn verklaring gesê.
Meer as 6.5 miljoen handboeke is in 2014 afgelewer en ʼn bykomende 306 000 is bestel om tekorte aan te spreek.
“Ons erken dat daar sommige skole is wat in Februarie tekorte aangemeld het, en bestellings is geplaas en afgelewer.”
Mhlanga sê meeste van die 18 000 boeke wat skole nie gehad het nie, is handboeke wat die skole aan die einde van die jaar moes terugontvang van leerlinge. “Die tekorte wat aangemeld is, is boeke wat nie eers in die katalogus is nie,” het Mhlangu verduidelik. “Dit is ongewoon om tekorte te hê sodra aflewerings plaasgevind het.”
Burgerregtegroepe sal na verwagting Dinsdag die departement van onderwys in Limpopo in die Pretoriase hooggeregshof dagvaar nadat hy glo versuim het om handboeke af te lewer. Altesaam 23 skole het gesê hulle benodig nog 18 000 handboeke. -SAPA